Superrugby: Dis beter Stormers, maar nog nie goed genoeg

Pieter-Steph du Toit – uitblinker (Foto: sarugby.co.za)

Daar is ʼn paar weke gelede baie gepraat en geskryf oor die vermoë van die oud-Kaapse afrigter Dave Wessels, wat vroeg in die Superrugbyseisoen baie goed by die Rebels gevaar het nadat hy verlede seisoen nog die Force afgerig het.

Maar nadat die Rebels Vrydagmiddag op Nuweland met 34-18 deur die Stormers geklop is en verlede Saterdag met 10-28 teen die Bulls verloor het, hang daar ʼn paar vrae oor Wessels.

Goed, die Rebels is een van daardie tipiese Australiese spanne wat in die skrums sukkel, maar hoekom het hulle eers in die tweede helfte effe vlamgevat nadat hulle voor rustyd bra louwarm was en met 6-17 agter was?

Hulle het nou reeds vier opeenvolgende neerlae teen die Stormers, Bulls, Jaguares en Hurricanes gely en sal drasties aan baie aspekte van hul spel moet skaaf.

Die groot vraag wat nog nie beantwoord is nie, is hoe hulle die Sharks ʼn paar weke gelede met 46-14 afgeslag het.

En die Stormers? Hulle het verdien om te wen, maar is nog nie die totale produk nie.

Spelers het in mekaar vasgehardloop en daar is ʼn paar keer obstruksie gepleeg.

Maar daar was ook heelwat opflikkeringe, soos die twee drieë deur JJ Engelbrecht, Damian de Allende se stormramlopies en die skrumskakel Dewaldt Duvenage wat gedikteer het.

Dit het Pieter-Steph du Toit en Siya Kolisi in staat gestel om wyd te kan speel, terwyl Steven Kitshoff en Wilco Louw-hulle die sagmaakwerk voor gedoen het.

Die Stormers kon nie ʼn bonuspunt verdien nie. Hoewel hulle ʼn paar plekke op die Superrugby-puntelys opgeskuif het, moet dit nog baie in die Kaap reën om ook die Stormers se klaarblyklike driedroogte te verbreek.

Puntemakers –
Stormers (17) 34:
Drieë: Damian de Allende, JJ Engelbrecht (2), Dillyn Leyds. Doelskoppe: Damian Willemse (4). Strafdoele: Willemse (2).
Rebels (6) 18: Drieë: Seta Naivalu (2). Doelskop: Jack Debreczeni. Strafdoele: Debreczeni (2).

♦  Die Hurricanes het Vrydagoggend in Wellington teen die Sunwolves sewe drieë gedruk om met 43-15 te seëvier en het in die slagting ’n bonuspunt ingesamel.

Puntemakers –
Hurricanes (21) 43: Drieë: Julian Savea, Vince Aso (2), Finlay Christie, Reed Prinsep, Jordie Barrett, Brad Shields. Doelskoppe: Beauden Barrett (3), Jordie Barrett.
Sunwolves (10) 15: Drieë: Lappies Labuschagne, Kenki Fukuoka. Doelskop: Hayden Parker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael ·

Ek is n GROOT Stomer. Maar stuur die hele span en afrigters op n kursus om te leer wat n BONUS punt is.

Michael ·

Ja Piet jy is reg dit lyk so as of hulle net daar vir die groot geldtjie is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.