Superrugby: Die Sharks hap mos gans te min

Die Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, het Vrydagaand seker sy lippe afgelek toe die Jaguares die Sharks met 29-13 in hul Superrugbywedstryd in Buenos Aires geklop het.

Die onvermoë van die Sharks se agterste driehoek, Curwin Bosch, Lwazi Mvovo en S’Bu Nkosi (en later ook Makazole Mapimpi) om die taktiese skopwerk van die Jaguares-skrumskakel Gonzalo Bertranou (en sy plaasvervanger Martin Landajo) en dié van die kwiksilwer-losskakel Nicholas Sanchez onder die knie te kry, het hulle duur te staan gekom.

Vrydagaand in ʼn volgepakte stadion vol raserige en passievolle Argentyne, was dié vier Sharks klinkklare bewys van bottervingers en huiwerigheid om die bal suiwer uit die lug te pluk.

Ja, dalk was hulle huiwerig om beserings op te doen omdat al vier glo Saterdagaand in die Springbokspan vir die komende toetse teen Wallis en Engeland sal wees. Dis egter  ʼn probleem wat Rassie Erasmus vinnig sal moet oplos, want die Engelse taktiese skoppers soos George Ford, Danny Cipriani en Owen Farrell sal dit ook uitbuit.

Die Sharks sal ook moet leer om nie net tuis nie, maar ook weg van Kingspark af te wen om die uitspeelrondes te haal. Dit help nie die afrigter Robert du Preez verkondig dat die span die vermoë het om as kampioen gekroon te word, maar dan laat hulle hom in die steek omdat hulle nie die wedstrydplan reg uitvoer nie.

Aan die ander kant sukkel ʼn mens soms om agter te kom hoe die Sharks wil speel. Wil hulle die hele tyd maal en dryf en met die Du Preez-drietal, Philip van der Walt, Beast Mtawarira, Thomas du Toit en agterlangs ook André Esterhuizen die kitaar slaan, of wil hulle ook hul vinnige snellers gebruik?

Die Sharks is nou met die rug teen die muur nadat die Jaguares hul sesde opeenvolgende sege (vier daarvan weg van die huis af) behaal het en ook hul tweede bonuspunt vir vier drieë verower het. Hulle het tot dusver met die Lions, die Bulls en die Sharks in Argentinië afgereken en lek nou hul lippe vir die Stormers af.

Dit plaas hulle op 34 punte in die tweede posisie ná die Lions in die Suid-Afrikaanse afdeling, met die Sharks op 28.

Nog ʼn probleem is die rooi kaart wat die Sharks se kaptein en slot, Ruan Botha, diep in die tweede helfte gekry het. Botha het met sy skouer in ʼn losskrum ingedons en een van die Jaguares in die gesig getref. Die Nieu-Seelandse skeidsregter Paul Williams (hy is van Taranaki en nie die oud-All Black-vleuel Bryan Williams se seun soos die wedstrydkommentators volhou nie!) het Botha afgestuur nadat hy die televisieskeidsregter, Santagio Borsani, geraadpleeg het.

Met die Springbokslotte Eben Etzebeth en Lood de Jager reeds op die beseringlys, was Botha sekerlik op die Bokke se kortlys, maar hy sal na alle waarskynlikheid geskors word.

Dis hoekom daar nou sprake is dat Oupa Mohoje op slot deur Erasmus ingespan sal word. Behoede ons!

Puntemakers
Jaguares (17) 29: Drieë: Ramiro Moyano (3), Bautista Delguy. Doelskoppe: Nicoláz Sánches. Strafdoel: Sanchez.
Sharks (7) 13: Drie: Ruan Botha. Doelskop: Robert du Preez. Strafdoele: Robert du Preez (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nouja ·

Rasse jy moet die Springbok span met hardebaarde laai. Hierdie drie genoemdes het nie big match temperament nie. En daar is baie ander soos hulle. Moet asb nie jouself en almal van ons so vroeg in jou loopbaan as afrigter in die verleentheid stel nie.

Frans C ·

En terwyl die kommentators in Afrikaans liries geraak het hor groot en sterk die Sharks is het die Jaquares bewys dat ‘brawn’ met ‘brain’ gepaard moet gaan.
Die Jaquares wat eintlik Argentina se nasionale span is kon nie vir beter vfoorbereiding vir volgende jaar se wêreldbeker gekry het as die huidige Super 15 nie.
Wie was nou weer so slim om die Kings en Cheetahs uit te skop en die Sunwolwes en Jaquares te behou?En nou is slim besig om sy baas te vang.

rollie ·

Dis hul nasionale span tussen wereldbekers want hulle kies nie oorsese spelers nie. Ten minste helfte van die huidige span sal versterk word met hul eerste keuse Europese spelers kom wereldbekertyd.

Frans C ·

Rollie
As jy aan ‘n kompetisie wil deelneem ,moet volgens die reëls (wat gedurig gebuig word deur Sanzar om kastige rugby ontwikkelling te pas ) Super rugby het ontstaan as ‘n kompetisie tussen provinsiale spanne.Later het dit ‘n kompetisie tussen streeksspanne(versterkte provinsiale spanne geword.

Om dus ‘n nasionale en internasionale span te laat deelneem is onregverdig teenoor al die ander deelnemende spanne.

Frans C ·

Rollie
As jy aan ‘n kompetisie wil deelneem ,moet volgens die reëls (wat gedurig gebuig word deur Sanzar om kastige rugby ontwikkelling te pas ) Super rugby het ontstaan as ‘n kompetisie tussen provinsiale spanne.Later het dit ‘n kompetisie tussen streeksspanne(versterkte provinsiale spanne geword.

Om dus ‘n nasionale en internasionale span te laat deelneem is onregverdig teenoor al die ander deelnemende spanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.