Superrugby: Crusaders en Lions bly die beste

Courtnall Skosan – al hoe nader aan die Bokspan. (Foto GB Jordaan)

Dis sal darem baie onregverdig wees as die twee voorste spanne in vanjaar se Superrugbyreeks, die Crusaders en Lions, nie in die eindstryd teen mekaar speel nie.

Die Crusaders (54 ligapunte) het hul neus voor die Lions (51) gehou nadat hulle onderskeidelik die Chiefs Vrydag met 31-24 geklop het en Lions die Bulls Saterdag op Ellispark met 51-14 afgeransel het.

Die Crusaders is ná die naweek se wedstryde steeds die enigste onoorwonne span, het 65 drieë gedruk en net 27 afgestaan, terwyl die Lions net een keer verloor,  56 drieë gedruk en 24 afgestaan het.

Soos sake ná die naweek staan, sal Crusaders in die kwarteindwedstryde teen die Sharks speel, die Lions teen die Highlanders, die Stormers teen die Chiefs en die Brumbies teen die Hurricanes.

Sake kan nog baie verander, want van die spanne moet nog teen mekaar speel.

Kom ons som die naweek se wedstryde op:

Lions 51, Bulls 14: Daar is sprake in die wandelgange op Loftus dat Nollis Marais se dae as afrigter ná die Superreeks getel gaan word.

Een van die Bokke se hulpafrigters Johann van Graan het Vrydag glo ʼn baie indrukwekkende voorlegging gedoen om die Bulls uit die wildernis gelig. Maar gaan die ondersteuners nie skinder dat Van Graan, ondanks sy deugde as afrigter, die pos kan kry omdat hy Barend van Graan,  die uitvoerende hoof, se seun is nie?

My uitgangspunt is dat dit glad nie ter sprake moet kom nie, want Van Graan, wat destyds deur Heyneke Meyer ‘grootgemaak’ is, het die afgelope paar jaar goeie werk by die Bokke as voorspeler-afrigter verrig.

Die Lions het nie hul gelyke in Suid-Afrika nie en as die nasionale keurders hul huiswerk behoorlik doen, behoort Andries Coetzee, Ruan Combrinck,  Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Elton Jantjies, Ross Cronje,  Ruan Dreyer, Malcolm Marx, Franco Mostert en Warren Whiteley (ook as kaptein) in die Bokspan vir die drie toetse teen die Franse te wees.

En die Bulle? Kry tog ʼn aanvals- en verdedigingsafrigter om te help, want om net 25 drieë te druk en 45 af te staan, hoort mos nie by die Bloues nie. Jesse Kriel en Jan Serfontein darem hul talente uitgestal, terwyl  Rudy Paige, Trevor Nyakane en Lood de Jager glo ook op Allister Coetzee se wenslysie is.

Hurricanes 61, Cheetahs 7: Wat kan ʼn mens na die sóveelste drag slae sê? Die onherstelbare skade is weke gelede op die Sanzaar-vergadering gedoen toe daar deur die Suid-Afrikaanse rugbybase besluit is om twee plaaslike spanne van hul Superstatus te stroop. Die Cheetahs is in die moeras, hulle kan nie meer daaruit  ontsnap nie.

Sharks 38, Sunwolves 17: Die Sharks is die tweede beste span in Suid-Afrika, al skop die Stormers-ondersteuners daarteen. Hulle speel nog nie soos ʼn span wat in die uitspeelrondes ver kan vorder nie, want hulle sal na alle waarskynlikheid oorsee moet reis om teen een van die Nieu-Seelandse spanne te speel, of dalk nog teen die Lions op Ellispark.

Brumbies 19, Southern Kings 10:  Die Kings het nie die nodige diepte om werklik nog oorwinnings te behaal nie. Sonder Chris Cloete kort hulle ʼn baljagter en Lionel Cronjé se leemtes is ontbloot.

