Superrugby: Dalk die laaste kans om Rassie te oortuig

Daar is baie op die spel vir ʼn hele paar Lions-spelers wanneer hulle Saterdag (09:35) in Dunedin in ʼn Superrugbywedstryd teen die Highlanders uitdraf.

Twee jaar gelede, toe die voormalige Springbokafrigter Allister Coetzee sy span gekies het vir die eerste van drie toetse in die reeks teen Ierland, was hy bra snoep met die Lions.

Coetzee het mettertyd al hoe meer Lions begin inspan, maar toe kruip hy algaande in sy dop in en omarm nie werklik die vinnige spelpatroon waaraan die Lions gewoond was nie.

Die nuwe Springbokafrigter, Rassie Erasmus, moet oor ʼn paar dae sy groep aanwys vir die komende toetse teen Wallis en Engeland. Dit sal ʼn groep van ongeveer 40 spelers wees.

Hoewel die Lions steeds tweede op die algehele puntelys en voor in die Suid-Afrikaanse afdeling is, word daar verwag dat Erasmus ook snoep met die Lions sal wees, want hul spelpeil en bestendigheid is nou nie juis iets om oor huis toe te skryf nie.

Erasmus het sowat drie weke gelede tien Lions by sy tweede beplanningsessie in Vanderbijlpark betrek, maar Warren Whiteley en Malcolm Marx is albei beseer. Hulle sal na alle waarskynlikheid nie in Junie toetsrugby speel nie.

Wie van die genooides bly oor? Andries Coetzee, Ruan Combrinck, Aphiwe Dyanti, Lionel Mapoe, Elton Jantjies, Ruan Dreyer, Franco Mostert en Cyle Brink.

Dis hoekom die kragmeting met die Highlanders vir die Lions Springbokproewe in die kleine kan wees, want dit is straks hul laaste kans om Erasmus vir oulaas te oortuig.

Speel hulle soos vroeër vanjaar teen die Blues, Sunwolves, Reds en Jaguares (in Buenos Aires), kan hul Springbokdrome daarmee heen wees. Maar vertoon hulle soos teen Sharks, Bulls, Stormers, Jaguares (op Ellispark) en die Waratahs, kan daar minstens agt Lions-Springbokke wees.

Kan die Lions die Highlanders in Dunedin klop?

Die Highlanders het vyf van hul laaste ses wedstryde tuis teen die Lions gewen. Hulle is onoorwonne in hul laaste tien tuiswedstryde, maar tog is daar krake in hul mondering.

Net soos die Suid-Afrikaanse spanne is hulle onbestendig: hulle klop die Bulls op Loftus, maar kry erg slae teen die Sharks op Kingspark.

Boonop word die skitterende skrumskakel, Aaron Smith, Saterdag gerus en is die ystervoorspeler Liam Squire, en ook ander, beseer.

Op die koop toe geld die vlugvoosheid van Suid-Afrika af terug na Nieu-Seeland vir hulle net soveel as wanneer een van ons spanne soontoe reis.

Maar dan is die Lions sonder hul twee grootste wedstrydwenners: Whiteley en Marx – en daarbenewens is die Lions se spelers reeds met die een voet in die vliegtuig op pad huis toe ná ʼn toer van vier weke.

Spanne –

Highlanders
15 Ben Smith (kaptein), 14 Waisake Naholo, 13 Rob Thompson, 12 Tei Walden, 11 Tevita Nabura, 10 Lima Sopoaga, 9 Kayne Hammington, 8 Luke Whitelock, 7 James Lentjes, 6 Elliot Dixon, 5 Tom Franklin, 4 Alex Ainley, 3 Tyrel Lomax, 2 Liam Coltman, 1 Daniel Lienert-Brown. Bank: 16 Ash Dixon, 17 Aki Seiuli, 18 Kalolo Tuiloma, 19 Josh Dickson, 20 Marino Mikaele-Tu’u, 21 Josh Renton, 22 Josh Ioane, 23 Silo Tomkinson.

Lions: 15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Elton Jantjies, 9 Nic Groom, 8 Kwagga Smith, 7 Franco Mostert (kaptein), 6 Cyle Brink, 5 Marvin Orie, 4 Andries Ferreira, 3 Johannes Jonker, 2 Robbie Coetzee, 1 Dylan Smith. Bank: 16 Jacques van Rooyen, 17 Ruan Dreyer, 18 Jacobie Adriaanse, 19 Lourens Erasmus, 20 Marnus Schoeman, 21 Dillon Smit, 22 Rohan Janse van Rensburg, 23 Sylvian Mahuza.

Afskop: 09:35
Skeidsregter: Angus Gardner (Australië).
Assistentskeidsregters: Brendon Pickerill en James Doleman (albei Nieu-
Seeland).
Televisieskeidsregter: Glenn Newman (NS).

♦ In Saterdag se ander wedstryde oorsee speel die Brumbies (gaap-gaap) in Canberra teen die Rebels (gaap-gaap [11:45]). Op die oog af is dit nie van groot belang vir Suid-Afrika nie. Tog kan die wenspan dalk nog ʼn tweede Suid-Afrikaanse span uit die uitkloprondes hou.

Die veel verbeterde Sunwolves, selfs tuis, behoort nie die wisselvallige Reds Saterdagoggend (05:05) te klop nie, en die algehele voorloper, die Crusaders, kom op hul tuisveld teen Australië se voorloper, die Waratahs, te staan (07:15).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LHS ·

Steeds wens ek iemand kan met n verduideliking kom hoe Erasmus van niks of iewers die pos as direkteur van S.A. rugby sommer net geword het, dan nog erger, skynbaar verplaas hy homself toe ook na springbok afrigter. Was enige van daardie poste geadverteer, onderhoude gevoer en toe aanstellings gemaak? Skynbaar nie en as, wie was die ander kandidate? Iets in hierdie saak rym net eenvoudig nie. Hoe en met wie is hy by SARU so goed bekend en bemind mee of is daar n verskuilde politieke verduideliking? n Oud rugbyspeler is nie noodwendig n goeie afrigter nie. Gaan ons nou ook as die bokke speel weer rookseine en kleure ligte op die stadions se dakke sien? Dan pla dit ook geweldig dat een persoon die mag het om te besluit oor wie in die bokspan moet wees of dan nie. Dit is n idiotiese stelsel, daar is net te veel eksterne faktore wat sodanige besluite mag beinvloed. Dit lyk dan tog of daar een of ander broederskap bestaan tussen die ANC, SARU en Rassie se hoogs betalende aanstellings so stil-stil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.