Superrugby: Dun hoendersop op Vrydag se spyskaart

Daar is maar bitter min op Vrydag se Superrugby-spyskaart waaroor Suid-Afrikaanse ondersteuners opgewonde sal raak.

Geen egte dik groentesop en tuisgebakte warm brood en botter om die koue te verdryf nie, maar slegs ʼn dunnerige hoendersop, net soos jy dit in ʼn hospitaal kry.

Ja, dalk sal die kragmeting tussen die Blues en Chiefs op Edenpark opwindende rugby oplewer, maar wie gee nou werklik om of die Reds of Force ʼn waarskynlike getjommel in Brisbane sal wen?

Dié twee spanne kon in 22 wedstryde nog net 29 ligapunte insamel en het 85 drieë deurgelaat. Is dit werklik super?

Die Chiefs, wat al vyf hul laaste wedstryde teen die Blues gewen het, behoort dit ses in ʼn ry te maak.

Die Chiefs se afrigter, Dave Rennie, sê die agterdeur is nog oop om dalk eerste in die Nieu-Seelandse afdeling te eindig, maar glo hy werklik dat die Rebels Saterdag in Melbourne die Crusaders kan verras? Glo hy ook dat die Bulls die Hurricanes op Loftus kan klop en die Waratahs in Dunedin met die Highlanders kan afreken?

Die Blues het boonop van Suid-Afrika af teruggevlieg ná hul fisieke wedstryd verlede Vrydag teen die  Stormers op Nuweland. Al vlieg jy ook in besigheidsklas, die stampe, stote en kneusplekke kan jy nie wegwens nie. Hul dissipline (hier gaan ons al weer) lol al jare lank en die Chiefs sal dit uitbuit.

Vrydag se bepalings –

09:35: Blues t Chiefs (Auckland)
11:45: Reds v Force (Brisbane)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.