Superrugby: Die wind waai die Lions weg in Wellington

Malcolm Marx is vroeg met ʼn besering van die veld. (Foto GB Jordaan)

Nog ene wat weggeglip het. Of was dit eerder ʼn geval van ʼn Nieu-Seelandse span wat sy kanse gebruik wat na sy kant toe gekom het?

Die Hurricanes het die Lions Saterdagoggend in Wellington in hul Superrugbywedstryd met 28-19 geklop. Soos soveel keer in die verlede, kon dit egter andersom gewees het as die Lions meer op die aanval gebied en beter verdedig het.

Die Lions het tentatief voorgekom, amper oorversigtig. Was dit oor ʼn gebrek aan selfvertroue ná hul swak vertoning teen die Reds, weens die gure toestande, of dalk nadat daar soveel veranderinge aan die span gemaak is ná verlede week se drag slae teen die Reds?

Dan sal die Lions ook gryshare hê oor Canes se stoomtreinvleuel Ben Lam en die losskakel Beauden Barrett.

Lam het ʼn driekuns aan drieë behaal en Barrett het in ʼn wind wat erg gedwarrel, geruk, gemaal en geblaas het, met al vier doelskoppe geslaag, waarvan drie van byna langs die kantlyn was.

Barrett het die Lions ook baie probleme gegee wanneer hy gebreek het. Só ook die senter Matt Procter en Lam, wat sy drieë tot 12 vir die seisoen opgeskuif het.

Dit was nie ʼn wedstryd vir die fynproewer nie vanweë die wind. Die spel was besaai met hanteerfoute aan albei kante, en ʼn rits strafskoppe.

Maar ai, was dit nie lekker om te sien hoe Lions se plaasvervanger-loskopstut, Ruan Dreyer, die Hurricanes se plaasvervanger-vaskop, Chris Eves, absoluut verfomfaai het nie?

Ek kan dit nie verstaan dat daar sogenaamde skrumkenners rondloop wat reken dat Dreyer nie kan, of reg, skrum nie. Miskien is loskop sy posisie, waar hy Saterdag verrassend ingespan is.

Die Lions het in een stadium in die tweede helfte vyf opeenvolgende strafskoppe ná skrumoortredings gekry, waarvan al vyf te danke aan Dreyer se skrumkrag was (moet darem ook nie die slot Franco Mostert vergeet wat agter hom gedruk het nie).

Maar die Lions kon dit nie uitbuit nie, want ná die opvolgende lynstane is daar weer hanteerfoute begaan of verkeerde besluite geneem om die agterdeur vir die tuisspan oop te hou.

Daar was ʼn paar pluspunte vir die Lions, soos die inklimspel van die woelige Marnus Schoeman en Kwagga Smith, Mostert se lynstaanspel en dan die ongelooflike skrumwerk in die tweede helfte.

Agterlangs het die skrumskakel Nic Groom in die eerste helfte, saam met die wind, die bal voor die voorspelers gehou en Aphiwe Dyanti was deurgaans gevaarlik, met gans te min kanse op die aanval.

Maar die beenbesering van die haker Malcolm Marx, wat reeds in die agste minuut deur Robbie Coetzee vervang is, moet kommer wek, ook vir die Springbokafrigter, Rassie Erasmus.

Puntemakers –

Hurricanes (14) 28: Drieë: Ben Lam (3), Ardie Savea. Doelskoppe: Beauden Barrett (4)
Lions (7) 21: Drieë: Nic Groom, Marnus Schoeman, Sylvian Mahuza. Doelskoppe: Elton Jantjies (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hen ·

Daar bestaan geen twyfel dat die Lions geen idee het van hoe om te verdedig nie! Die twee swakste skakels op vrrdediging is Jantjies wat selde tackle en Andries Coetzee wat net n aks agter Jantjies is!

Frans C ·

Wat ‘n teleurstelling om te sien dat Ben Lam so maklik Combrinck kon afskud om sy drieë
te druk.Dit het die Lions duur te staan gekom.

Piet ·

Hoe doen jy elf verandering aan n span in een week.verstaan nie

nico k ·

Baie swak verdediging deur Combrinck. Lam is groot en sterk, maar dit was twee halfhartige pogings wat tot twee drieë gelei het.

Frans C ·

Nico k.
in Suid Afrika gebruik spanne wedstryde om spelers in vorm te kry,Wonder of hul dit op aanvraag van die Nasionale keurder dit doen? In NZ haal ‘n speler soos Julian Savea nie eers die Hurricanes se span wat nog die All Blackspan as hy nie in vorm is nie.

Met die laaste wêreldbeker is ‘n hele paar manne op reputasie in die span ingesluit en val hul vas teen Japan.Daar moet tog vleuels wees wat miskien minder ervaring as Combrinck het maar beter verdedigers is,as wat Combrinck tans is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.