Superrugby: Daar brand darem ʼn liggie in die tonnel

ʼn Week is ʼn lang tyd in Suid-Afrikaanse rugby.

Die Sharks was voor Saterdag se Superrugbywedstryd teen die Blues in Auckland by ʼn kruispad nadat hulle teen die Brumbies en Rebels op toer verloor het en tuis teen die Waratahs gelykop gespeel het. Die Bulls, ná verloorslae teen die Reds, Chiefs en Crusaders op toer, was byna in niemandsland voor die kragmeting met die Stormers op Loftus Versfeld.

Die Stormers se span – wel, as jy die Kaapse rugbyskrywers kan glo! – wemel van moontlike Springbokke.

♦  Die Sharks kon wel die gety gedraai het toe hulle die Blues met 63-40 geklop het. Maar hokaai, stop die lorrie. Hoewel dit geen geringe prestasie is om 63 punte aan te teken nie, brand die gevaarligte wanneer jy 40 punte afstaan.

Die Sharks het tot dusver slegs 23 drieë gedruk, maar 24 afgestaan, en dit onder meer teen die Sunwolves en drie Australiese spanne. Die Blues (79.6%) vaar ook die swakste van al die spanne wanneer dit by suksesvolle uitvoering van duikslae kom.

Maar daar is min dinge wat ʼn span kan aanspoor soos ʼn goeie sege, want dan is daar momentum om op te bou, veral wanneer jy op toer is en nog teen die Hurricanes moet speel.

Pluspunte: Die vertonings van die twee Du Preez-broers, Robert en Jean-Luc, Curwin Bosch se vaart en aanvoeling en die pak wat die bul by die horings gepak het.

♦  Op Loftus het die Bulls die Stormers van hul eie medisyne laat proe, veral in die skrums, rolmale en by die losskrums.

Dan is die lofsange wat oor die losskakel Damian Willemse gesing word, ook maar bra vals en voortydig. Hy het talent, hy kan ontwikkel, maar Handré Pollard (wat nie eens op sy allerbeste was nie) het hom ore aangesit.

Die oud-Bokkaptein en haker Adrian Strauss, wat weke lank op die bank was, is ook in die eerste 50 minute op die Stormers losgelaat. Hy was soos ʼn verwoede Bul en die spil van die maal- en dryfbewegings wat die Stormers onkant betrap het. Hy was die ou Bul wat die jonges, veral Pierre Schoeman in die skrums, Marco van Staden, die twee 20-jarige slotte, Ruben van Heerden en Hendré Stassen, en Roelof Smit touwys gemaak het.

Is dit nie dalk die geleentheid om Strauss kaptein van die oorsese Bokke te maak wat in die eenmalige geldmaaktoets op 2 Junie in Washington DC teen Wallis speel terwyl die Bokke in Suid-Afrika vir Engeland voorberei nie?

Pluspunte: Die vertonings van Strauss, Pollard, Van Staden, Van Heerden, Hanro Liebenberg en Smit.

In die Stormers-kamp het Damian de Allende, Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit weer puik gevaar, maar Willemse sal reg bestuur moet word. Is die loskop Steven Kitshoff ook die wonderwerker wat die voorblaaie so gereeld haal? Dalk was dit maar net ʼn afdag.

♦  En die Lions? Hulle speel eers Sondagmiddag teen die Crusaders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.