Hulle bly ʼn vars briesie wat waai, maar as dit waar is dat hulle van hul topspelers soos Cronjé, Cloete, Louis Schreuder, Malcolm Jaer, Makazola Mapimpi,  CJ Velleman, Schalk van der Merwe, Wilhelm van der Sluys en Irné Herbst gaan verloor, is die spelerspens leeg.

Stormers 30, Blues 22:  ʼn Oorwinning was vir die Stormers noodsaaklik ná vier agtereenvolgende nederlae, maar hoeveel kan gesê word teen Nieu-Seeland se swakste span, wat ʼn geel kaart in die eerste helfte en rooi kaart in die twee helfte gekry het? Kom nou!

Ander Australasiese spanne: die Highlanders het die Force met 55-6 afgeransel (ly hulle ook aan die Cheetahs-sindroom?) en die Waratahs het Sondagoggend die Rebels met 50-23 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

enzed ·

Die Lions het baie ‘sagte punte’ ingesamel so hulle is nie eintlik die tweede beste span in die liga nie.

Kollie ·

Korrek, maklike afdeling. Speel geen NZ spanne nie. Ek dink nie hulle sal een van die NZ spanne in NZ kan klop nie. Crusaders by verre die beste span vanjaar. Lions het hul kans verlede jaar gehad vir ‘n tuis finaal maar toe dink Akkerbollie mos hy is slim. Ha, ha

Frans C ·

Kollie
Laasjaar het die Leeus mos die NZ-spanne gespeel en die eindstryd gehaal. Geen Leeusondersteuner sover ek weet het toe gekla dat die ander spanne van Suid’ Afrika ‘sagte punte’ kry ,teen die Aussie-spanne .

Herman ·

Ek gee jou gelyk Kollie, kyk hoe maklik het die Leeus die Stormers van jaar gewen.

Kollie ·

Die skrywer maak die Stormers se oorwinning oor NZ opposisie af as kinderspeletjies. Die Blues is baie beter vanjaar as verlede jaar EN die Stormers het die Chiefs ook geklop. Boonop is die Stormers die enigste span buite NZ wat ‘n NZ span kon klop vanjaar. 2 uit 5 teen NZ opposisie is glad nie te versmaai nie.

Frans C ·

Beste Kollie,
Die Leeus het mos laasjaar die Chiefs in NZ op hul tuisveld geklop.

willie ·

Fransie, Verlede jaar is 365 dae verby. Kollie praat van nou. 2017. Die Leeus moet nog ń NZ span speel.

Louis ·

Ek dink die Leeus het lesse geleer van laas jaar. Almal weet hulle speel nie soos laas jaar nie, en almal weet hulle speel in n swakker indeling ook. Hulle speel die spanne wat voor hulle is en doen net genoeg om te kry wat nodig is in elke wedstryd. So hulle hou die beste vir laaste wanner dit rerig saak maak. Moenie die ouens afskryf voor hulle daar was nie. Gee die manne n regverdige kans, hulle verdien dit immers.

Frans C ·

Willie
Die Leeus het mos nie laasjaar so gekla as wat julle nou kla.Kom oor dit doen wat die Leeus laasjaar gedoen het,dan kan jy saampraat.

Callie ·

Arme eenogige sud afrikaanse ondersteuners. Eks n bul. Geen span in SA kom naby die leeus nie. So, as hulle val dink wat gebeur met bokke. Stop jullle provinsialisme. Kom ons ondersteun baie goeie leeu rugby

Kollie ·

Ek het ook so ‘n spesmaas. Hulle is definitief nie so goed soos verlede jaar nie.

Kollie ·

Callie, jy’t mos nou al klaar laasjaar gesien hoe gaan dit met die Bokke as daar te veel Lions gekies word.

