Superrugby: Dit gaan om plekke in die Bokspan en op die punteleer

Dis ʼn naweek waarin die individuele spelers en die spanne hul ding moet doen.

Die uithaal om die Springbokspan te haal en die gejaag na die uitspeelrondes oorheers hierdie naweek se twee plaaslike wedstryde tussen die Bulls en die Sharks op Loftus, en die Stormers wat teen die Chiefs op Nuweland speel.

Redenasies oor die kies van die Bokspan kan niks meer as blote bespiegelings wees nie. Des te meer omdat die Bokafrigter, Rassie Erasmus, nie nou al weet watter van die oorsese spelers deur hulle klubs beskikbaar gemaak sal word nie.

Om te bespiegel oor die naweek se wedstryde is ook nie ʼn eksakte wetenskap nie. Sielkunde, ʼn span se afdag en ʼn dag waarop hy skerp is, ʼn beslissing van wat ʼn drie was en wat nie, kan bepalend wees.

Die beste wat ʼn mens kan doen is om jou op die onlangse neigings te beroep.

Ja, statistieke gaan oor die verlede en wat hieronder bespreek al word, het betrekking op die hele seisoen. Maar, gegrond daarop: Het die Stormers hoegenaamd ʼn kans teen die Chiefs, ondanks verlede week se uithaler-vertoning teen die Bulls?

Ja, natuurlik het hulle, en ook ʼn heel skaflike kans.

Maar kyk hierna en oordeel dan weer:

Die Chiefs het tot dusver beter gevaar wat betref punte per wedstryd, drieë per wedstryd, dra van die bal, meter met die bal gehardloop, skoon breekslae, aantal uitgeë, minder duikslae, strafskoppe afgestaan, geelkaarte ontvang, omdraaibesit gewen, lynstaanbesit gewen.

Tel hierdie dinge? Gewis. Is dit deurslaggewend in ʼn wedstryd? Allermins.

Die Chiefs het verlede week tuis teen die Jaguares verloor, en twee weke vantevore teen die Hurricanes met ʼn loslootjie tussenin. Hulle selfvertroue het sekerlik ʼn knou weg.

Die Chiefs het ook dié week in Suid-Afrika aangekom. ʼn Lang reis het maar ʼn manier.

Vir Dillyn Leyds, Damien de Allende, Damian Willemse, Steven Kitshoff, Scarra Ntubeni, Ramone Samuels, Wilco Louw, Frans Malherbe, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Nizaam Carr en Sikhumbuzo Notshe is daar Goenbaadjies op die spel.

♦  Op Loftus sal dit ook kopspeletjies wees. Die Sharks se loesing van 7-40 in Durban sal nog lank bly knaag.

Is Akker van der Merwe opgewasse vir die hakertrui? Adriaan Strauss sal hom Saterdag deeglik beproef.

RG Snyman sal moet uithaal om Erasmus te oortuig hy is die éíntlike slotmaat vir Lood de Jager, en dat Pieter-Steph du Toit eerder moet flank toe.

Jessie Kriel sal teen Lukhanyo Am op buitesenter gemeet word; Daar is ook Handré Pollard teen Robert du Preez, wie se aangeevaardighede en taktiese spel sy goeie skopwerk neutraliseer; Beast Mtawarira skrum teen Trevor Nyakane. Lood de Jager moet uithaal teen Ruan Botha. Is die Du Preez-tweeling se dryfspel goed genoeg om vir hulle vaardigheidstekortkominge te vergoed?

Is Curwin Bosch se aanvalsverrassings goed genoeg vir toetsrugby; hoe gaan Makazole Mapimpi en S’Bu Nkosi aangeslaan word?

Wie gaan wen?

Een yslike Bulls-swaeltjie maak nie noodwendig ʼn goeie Supersomer nie …

Spanne –

Stormers vs Chiefs op Nuweland

Stormers: 15 Sarel Marais, 14 Dillyn Leyds, 13 JJ, 12 Damian de Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Damian Willemse, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Kobus van Dyk, 6 Siya Kolisi (kapt.), 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Chris van Zyl, 3 Wilco Louw, 2 Ramone Samuels, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Siyabonga Ntubeni, 17 JC van Rensburg, 18 Frans Malherbe, 19 Cobus Wiese, 20 Nizaam Carr, 21 Paul de Wet, 22 Jean-Luc du Plessis, 23 Seabelo Senatla.

Chiefs: 15 Charlie Ngatai (kapt.), 14 Toni Pulu, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Johnny Faauli, 11 Solomon Alaimalo, 10 Damian McKenzie, 9 Brad Weber, 8 Tyler Ardron, 7 Liam Messam, 6 Luke Jacobson, 5 Michael Allardice, 4 Brodie Retallick, 3 Angus Ta’avao, 2 Nathan Harris, 1 Karl Tu’inukuafe. Bank: 16 Liam Polwart, 17 Sam Prattley, 18 Jeff Thwaites, 19 Jesse Parete, 20 Pita Gus Sowakula, 21 Te Toiroa Tahuriorangi, 22 Marty McKenzie, 23 Shaun Stevenson.

Skeidsregter: Mike Fraser  (Nieu-Seeland)

Assistentskeidsregters: Nick Briant (Nieu-Seeland), Quinton Immelman (Suid-Afrika)

Televisieskeidsregter: Willie Vos (Suid-Afrika)

Bulls vs Sharks op Loftus

Bulls: 15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Jesse Kriel, 12 Burger Odendaal (kapt.), 11 Johnny Kotze, 10 Handré Pollard, 9 Ivan van Zyl, 8 Marco van Staden, 7 Jason Jenkins, 6 Roelof Smit, 5 Lodewyk de Jager, 4 Rudolph Snyman, 3 Trevor Nyakane, 2 Adriaan Strauss, 1 Lizo Gqoboka. Bank: 16 Jaco Visagie, 17 Frans van Wyk/Mox Mxoli, 18 Conraad van Vuuren, 19 Thembelani Bholi, 20 Nicholas de Jager, 21 André Warner, 22 Manie Libbok, 23 Divan Rossouw.

Sharks: 15 Curwin Bosch, 14 Sibusiso Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Makazole Mapimpi, 10 Robert du Preez, 9 Cameron Wright, 8 Daniel du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Jacques Vermeulen, 5 Ruan Botha (kapt.), 4 Tyler Paul, 3 Thomas du Toit, 2 Armand van der Merwe, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Juan Schoeman, 18 Ross Geldenhuys, 19 Stephan Lewies, 20 Wian Vosloo, 21 Louis Schreuder, 22 Marius Louw, 23 Lwazi Mvovo.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge (Suid-Afrika)

Assistentskeidsregters: AJ Jacobs (Suid-Afrika), Archie Sehlako (Suid-Afrika)

Televisieskeidsregter: Marius Jonker (Suid-Afrika)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Ek merk klomp name wat slegs vertoon rugby speel. Kies die bestes en los kwotas uit die spel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.