Superrugby: Dis al wéér die Hurricanes teen die Chiefs!

Marmite op jou toebroodjies, Marmite op jou toebroodjies, wéér Marmite op jou toebroodjies … Wat nou van ʼn skyfie kaas en ham?

Dit is één van die dilemmas van die Superrugbyreeks. Dis té veel van ʼn goeie ding. Dit het afgesaag geraak, dit grens aan eentonigheid en kort vernuwing, want om oor en oor na dieselfde spanne te kyk, gee jou nie meer hoendervel nie.

Dis eintlik ʼn klad op rugby se naam, want dis ʼn groot voorreg om begaafde spelers soos Nehe Milner-Skudder, Damian McKenzie, Anton Lienert-Brown en Beauden Barrett in aksie te sien wanneer die Hurricanes en die Chiefs mekaar Vrydagoggend in Wellington in die eerste van die kwarteindrondes pak.

Dit behoort een van die seisoen se hoogtepunte te wees: Drieë by die dosyne, aftrappe na links en regs, lyfswaaie en taktiese skopwerk wat nog nie in ʼn afrigtershandleiding neergepen is nie.

Voeg daarby die krag en vaart van Julian Savea, Ben Lam, Ngani Laumape en Jordie Barrett en die basiese vaardighede van die twee pakke voorspelers, en die tafel is gedek vir ʼn feesmaal.

Maar dis juis waar die probleem lê. Ons het heeltemal bederf geraak, want die keuses is te groot. Dit is soos daardie buffet-etes waar daar 100 keurdisse op die tafel verskyn.

Nietemin, met die oog daarop dat die Lions (as hulle Saterdag die Jaguares op Ellispark klop) aanstaande week teen die wenner van die Hurricanes/Chiefs-wedstryd speel, sal daar tóg met groot belangstelling na Vrydag se keurstryd uitgesien word.

Die Hurricanes is die gunstelinge, al het hulle vier van hul laaste vyf wedstryde verloor. Hulle kon nie meer die Crusaders inhaal nie en daar was maar bra weinig op die spel, behalwe om vierde te eindig om darem in die kwarteindronde tuis te speel.

Waar elders in die wêreld eindig ʼn span, in dié geval die Hurricanes met 51 punte, laer op ʼn algehele puntelys as die Lions (46 punte) en Waratahs (44 punte)? Verwag die rugbybase rêrig dat stadions vol sal wees ná ʼn maand van toetsrugby? Boonop het die spanne die afgelope vier jaar tien keer teen mekaar gespeel (en dan praat ons eens nie van die Nieu-Seelandse provinsiale reeks waar Wellington teen Waikato gespeel het nie).

Die Chiefs het vier van hul laaste vyf Superrugbywedstryde teen die Hurricanes gewen, insluitende verlede Saterdag se oorwinning van 28-24. Maar aan die ander kant het die Hurricanes 21 van hul laaste 22 wedstryde tuis gewen.

Dus, plaas maar jou geldjies op die Hurricanes. Op papier het hulle dalk net te veel skietgoed, te veel balvaardige spelers, te veel wedstrydwenners.

Spanne ‒

Hurricanes
15 Nehe Milner-Skudder, 14 Julian Savea, 13 Jordie Barrett, 12 Ngani Laumape, 11 Ben Lam, 10 Beauden Barrett, 9 Thomas Perenara, 8 Blade Thomson, 7 Gareth Evans, 6 Brad Shields (kaptein)/Reed Prinsep, 5 Sam Lousi, 4 Michael Fatialofa, 3 Jeff Toomaga-Allen, 2 Ricky Riccitelli, 1 Toby Smith. Bank: 16 James O’Reilly, 17 Chris Eves, 18 Ben May, 19 Vaea Fifita, 20 Reed Prinsep/Sam Henwood, 21 Jamie Booth, 22 Ihaia West, 23 Wes Goosen/Jonah Lowe.

Chiefs
15 Solomon Alaimalo, 14 Sean Wainui, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Charlie Ngatai, 11 Shaun Stevenson, 10 Damian McKenzie, 9 Brad Weber, 8 Liam Messam, 7 Sam Cane, 6 Lachlan Boshier, 5 Michael Allardice, 4 Brodie Retallick, 3 Angus Ta’avao, 2 Nathan Harris, 1 Karl Tu’inukuafe. Bank: 16 Liam Polwart, 17 Sam Prattley, 18 Jeff Thwaites, 19 Jesse Parete, 20 Mitch Karpik, 21 Te Toiroa Tahuriorangi, 22 Marty McKenzie, 23 Alex Nankivell.

Skeidsregter: Glen Jackson (Nieu-Seeland).
Assistent-skeidsregters: Nick Briant en Paul Williams (albei NS).
TV-skeidsregter: Glenn Newman (NS).
Verwagte weer: Mooiweer, maar koel (11°C tot 14°C).
Afskop: 09:35 (SA tyd).
Voorspelling: Hurricanes met agt punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.