Ouboet2 ·

Ai die provinsialisme darem in SA. Kom daar oor dat die Lions die stormers pak gegee het

Kollie ·

Wel vir die eerste keer op Nuweland sedert, wel forever. Dit is inderdaad ‘n groot prestasie vir die Lions

Danie ·

Wel 1 ding is verseker hulle het hulle les geleer verlede jaar en hulle gaan hom weer leer hulle het wel die beste SA span maar ons amal weet hulle sukkel ook maar in finals dis nie curriecup nie maar wel super rugby…..go crusaders

Nico K ·

Ek is nie ‘n Stormers ondersteuners nie, maar ek dink nie die Leeus is so goed nie. Hulle het 2 wedstryde vanjaar goed gespeel. Teen die Stormers en teen die Bulle. Maar teen die Cheethas, teen die Argentyne (op Ellispark), teen die Haaie, en teen die Western Force, was hulle baie gewoon en het net net gewen. So ek is nog nie oortuig dat hulle naastenby kan saam praat met die Crusaders se perstasies nie.

Frans C ·

Aan al die Lions bashers, net Boy Louw,’looks at the scoreboard’.
Ek weet nie wat gaan met lot aan nie.As ‘n Suid Afrikaanse spanne goed in die kompetisie vaar juig ek saam met hulle, as die Bokke en SA-spanne sukkel,treur ek hulle.

Kyk ‘n mens na die Crusaders;Klop Brumbies-17-13,Hi-landers 30-27,Reds 22-20.

Lions klop tuis Reds 44-14,Lions weg klop Brumbies 13-6. Teen die gemeenskaplike teenstanders behaal die Lions groter oorwinnings as die Crusaders.

ChrisH ·

Ook maar n lekker klomp suur druiwe. Die Leeus het 4/5 NZ spanne geklop verlede jaar. Toe het die Bulle en Stormers nie teen NZ spanne gespeel. Hoe vêr het hulle gekom…
Die Leeus is n baie goeie span. Selfs wanneer hul swak speel wen hul nog steeds. Wie van die ander SA spanne kan dit doen…. Nou sê my hoekom gaan jul goed voel en lekker kry as die Leeus verloor? Jul spul supporters moet eerder maar jul sê goed hou en eerder verduidelik hoekom jul spanne so vrot speel.
TROTSE Leeu ondersteuner!

Kollie ·

Die skrywer van die berig is seker ‘n Bulls ondersteuner want ek sien hy gee sommer die Bulls tien ekstra punte.

Janie Monsieur ·

Dagsê Kollie,
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Callie ·

Kollie. Eks deur en deur n bul. My span is op die stadium pateties. Net een rede, swak afrigting span. Leeus speel fantastiese rugby. Leeus spelers val uit bus oor Allistair Coetzee. Hy is net so swak soos Nollis. Maar regtig, kom ons probeer darem eer gee waar dit toekom.

Frans C ·

Dit is die gees Callie.Toe die Naas Botha in 1987en 4 stafskoppe en 4 skepskoppe in gietende
reën op Ellispark deur die pale jaag om die gunsteling Transvaal 24-18 te klop,was ek natuurlik
teleurgesteld.

‘n Mens kan die video op Youtube sien en dan werklik ‘n verstommende vertoning van skopwerk deur Botha sien, wat die die drieë van Transvaal aangeteken met behulp van die Du plessis,uit kanselleer.

Anoniem ·

Ek lees al hierdie kommentaar wat nou se dat die Leeus nie so goed is soos wat die skrywers se nie . Net een vraag: waar op die punteleer le julle spanne. ? Klink ook vir my maar na suurdruiwe wat dit nie kan hanteer dat die Leeus so goed presteer nie.

Leeus BO!! ·

Daar is n verskil tussen n rugby kenner en een wat van rugby hou. Al die een oog kommentaar van die bulls en stomers is duidelik hulle hou net van rugby verder verstaan hulle niks van die spel nie,dit is hoekom skoprugby die bulle se enigste planA,B en C en probeer julle spellers fiks kry , het julle geweet n rugby wedstryd is 80min lank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.