Superrugby: Daar ly die Waratahs toe aan ‘voosheid’

Dit was nou behoorlik eenrigtingverkeer, net soos dit in daai eenrigtingstrate in Pretoria en Johannesburg se middestad voorkom.

Die Lions het Vrydag in Sydney vir die Waratahs ore aangesit toe hulle hul Superrugbywedstryd met 29-0 gewen het nadat hulle rustyd met net 7-0 voor was.

Dit was die eerste keer dat die Lions die Waratahs in Sydney geklop het en dit laat ʼn mens onwillekeurig vra hoekom dit so lank geneem het.

Die Lions was uiters doeltreffend, die Waratahs uiters swak.

Hoekom? Want die Lions het hulle poegaai geskrum, gedryf en gemaal. Hulle het die tuisspan onder druk geplaas, hulle in foute gedwing en laaste gelag.

Malcolm Marx was ʼn spreekwoordelike monster en het die ‘Tahs met sy stormlopies geknak. Hy het ook ʼn hele paar keer besit omgekeer.

Dan het die Lions in die lynstane koning gekraai en Kwagga Smith het hulle hoofbrekens in die los besorg.

Agterlangs was Madosh Tambwe, Ruan Combrinck, Harold Vorster en Elton Jantjies (ondanks ʼn paar oordeelsfoute) op hul stukke.

Dit is ook ʼn soete oorwinning vir die afrigter, Swys de Bruin, want al sy planne het behoorlik uitgewerk.

Daar was baie min van vlugvoosheid te bespeur nadat die Lions eers Woensdagaand, minder as twee dae voor die wedstryd, in Sydney aangekom het.

Inteendeel, dit het eerder gelyk of die Waratahs aan vlugvoosheid ly, só is hulle in die skadu gestel.

Dan is die Waratahs se groot angel, Taqele Naiyaravoro, ook heeltemal geneutraliseer. Hy is telkens agter die voordeellyn gestuit, het ʼn rits balle aangeslaan en kon nie een keer die voordeellyn behoorlik oorsteek nie.

Vir die Lions was dit pure plesier, want nou kan hulle met groot vertroue na die res van die toer uitsien.

Hulle het ook hul voorsprong in die Suid-Afrikaanse afdeling verder vergroot en vir diegene wat hulle vroeër in die seisoen gekritiseer het, lekker tong uitgesteek. Hulle is tydelik weer die voorloper op die saamgestelde punteleer van die reeks.

Puntemakers –

Waratahs 0
Lions (7) 29
: Drieë: Madosh Tambwe, Kwagga Smith, Harold Vorster, Marnus Schoeman. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoel: Jantjies
*In Vrydag se vroeë wedstryd het die Highlanders die Blues hul sesde nederlaag toegedien toe hulle die kragmeting op Edenpark in Auckland met 34-16 gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frans C ·

Weereens ‘n bewys dat die wedstryde voorlangs gewen word.

Wesley ·

En weereens bewys diegene wat kamtig analiese gee op tv maar niks weet van rugby, of net nie daarvan hou dat die Leeus beste SA span is nie. Hul mooi afgeskryf begin van die seisoen of hul onderskat voor elke wedstryd, en kleinste foute uitwys as groot gate in hul spel. Wie lag nou te lekker? LEEUS!

Josua Keys ·

Van n Leeu ondersteuner die volgende, die Leeus is nie op standard nie daar is stees teveel vorentoe aanslane gewees en balle was verloor op kritieke oomblike sou daardie statistiek beter gelyk het sou ons maklik 50 punte op die borg gehad het maar moet nie vergeet nie die leeus het goed gelyk op n af dag vir die Waraths was die n New Zeeland se span het dinge dalk nie so goed gelyk nie. Maar ek glo dinge sal verbeter!!

Frans C ·

Die feit is ,aanslane ens of te not,die Waratahs is voorlangs geklop en kon nooit so hul gevaarlike agterlyn in werking stel nie.Die Bulle het ook uiteidelik onder Mitchell die les geleer.Moenie verbaas wees as die Bulle die uitspeel wedstryde voor die Sharks en Stormers haal nie.
Om uit boks iets oor te neem,wanneer jy die lyf genoeg tref,gaan die kop val.

Mufasa ·

Die heel lekkerste was om vir die 1ste keer in super rugby die Tahs te weerhou om geen punte aan te teken nie. Die eenoog aussie kommentators was ook maar grootbek voor die tyd, en moes hulle woorde sluk. Wel gedaan Swys en die trop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.