Superrugby: Bulls stel weer teleur, dié keer teen 14 man

Roelof Smit was een van die Bulls se beter spelers. (GB Jordaan)

Miskien was hulle nie heeltemal so vrot soos verlede naweek se neerlaag teen die Jaguares in Argentinië nie, maar die Bulls het Saterdag met nog ʼn onaanvaarbare lustelose vertoning die Brumbies laat baasspeel.

ʼn Uiters dom rooi kaart deur die Brumbies se Folau Fainga’a sowat 18 minute voor die einde het nie die uitslag geraak van wat vir die Bulls ʼn groot terugslag was om die uitspeelrondes te haal nie.

Die Brumbies het met 38-28 gewen.

Trouens, dit was of die Brumbies uit die rooi kaart vir ʼn kopstamp teen Matthys Basson, wat werklik nie ernstig was nie, nuwe lewe geput het en twee pragdrieë gaan druk het. Hulle is aangehelp deur die Bulls se onvermoë met power duikwerk en algemene verdediging.

Die Brumbies se uitstaande speler was Tom Banks, wat op die aanval en verdediging uitgeblink het.

Die Brumbies het gewen nadat hulle vyf neerlae in ʼn ry gely het. Hulle het boonop die Bulls van ʼn bonuspunt weerhou en sodoende waarskynlik die einde gebring aan die tuisspan se hoop om die uitspeelrondes te haal.

Die Bulls was teleurstellend. Hulle het met rustyd met 14-10 voorgeloop, maar kon ondanks die eerste helfte se gebied- en besitoorheersing nie ʼn goeie voorsprong opbou nie. In die tweede helfte is hulle toe deur die Brumbies stukkend gespeel.

Die Bulls het, soos verlede week, in die skrums gesukkel omdat Lizo Gqoboka beseer was en Pierre Schoeman drie weke gelede geskors is omdat hy ʼn teenstander gebyt het.

Die Bulls se verdediging, soos hierbo genoem, is ontbloot deur die sprankelspel van die besoekers wat die besit uitstekend en gereeld omgekeer het.

Maar iets wat meer behoort te pla, is dat die tuisspan in die twee helfte minder as 30% besit gehad het; in die losskrums heeltemal oorheers is; en weer in die skrums verniel is.

Trouens, die Bulls is in elke faset behalwe die lynstane oorheers, en hulle afrigter John Mitchell se aanvanklike sukses met die span is nou besig om vinnig te vervaag.

Puntemakers
Bulls (14) 28: Drieë: Handré Pollard, Roelof Smit, Johnny Kotze. Strafdoele: Pollard (3). Doelskoppe: Pollard (2).
Brumbies (10) 38: Drieë: Kyle Godwin, Lachlan McCaffrey, Folau Fainga’a, Tom Banks, Andy Muirhead. Strafdoel: Christian Leali’ifano. Doelskoppe: Leali’ifano (3), Wharenui Hawera (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Hulle moet net leer pale toe skoep en nie in hulle kwart gebied speel nie

Derick ·

Nee wat, sluit maar Loftus se hekke. Bulle rugby is lankal nie meer dieselfde nie.

Frans C ·

Die Bulle moes die een gewen het en het ‘n gulde geleentheid deur hul vingers laat glip
met swak spel en veral verdediging.Die manier waarom die Brumbie heelagter laagvatte
oopgeruk het en met blote vaart selfs vir Galant in die stof laat byt het,voorspel niks goed vir die Bokke nie.
Banks se manier van speel laat ‘n mens terug dink aan die spel van Chris Latham,wat netso ‘n doring in die vlees van baie spanne was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.