Superrugby: Dis nou raakvat vir Mitch, Fleckie

John Mitchell en Robbie Fleck (Foto’s: Twitter)

Een van die grootste uitdagings vir enige Superrugbyspan, is om ook weg van die huis af te kan wen.

Dis waar die ware leiers na vore tree, om die stukkies op tel as hul span slae gekry het, om leiding te gee, om die selfvertroue terug te kry en die spangees te behou, om te sorg dat daar nie klieks gevorm word nie.

Dis waar die karakter van die Bulls se afrigter, John Mitchell, getoets sal word. Wat gaan hy doen as die Bulls vroeg op toer verloor? Gaan hy volhou met sy opwindende spelpatroon, of het hy ʼn paar lesse teen die Lions geleer, wat die basiese beginsels verlede Saterdag veel beter as die Bulls uitgevoer het.

Die Stormers se Robbie Fleck sal ook in die spervuur wees, veral ná verlede Saterdag se drag slae teen die Crusaders.

Bygesê, nie een van die Stormers, wat Vrydag teen die Highlanders in Dunedin speel, òf die Bulls, wat Saterdag met die Reds in Brisbane kragte meet, het oorsese vertoningslyste waaroor daar met trots gesels kan word wanneer die kole aangesteek word nie.

Is dit in die kop, want op papier kan jy tog nie met soveel opwindende en ervare spelers kleitrap nie, of word hulle maar net alte maklik uit hul gemaksones gepluk?

Die Highlanders het hul jongste twee wedstryde (in 2017 en 2015) in Dunedin teen die Stormers gewen, onderskeidelik met 57-14 en 39-21.

Die Highlanders is in hul laaste sewe wedstryde tuis onoorwonne, terwyl die Stormers nege opeenvolgende wedstryde in Nieu-Seeland verloor het.

Boonop lek die Stormers hul wonde nadat hulle verlede teen die Crusaders streepsuiker gekry het.

Wie gaan hul geldjies op die Stormers waag?

Die spanne –

Highlanders

15 Ben Smith (kaptein), 14 Waisake Naholo, 13 Rob Thompson, 12 Teihorangi Walden, 11 Tevita Nabura, 10 Lima Sopoaga, 9 Aaron Smith, 8 Luke Whitelock, 7 Dillon Hunt, 6 Liam Squire, 5 Tom Franklin, 4 Jackson Hemopo, 3 Siate Tokolahi, 2 Liam Coltman, 1 Daniel Lienert-Brown. Bank: 16 Greg Pleasants-Tate, 17 Aki Seiuli, 18 Tyrel Lomaz, 19 Shannon Frizell, 20 Elliot Dixon, 21 Josh Renton, 22 Fletcher Smith, 23 Matt Faddes.

Stormers

15 SP Marais, 14 Dillyn Leyds, 13 EW Viljoen, 12 Damian de Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Damian Willemse, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Nizaam Carr, 7 Kobus van Dyk, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Chris van Zyl, 4 Jan de Klerk, 3 Wilco Louw, 2 Ramone Samuels, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Dean Muir, 17 JC Janse van Rensburg, 18 Carlu Sadie, 19 Salmaan Moerat, 20 Pieter-Steph du Toit/George Whitehead, 21 Sikhumbuzo Notshe, 22 Justin Phillips, 23 JJ Engelbrecht.

Reds teen Bulls

♦ Mitchell het die Springbok Handré Pollard terug na losskakel geskuif nadat hy met groot welslae senter teen die Lions gespeel. Johnny Kotzé skuif van linkervleuel in die plek van Pollard (wat die beseerde Burger Odendaal vervang het) en Warwick Gelant begin op heelagter met Duncan Matthews in Kotzé se plek.

Die Bulls vaar sedert 1996 nie te goed teen die Reds nie – altesaam 20 wedstryde gespeel, nege daarvan gewen, maar 11 verloor.

Die Reds, nadat hulle die afgelope paar jaar deur diep waters gegaan is, beleef ʼn opwaartske kurwe onder die ervare en hardgebakte oud-All Black en nou afrigter, Brad Thorn.

Maar ai, as die Bulls darem nie wen nie, wie sal hulle dan op toer kan klop?

Die spanne –

Reds

15 Aidan Toua, 14 Filipo Daugunu, 13 Chris Feauai-Sautia, 12 Samu Kerevi, 11 Eto Nabuli, 10 Jono Lance, 9 James Tuttle, 8 Caleb Timu, 7 Liam Wright, 6 Adam Korczyk, 5 Kane Douglas, 4 Izack Rodda, 3 Taniela Tupou, 2 Brandon Paenga-Amosa, 1 James Slipper (kaptein). Bank: 16 Alex Mafi, 17 JP Smith, 18 Sef Fa’agase, 19 Harry Hockings, 20 Angus Scott-Young, 21 Tate McDermott, 22 Hamish Stewart, 23 Duncan Paia’aua.

Bulls

15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Jesse Kriel, 12 Johnny Kotzé, 11 Duncan Matthews, 10 Handré Pollard (kaptein), 9 André Warner, 8 Nick de Jager, 7 Hanro Liebenberg, 6 Roelof Smit, 5 Lood de Jager, 4 RG Snyman, 3 Frans van Wyk, 2 Jaco Visagie, 1 Pierre Schoeman. Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Lizo Gqoboka, 18 Trevor Nyakane, 19 Jason Jenkins, 20 Marco van Staden, 21 Embrose Papier, 22 Marnitz Boshoff, 23 Divan Rossouw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet ·

Fire asb vir Fleck 3 verloor in n ry in 3 weke

SWAK SOU EK SE!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.