Superrugby: Dit is nou in die Sharks se eie hande

Ai, as Suid-Afrikaanse spanne maar so kan hardloop, hanteer en geleenthede skep soos die Highlanders en die Rebels Saterdagoggend in Dunedin …

Die Highlanders het in die lekker wedstryd, waar die rugby darem ook nie heelpad goed was nie, vir die Sharks asemskep-kans gegee deur die Rebels met 43-37 te klop.

Terwyl die Rebels se uitspeelkanse Saterdagoggend nog in hul eie hande was en die Sharks moes hoop, is die situasie in die middag omgekeer wanneer die Sharks teen die Jaguares te staan kom.

Selfs met ʼn oorwinning sonder ʼn bonuspunt sal die Sharks se punteverskil teenoor dié van die Rebels goed genoeg wees om aan hulle ʼn uitspeelkans aanstaande naweek in Christchurch teen die Crusaders te bied.

Flink hantering, goeie oordeel, puik ondersteuning, maar te dikwels ook omkeerbesit en swak verdediging deur die twee spanne, het vir ʼn lekker en opwindende wedstryd gesorg.

Die Rebels was ná die eerste kwart met 17-3 en rustyd net met 24-22 voor nadat die Highlanders onder meer twee vinnige drieë gedruk het toe die Rebels se skrumskakel Michael Ruru met ʼn geel kaart van die veld was.

Tien minute ná rustyd was die Rebels met 34-22 voor, maar hulle het toe soos so dikwels vanjaar uitgesak.

Die omkeerbesit wat die Rebels met hanteerfoute en by die afbreekpunte afgestaan het, het hulle in veral die tweede helfte gekelder toe die Highlanders met groter geduld en ʼn veel vaster patroon gespeel en verdien het om te wen.

Nou sit die Rebels, soos die Sharks tydens Saterdag se eerste wedstryd, en wag vir die uitslag op Kingspark wat sal bepaal of die Australiese span die heel eerste keer na die uitspeelronde sal deurdring.

Puntemakers ‒

Highlanders (22) 43: Drieë: Waisake Naholo, Kayne Hammington, Tei Walden, Tevita Li, Greg Pleasants-Tate, Tom Franklin. Doelskoppe: Lima Sopoaga (5). Strafdoel: Sopoaga.
Rebels (24) 37: Drieë: Amanaki Mafi, Reece Hodge (3). Doelskoppe: Hodge (4). Strafdoele: Hodge (2), Jack Debreczini.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.