Superrugby: Dis hoekom tuisveldvoordeel so belangrik is

Die kenmerke van ʼn goeie rugbyspan is dat hy tuis en ook weg van die huis af kan wen.

Jare lank was dit een van die remskoene van die Suid-Afrikaanse spanne (ook die Springbokspan) en nou lyk dit asof dit vanjaar weer in die Superrugbyreeks aan’ t gebeur is.

Dis ʼn kopskuif wat Suid-Afrikaanse spanne ooglopend sukkel om te maak, want hulle word uit hul gemaksone gehaal.

Dis hoekom spelers wat oorsee speel, in baie gevalle as beter spelers terugkeer, want hulle leer as individue ander vaardighede aan, om aan te pas en om in alle toestande te speel.

Maar in spanverband?

Die Lions het vroeg in die seisoen ʼn byna onaanvegbare voorsprong opgehou, al het hulle die derde opeenvolgende keer in Argentinië teen die Jaguares verloor.

Maar toe kry hulle ook drie keer slae op die Australasiese toer: Saterdag met 39-27 teen die Highlanders in Dunedin en ook vroeër teen die Hurricanes en Reds.

Nou het hulle die agterdeur vir die drie ander Suid-Afrikaanse spanne en die Jaguares oopgehou om saam met hulle in die wedloop te bly.

Die Lions is steeds voor (31 punte ná 12 wedstryde) maar die Jaguares, Bulls en Sharks (al drie 24 punte) begin al hoe nader kruip, met die Stormers (23) nog nie heeltemal uit die wedloop nie.

♦ Dit het nietemin Saterdagaand op Nuweland gelyk of die afrigter, Robbie Fleck, op moedverloor se vlakte is nadat die Chiefs met 15-9 gewen het.

Om darem geen drie op jou tuisveld te kon druk teen ʼn span wat vanjaar reeds 27 drieë deurgelaat het nie, is genoeg om jou gryshare te gee, waarvan Fleckie reeds ʼn oormaat het.

♦ Die Lions is steeds in die binnebaan in die Suid-Afrikaanse groep en Saterdag speel hulle op Ellispark teen die Brumbies.

Klop hulle die Brumbies, is alles byna weer klopdisselboom en sal die Lions eerste in die Suid-Afrikaanse afdeling wees wanneer daar ʼn ruskans in Junie geneem word wanneer die Bokke in vier toetse speel.

♦ Die Bulls is ná hul oorwinning van 39-33 oor die Sharks weer tweede op die Suid-Afrikaanse puntelys.

Jonk, voortvarend, vol plofkrag en met baie ondernemingsgees.

Maar nou reis hulle na Buenos Aires waar die Jaguares op hulle wag. Die einste Jaguares wat ál vier hul wedstryde op die Australasiese toer gewen het, insluitende twee oorwinnings in Nieu-Seeland.

Almal weet dat die Bulls in ʼn boufase is, en dat die afrigter, John Mitchell, die denkprosesse en spelpatroon verander het. Dit het die Jaguares drie jaar geneem om ʼn soortgelyke skans af te breek.

♦ Die Sharks bly ʼn raaisel. Vooraf is daar voorspel dat hulle (op papier) die beste van die Suid-Afrikaanse spanne sou vaar.

Maar hulle is onbestendig. Hulle het die vermoë om enige span te klop, maar neig ook om teen enige span te verloor.

Saterdag op Kingspark wag die Chiefs op hulle. Wen die Sharks, is hul paadjie weer redelik oop. Verloor hulle, gaan daar lang trane op Kingspark se buitevelde gehuil word, en dis nie oor die tjoppies wat verbrand is nie.

♦ Die Stormers reis na Hongkong om die Sunwolves te pak. Ja, die Sunwolves wat Saterdag in Tokio die Reds met 63-28 afgeransel het.

Het die afrigter, Jamie Joseph, dit oplaas reggekry om die regte balans tussen ʼn rits oorsese spelers en ʼn paar Japanners te vind?

♦ In die Australiese derby het die Rebels die Brumbies met 27-24 geklop en die Waratahs het byna met die Crusaders afgereken en met 29-31 verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Tuisveld voordeel behoort nie ‘n span ‘n onoorwinlike voordeel te besorg nie.Kyk na die NZ-spanne hulle wen tuis en oorsee.Die ondergang van Suid Afrikaanse spanne is die gedurige verwisselling van spelers en afrigters.

