Superrugby: Chiefs gee die pas aan, Aussies ploeter voort

Sunwolves v Chiefs (Foto: SuperRugbyNZ/Twitter)

Dit gebeur elke seisoen ná ʼn Wêreldbekerjaar: die gehalte van die Superrugbyreeks laat veel te wense oor.

Daar is heelwat redes daarvoor, soos die groot getal internasionale spelers wat óf halt geroep het, óf in Brittanje, Frankryk en Japan speel.

Dit gaan ’n seisoen of twee neem om die gate toe te stop, om die skade te herstel, om nuwe helde na vore te laat tree, om nuwe spelpatrone te ontwikkel.

Dan speel die reënweer in Australië (hulle verdien die reën deur en deur ná die onverbiddelike veldbrande) en die warm bedompige weer in Durban ook nie saam nie, want dit is onsinnig om reeds die einde van Januarie en aan die begin van Februarie rugby in die Suidelike Halfrond te speel.

Geoordeel aan die naweek se uitslae oorsee, is die Chiefs en Crusaders weer die pasaangeërs in Nieu-Seeland en die Hurricanes kry al hoe meer die etiket as skoorsoekers, soos in hul kragmetings met die Stormers en Sharks bewys is.

Die vier Australiese spanne gee ʼn mens steeds sooibrand en kom ons wees eerlik, daar is bitter min hoop, of altans so kom dit voor.

Die Brumbies vaar die beste in Australië en die Sunwolves blaas in Japan steeds ʼn vars briesie met hul vol stadions en ondernemende spel, al verloor hulle ook al.

* Die Chiefs het juis Saterdagoggend in Tokio die enigste onoorwonne Nieu-Seelandse span gebly toe hulle die Sunwolves met 43-17 geklop het. Die Chiefs bring darem ʼn bietjie vernuwing en onder die nuwe afrigter, Warren Gatland, lyk hulle vaardig en lus om te speel, om drieë te druk. Dalk, net dalk, is hulle besig om hul glorieryke dae van ʼn paar jaar gelede te laat herleef.

*Die Crusaders het die Blues Vrydag met 25-8 geklop en hoewel daar nog baie leemtes is sonder Ryan Crotty, Ben Franks, Sam Whitelock, Matt Todd, Jordan Taufoa en Kieran Read, is hul speltroon byna dieselfde.

Die jongelinge lyk darem goed afgerig en hulle gebruik hul kanse wat na hulle kant toe kom.

* Die Brumbies is in Canberra met 23-22 deur die Highlanders geklop, die vyfde keer in ʼn ry dat hulle ‘n opeenvolgende nederlaag teen die Highlanders ly.

Maar ai, dit was ‘n geploeter en as ‘n paar rolmaalbewegings van die enigste hoogtepunte was, is daar mos rede tot kommer.

* In Melbourne het die Rebels hul derby Vrydag teen die Waratahs met 24-10 gewen. Die eens veelgeroemde Waratahs is nou niks minder nie as papiertiere. Hulle is besig om span te bou en jongelinge kans te gee, maar hoe bou jy selfvertroue op as jy weekliks verloor, nie in die vaste fasette jou man kan staan nie en voortbou op ‘n drieëdroogte?

* Vir die rekord: die Nieu-Seelandse spanne het ná drie rondes 48 drieë gedruk, die Australiërs 35 en die vier Suid-Afrikaanse spanne net 21. Die Stormers moet darem nog Saterdagmiddag teen die Lions speel en dié wat weet, sal sê waar staan die Wêreldbeker.

Maar gaan dit genoeg wees om die televisiebase te oortuig om miljoene in ‘n afgewaterde produk te bly pomp?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.