Superrugby: Burger Odendaal moet die vonk verskaf

Burger Odendaal – moet van voor af lei. (Foto GB Jordaan)

Wanneer ʼn rugbyafrigter sy kaptein kies, word dit met ʼn doel gedoen, om die span te lig wanneer hy in die loopgraaf lê en met die rug teen die muur is.

En wanneer die Bulls Vrydag in Hamilton in die Superrugbywedstryd teen die Chiefs speel, moet Burger Odendaal na vore tree.

Dis hoekom die afrigter, John Mitchell, hom as kaptein (en senter) gekies het, om leiding te gee, met voorbeeld te lei, die vonk aan te steek, te sorg dat die span nie in sy ou gewoontes verval nie.

Odendaal het die afgelope twee wedstryde vanweë ʼn ribbesering misgeloop (die Bulls het albei verloor). Hy het volkome herstel en nou moet hy die vertroue wat Mitchell in hom gestel het, bevestig.

Ja, hedendaagse spanne word soos robotte afgerig, maar steeds speel ʼn besielende kaptein ʼn baie groot rol, soos Thys Lourens destyds by die Blou Bulle, Dominee Dawie (De Villiers) by die Springbokke, Francois Pienaar in 1995 en John Smit in 2007 en 2009.

Een van die Bulls se groot probleme is dat daar te veel, te vinnig van die span verwag word. Dis alles goed en wel om die bal rond te gooi, want dis die pad vorentoe, maar nie met karige besit nie.

Dalk sal dit Mitchell loon om die brieke ʼn bietjie aan te draai, sy voorspelers meer in te span (onthou gerus hoe die Lions die Bulls drie weke gelede met rolmale verfomfaai het en hoe die Reds die Bulls se skrum in trurat gedwing het).

En dis waar die beseringsgeteisterde Chiefs se swakplek is – en Mitchell behoort dit te weet, want hy het immers 134 keer tussen1985 en 1995 vir Waikato (Chiefs) gespeel.

Boonop maak die 20-jarige losskakel Tiaan Falcon sy buiging.

Sy pa, Gordon Falcon, het 74 wedstryde vir Bay of Plenty (nog voor die dae van Superrugby en franchise’e) gespeel asook vir die Nieu-Seelandse Maori. Sy oupa, Ray Falcon, het 40 keer vir Bay of Plenty gespeel en het ook die Maori-trui met trots gedra.

Die druk sal op die jongeling wees om tuis te oortuig. Plaas dus die druk op hom, hou hom in die visier, probeer sy gebrek aan ervaring uitbuit.

Die Bulls het geen goeie vertoningslys teen die Chiefs nie en het drie van hul onlangse vier wedstryde (die ander een was gelykop) teen die Chiefs verloor.

Dís hoekom Odendaal moet opstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.