Superrugby: Die Sharks is beroof

Dít het die Sharks darem nie verdien nie.

Die Sharks het Vrydag in Napier in Nieu-Seeland alles behalwe hul Superrugbywedstryd teen die Hurricanes gewen toe die tuisspan die kragmeting in die sesde minuut van bykomende speeltyd met 38-37 beklink het nadat die Sharks rustyd met 27-19 voor was.

Die Sharks moes gewen, het, en sommer maklik ook, want hulle het die ‘Canes oordonder.

Baas in die skrums en lynstane was Thomas du Toit, Beast Mtawarira, Ruan Botha, Jean-Luc du Preez en Philip van der Walt het die ‘Canes voos gedryf en geduik en agterlangs het die tuisspan geen raad met André Esterhuizen en Curwin Bosch op die aanval gehad nie.

Dís mos hoe jy die Nieu-Seelanders klop – jy staan geen duit terug nie, jy speel in hul gesigte, jy dwing hulle tot foute.

Met die losskakel, Robert du Preez, wat die tweede opeenvolgende week in die kol met al sy strafdoele en doelskoppe was, was daar net een wenner – behalwe op die telbord.

Ja, kom ons blameer maar die skeidsregter, die Aussie Nic Berry, wat die Sharks 15 keer gestraf het en die ‘Canes net vyf keer. Hoe gebeur dit as ʼn span op die voorvoet is, die momentum behou en die ander span onder druk is?

Ja, ʼn paar van strafskoppe was geregverdig, maar 15?

A, nee a! En dis beslis nie suur druiwe nie.

Een ding is seker, die ‘Canes is baie mak sonder Beauden Barett (wat nie gespeel het nie) asook sy skakelmaat, die All Black-skrumskakel TJ Perenara (wat rustyd vervang is).

Wat duidelik is, is dat die Sharks nou eers tot hul reg kom, en as hulle soos teen die Blues en Hurricanes speel, is hulle Suid-Afrika se beste span.

Puntemakers

Hurricanes (19) 38: Drieë: Jordie Barrett, Ngani Laumape (2), Vince Aso. Doelskoppe: Ihaia West (3). Strafdoele: West (4).
Sharks ( 27) 37: Drieë: Lukhyano Am (2), Louis Schreuder, Tyler Paul. Doelskoppe: Robert du Preez (4). Strafdoele: Du Preez (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Siesa man – suur druiwe is ‘n lelike ding. Oom Boy Louw het vir so ‘n druif op ‘n dag in Engeland gesê “You looks at the scorebord”

Snuffels ·

Die gaping tussen ons en hulle is baie kleiner, dis goed om te sien. Ek dink die Bokke sal beslis weer een van die top spanne wees

Frans C ·

Beroof is ‘n te sterk uitdrukking.Die Hurricanes is voorlangs nie een van die sterkste NZ-pakke nie. Wat wel duidelik uit hul spel is dat sonder hul All Black losskakel is hul agterspel
ongeorganiseerd is en hul heel kwesbaar is.
Die Sharks het goed gespeel en is tans goed op dreef.Dit is egter so dat hul seker van al die
SA-spanne die meeste diepte het.Of hul egter die beker kan wen is ‘n ander saak aangesien van die NZ-spanne ook soos die Lions sonder heelwat beseerde spelers moet klaarkom.Die finaal word eers op 6 Augustus gespeel.
‘n Mens kan dus verwag dat as die Sharks goed bly speel van hul spelers ook in die reeks teen Engeland in aksie sal wees wat ook sy tol gaan eis.Eintlik uit ‘n suiwer Super 15
oogpunt is dit hoe minder spelers jy afstaan aan die Bokke hoe beter,want ‘n span soos die Lions speel sonder blaaskans Saterdag sy agste wedstryd terwyl ander spanne reeds
op hul 2de ‘bye’ is.
Dit is geen wonder dat beserings aan die orde van die dag is,want die menslike liggaam is nie ontwerp om week in week in sulke strawwe kompetisie deel te neem nie.Engeland het uitgeval want van sy spelers is ‘vrot’ gespeel.

Boerseun ·

Jip, die sharks is elke jaar SA se beste span en wen die beker na een wen.

Joe Hall ·

In die kol!
Moet egter nie van die Visvoete vergeet nie, hulle wen ook aan die begin van elke nuwe seisoen, die een beker na die ander.

nico k ·

Ek is nie ‘n Haai ondersteuner nie, maar hulle het regtig goed gespeel. Die Hurricanes, soos die Blues, is uitstekend op die aanval, daai eerste twee drieë was uitstekend, maar hulle verdediging is power. Dis dalk hoe ons die All Blacks kan wen. Hardloop teen hulle.

Lol ·

Nou weet die Sharks hoe dit voel waneer Jaco Peyper blaas in Stormers wedstryde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.