Superrugby: Draai die horlosie maar terug

Dit was nie die naweek waarop die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, gehoop het nie, want daar was slae vir die Stormers, Bulls en Lions in die Superrugbyreeks.

Dit was byna soos in die ou dae, toe al die Suid-Afrikaanse spanne gereeld oor ʼn naweek vir ʼn rugbybabelaas gesorg het.

Gelukkig het die Sharks sy hoofpyn effe verlig toe hulle die (Japanse?) Sunwolves Saterdag op Kingspark met 50-22 geklop het. Maar kan ons te veel in dié oorwinning lees?

Die Franse het darem Erasmus se gemoedstoestand verander toe hulle Engeland, teen wie die Bokke drie toetse in Junie speel, Saterdagaand in Parys geklop het om die Sesnasieskroon aan die Iere te besorg nog voordat hulle teen Engeland speel.

Maar dalk het Erasmus tóg veel wyser uit die Superwedstryde geword. Dis ʼn aanduiding van watter spelers in ʼn verloorspan die stang kan vasbyt, en uit hul gemaksone kan beweeg en kan aanpas.

Dit het gevolg nadat die Highlanders Vrydag in Dunedin die Stormers met 33-15 geklop het, die Reds die Bulls Saterdag met  20-14 in Brisbane verslaan het en die Lions teen alle verwagtinge in met 38-35 deur die Blues (Nieu-Seeland se agteros) op Ellispark geklop is.

Die negatiewe: Warren Whiteley se kniebesering. Whiteley is die gom van die Lions-pak. Het ons dit nie verlede jaar ook agtergekom toe Eben Etzebeth die Springbok-kapteinskap in sy afwesigheid oorgeneem het nie? Ook dat die opwindende Aphiwe Dyanti, net soos die aandelebeurs, op en af beweeg.

Die Bulls se skrumwerk en dissipline het teen die Reds erg gelol. Verlede week het die Bulls klippe gekou toe die Lions hulle voos gerolmaal en gedryf het.

Boonop is die Bulls-maatskappy se benarde finansiële posisie oopgevlek.  Gelukkig het die afrigter, John Mitchell, geen hare nie, andersins het hy dit sekerlik uit sy kop begin trek.

Die Stormers is soos daardie outydse gelukspakkie wat jy by die kafee op die hoek gekoop het, want jy weet nie wat jy daarin gaan kry nie.

Soms kook Dillyn Leyds, Damian de Allende en Damian Willemse. Steven Kitshoff is die yster wat nie voorlangs roes nie en Wilco Louw en Cobus Wiese (beseer) tree soms sterk na vore.

Maar die res? Nizaam Carr is gaar gespeel nadat hy ʼn paar maande in Engeland vir Northampton in aksie was. Só ook is die opmerklike gebrek aan vaardighede en besluitneming wanneer van die spelers onder druk geplaas word, blootgelê. Ook  dat die Stormers  in die lynstane sal aanhou sukkel sonder die beseerde slotte Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en JD Schickerling. Maar watter span sou nie?

Die positiewe: Elton Jantjies was op sy kop teen die Blues, maar sal jy met hom oorlog toe gaan? Só ook Makazole Mapimpi, Beast Mtawarira en Curwin Bosch vir die Sharks en Handré Pollard vir die Bulls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willie ·

Ek is nie snaaks nie, maar SA Rugby staan my nie meer aan nie… Ek dra niks rugby of koop niks rugby…. hulle is dit nie werd nie… neuk net die bloedruk op…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.