Superrugby: Dis tyd om op te staan

Bestendigheid, of eerder ’n gebrek daaraan, was nog altyd een van die remskoene van Suid-Afrika se Superrugbyspanne.

Hoe dan anders, want dis die een week op en die ander week af. Klop die Hurricanes, verloor teen die Reds; klop die Bulls, verloor teen die Blues; verloor teen die Waratahs, klop die Blues; slag die Sunwolves af, verloor teen die Brumbies.

Bestendigheid is een van die hoekstene van die Nieu-Seelanders se welslae, hul topspelers speel baie selde swak in die Superreeks en hulle maak dit só maklik om die All Blacks-span te kies.

Dis hoekom die Springbok-kandidate van al vier Superrugby-franchises na vore moet tree, die leiding moet neem, die vonk by hul spanmaats moet aansteek, wys wat in hulle steek en die grondslag vir meer opeenvolgende oorwinnings lê.

Die Bulls lei Vrydag die naweek in wanneer hulle in Christchurch teen die Crusaders, die bestendigste en suksesvolste span in Superrugby, speel.

Die Bulls is in ʼn oorgangsfase, die nuwe spelpatroon om met die bal te hol en hol, is nog in sy kinderskoene, maar hulle speel elke week ʼn rukkie langer beter. Maar as die basiese beginsels links gelê word, as die voorspelers nie bereid is om eers die moue op te rol nie, as die verdediging nie na wens is nie en die dissipline lol, gaan die Bulls baie onder die pale staan en kringetjie maak.

Die Sharks speel hierna in Melbourne teen die nuwe verrassingspakkie, die Rebels. Jy weet nie wat jy in die pakkie gaan kry nie, dalk ʼn ballon, skerpmaker, plastiekkarretjie, plastiekhorlosie of ʼn kompas wat nie eintlik rigting aandui nie, net soos die Rebels.

Die Sharks, ondanks hul gevaarlike buiteagterspelers, presteer nog nie soos die span wat op papier aangedui word nie. Een van die Springbokke se hulpafrigters, Jacques Nienaber, toer saam met die Sharks en as hy nie ʼn ommeswaai kan bewerkstellig nie, wag daar probleme vir die Bokke in Junie teen Wallis en Engeland.

Die Stormers kom Saterdagmiddag op Nuweland teen die Reds te staan. Ná verlede week se vertoning teen die Blues in Kaapstad behoort die Stormers ook die vloer met die Reds te vryf, wat byna 30 uur op lughawens en in vliegtuie moes deurbring om in die Kaap uit te kom.

Só swak soos wat die Stormers op toer was, so goed is hulle tuis.

Dillyn Leyds, Damian de Allende, EW Viljoen en Damian Willemse speel met nuutgevonde selfvertroue en die fisieke pak (hoewel ek dink dat hulle dit soms oordoen en teen ‘n oorsese skeidsregter hul rieme gaan styfloop), duld geen onsin nie.

Die Lions speel Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) teen die Jaguares in Buenos Aires … wedstryde wat hulle in die verlede op ‘n skinkbord weggegee het. Die Lions is weer verswak en nou moet die plaasvervangers wat instaan vir Ross Cronjé, Malcolm Marx, Andries Ferreira en die beseerde Warren Whiteley en Jaco Kriel, hul kant bring. Gelukkig is dit teen ʼn (gevaarlike) span wat nog onbestendiger as enige Suid-Afrikaanse span is.

Voorspelling? Drie uit vier vir die Suid-Afrikaanse spanne, met die Sharks, Stormers en Lions aan die wenkant.

Die naweek se bepalings –

Vrydag

08:35: Crusaders t Bulls (Christchurch).

10:45: Rebels t Sharks (Melbourne).

Saterdag

06:15: Sunwolves t Chiefs (Tokio).

08:35: Hurricanes t Highlanders (Wellington).

17:15: Stormers t Reds (Kaapstad).

23:40: Jaguares t Lions (Buenos Aires).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gerhard ·

Ek het nie geweet die springbok span, word net uit die Superrugby spanne gekies nie? Hoe nou swaer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.