Die Cheetahs moet met 11 sspelers en ‘n afrigter klaarkom en weer opnuut spanbou.
Die Lions word ook stelselmatig uitgedun met vertrek oorsee,na ander Unies en beserings. Beserings speel ‘n belangrike rol veral as reserwekrag dun is.Daar is nie nog ‘n Marx tans by die Lions nie.

die Sharks het van Plumtree ontslae geraak,maar hy behaal sukses met die Hurricanes,terwyl die Sharks eintlik SA se nommer een span behoort te wees.Dit sê vir my die Suid Afrikaanse benadering tot beroepsrugby is verkeerd.

Behoort daar nie in oorlegpleging ‘n sentrale toewysing na Super 15 spanne te wees,of gaan Suid Afrika vir ewig die slaaf van ‘n pronvinsialisties stelsel bly.

NZ en Aussie-spanne aarsel nie om Suid see eiland spelers te kontrakteer nie en Fijiane
kry ‘n mens in elke voorloper rugbyspan.Die Mense kyk verder Suid. Hoekom kyk ons nie Noord nie en prober om spelers van Kenia te kontrakteer nie.Hulle het bewys in die
sewes dat hul netso kragtige hardlopers as die manne van Fiji is.

NZ en Australia gee nie om waar spelers vandaan kom nie.So het Suid Afrikaners by die Reds nie gehuiwer om die Lions te kelder nie.Wenspanne maak stadions vol en verloorders dit leeg.

rollie ·

Ek dink ons SA spanne is net nie goed genoeg om konstant oorsee te wen nie. Ons wen daar by uitsondering (Wenne in NZ is so skaars soos hoendertande). Al ons spanne lyk vir my maar op dieselfde vlak, middelmatig. Dit gaan nogal vernederend wees as die Jaguares bo-aan ons afdeling eindig.

nico k ·

Ek stem nie saam met Frans se voorstel van sentrale beheer oor SA spanne nie. Hierdie bly ‘n provinsiale kompetiese en nie ‘n nasionale kompetisie nie. Want dan kan ons net sowel ‘n A span, B span en C span kies. Ek ondersteun my span. Wat beteken dat as ‘n ander SA span teen ‘n oorsese span verloor is ek bly want dit verbeter my span se kanse. Maar ek stem saam dat ons moet probeer werf uit ander lande. Ons het op ‘n stadium goed gedoen met Zimbabwers en kan dalk nog ‘n paar daar trek. Wat van Suid Amerika? In daardie lande mag daar een of twee wees met baie talent, maar nie raakgesien word omdat hulle in ‘n swak span speel.

Frans C ·

Nico K
Daar is 24 provinsiale spanne in die Argentynse stelsel.Die huidige span verteenwoordig nie een provinsie nie,maar al 24 en is dus ‘n internasionale span.Japan het 125 000 rugby spelers ( tans 4de meeste) en tog is die sunwolwes eerder met sy talle buitelanders nader aan ‘n internasionale span as ‘n Japanese span.

Hulle word behou, maar die Kings en Cheetahs versterkte provisiale spanne word uitgegooi.Omdat hul dan te swak is.Hoe werk dit in NZ:Uit Stuff NZ:Hamish Bidwell: Salary cap means all New Zealand Super Rugby sides start equal
New Zealand’s five Super Rugby franchises are allowed to contract 32 players each year. The maximum retainer is $195,000 and minimum $75,000.

Beyond that are what used to be known as wider contract players. Now called Draft New Zealand Contract Players, teams are permitted to sign six on retainers of $50,000.

What can’t be measured in monetary terms are things such as relationships, culture, talent identification, coaching, identity and legacy. Some franchises are vastly better at that than others and that’s where the playing field becomes uneven.

Within the Highlanders and Crusaders regions, where there simply aren’t the same player numbers, those intangibles have to be the selling point.’

Hulle mag dan 6 ander kontrakteer op ‘n ‘container’ stelsel.Plaaslik ,wie die meeste betaal kry die beste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.