Superrugby: daar’s iets vir almal op die spel

Vrydagaand wil die Bulls hul eerste van net drie moontlike stappe in hulle oorblywende wedstryde gee om weg te beweeg van die houtlepelposisie van Suid-Afrikaanse spanne.

Hulle speel op Kingspark (19:00) teen die Sharks wat self nog ʼn (amper onbenullige) belang by die reeks het al het hulle reeds vir die kwarteind gekwalifiseer.

Die Sharks kan moontlik – dog baie onwaarskynlik – nog hulle uitspeelwedstryd in Suid-Afrika in Kaapstad teen die Stormers speel, eerder as in Wellington teen die verdedigende kampioene die Hurricanes.

Wen Saterdagaand sal ʼn goeie begin tot hierdie Sharksdroom wees.

♦  Die Lions het hul bestes gekies om weer kontinuïteit tussen die Springbokke en SA A-spelers, hulle nie-Springbokke, te bewerkstellig en te vervolmaak voordat hulle ná Saterdag se wedstryd teen die Sunwolves oor twee weke die Sharks in Durban moet pak.

Met so ʼn tikkie geluk kan die Lions nog heel bo van al 18 die spanne eindig wat dan vir die Lions – natuurlik mits hulle die kwarteind en die halfeind op Ellispark wen – ʼn tuiseindstryd sal beteken.

♦  Vir die Stormers, wat reeds ʼn tuiskwarteind het, is die ekskursie Bloemfontein toe klaarblyklik ʼn kans om vier van hul Bokke (twee plaasvervangers wat weinig toetsrugby gespeel het) te laat rus met die oog op die kwarteind op 22/23 Julie.

Die rus maak sin in die geval van Steve Kitshoff, wat hoogs waarskynlik nie in die uitspeelrondes sal mag speel omdat hy nie genoeg groepwedstryde gespeel het nie. Dit bied darem ook vir JC Janse van Rensburg weer wedstrydoefening en vir Juan de Jongh kans om weer in te skakel.

♦   Wen of verloor sal nie die Cheetahs óf die Stormers beïnvloed nie. Die Cheetahs, wat die eerste wedstryd tussen die twee met 10-53 verloor het, is egter net een punt voor die Bulls en wil self nie daardie laaste plek hê nie.

♦  En die Kings? Wen hulle in Argentinië teen die Jaguares, kan hulle selfs bo die Bulls en die Cheetahs eindig; vierde beste van SA se spanne.

Dis mos darem nie te vrot vir ʼn span wat heeltemal afgeskryf was nie, of hoe?

♦  Hoe die naweek sal verloop ná die lang aflê is moeilik voorspelbaar. Van die manne is moeg, ander is verroes, samespel gaan sukkel, en by almal behalwe die Lions en in mindere mate die Kings is daar taamlik beserings.

Die Lions se groot besering, dié van Warren Whiteley, moet egter nie lig gekyk word nie.

Die naweek –

Vrydag
19:00 – Sharks vs Bulls

Saterdag
01:05 – Jaguares vs Southern Kings
15:00 – Cheetahs vs Stormers
17:15 – Lions vs Sunwolves

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.