Superrugby: Die bloeddruk styg al hoe hoër

Daar wag ʼn wrede ontnugtering op die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, in vanjaar se toetswedstryde, tensy daar ʼn dramatiese ommeswaai en opflikkering in die vertonings van die vier Suid-Afrikaanse spanne in die Superreeks kom.

Op die oog af het dit niks gehelp om die Cheetahs en Southern Kings uit die reeks te gooi nie, want wat het verander? Het enige van die vier oorblywende SA spanne baat daarby gevind, of skuif die vier maar net in hul plekke onderaan die puntelys in?  Ja, die Lions (19) is tweede op die algehele puntelys, maar die Nieu-Seelandse toer lê nog voor.

Die Stormers (13 punte) is agste, die Sharks (9) tiende en die Bulls (5) 14de.

Die afgelope naweek was weer ʼn verleentheid. Vier wedstryde gespeel, drie daarvan verloor, slegs 88 punte aangeteken en 147 afgestaan … en dit teen die Rebels, Reds, Jaguares en Crusaders.

Is hulle swaargewigte (behalwe die Crusaders)?

Die Stormers het darem die Reds (onthou hulle moes van Buenos Aires via Londen meer as 30 uur na Suid-Afrika vlieg om eers Dinsdag in die Kaap aan te kom) met 25-19 op Nuweland geklop; die Jaguares het die Lions (weer) in Buenos Aires met 49-35 verslaan; die Sharks is met 46-14 deur die Rebels in Melbourne oorrompel; en die Bulls is met 33-14 deur die Crusaders in Christchurch ore aangesit.

Dis baie slegte leesstof, want saam het die vier SA spanne net 46 ligapunte ná 22 wedstryde, waarvan net nege gewen is, 12 daarvan is verloor en daar was een gelykop-uitslag. ’n Wenpersentasie van slegs  40,9 %!

Daarteenoor het die Aussies 51 ligapunte met ʼn wenpersentasie van 61,1 %. Die vyf Nieu-Seelandse spanne het 63 ligapunte ná 21 wedstryde met ‘n wenpersentasie van 61.6 %. Onthou heelwat van die wedstryde was derbywedstryde, daar moes dus ʼn verloorspan wees.

Hoeveel SA spelers het tot dusver werklik indruk gemaak, ʼn regmerkie in Erasmus se boekie gekry? Noem hulle maar op, ek het nie veel gesien om oor opgewonde te raak nie.

Hoeveel meer spelers gaan oorsee?

Wat gaan dit beteken? Erasmus sal sy net oorsee span. Hy gaan staat maak op spelers wat in die buiteland speel en ons is terug waar ons was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

‘n Mens wil nie te veel sê nie want die seisoen is nog lank,maar as ‘n mens eerlik is lyk die probleem tog wel ook by die motivering en afrigting by die breiers lê.’n Spanne soos die Lions,Sharks,Stormers is vol Springbokke maar sukkel teen spanne wat hul op papier redelik maklik behoort te wen.Die Chiefs vermorsel die Sunwolwes op hul tuisveld.terwyl die Lions gelukkig is om die span hier met twee punte te klop.

Wa Ackerman dan die enigste afrigter wat ‘n span tot groter hoogtes kon motiveer
asa wat tans die geval met die Lions is? Soos dit nou aangaan,gaan die beker vir die soveelste keer en tot keelvol toe weer Nz toe.

boerseun ·

Wonder hoe gaan hy 50% kwota spelers vir 2019 rwc inspan. ?????? Ek verstaan nie hoe hy sy pos in ierland laat gaan vir die gemors nie. Geen kompetisie gaan ons meer wil betrek nie. Sa rugby se koffers gaan leeg loop. Maar seker rasisme se skuld. Ons behoort so 9 de op ranglys. Baie sterkte.

Nico K ·

Aan die een kant was dit meestal weg wedstryde wat ons verloor en ons het nog altyd meer wegstryde in Australië verloor as gewen, en in Nieu Zeeland verloor ons amper altyd. Maar dit is ‘n bekommernis dat ons spanne lyk nie goed nie. Die Bulle speel beter as laasjaar, maar verloor nog steeds. Maar dit is die Leeus en die Haaie van wie baie verwag is, wat ek baie bekommerd oor is. Hulle sukkel teen swak spanne. En die Stormers doen baie goed op die aanval, maar hul verdediging beïndruk my nie en ek kan nie sien dat hule ver gaan kom in die reeks nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.