Superrugby: Gaan dit steeds blou in Pretoria wees?

Dis sekerlik heeltemal te vroeg om te sê, maar dalk gee die Bulls reeds Saterdag ʼn vroeë aanduiding van die winde van verandering wat daar op Loftus Versfeld kan waai met die aanstelling van die Nieu-Seelander John Mitchell as hoof van afrigting.

Die Bulls kom teen die Hurricanes te staan, die huidige kampioen en een van die hoof-pasaangeërs in vanjaar se Superreeks.

Enige span met Beauden en Jordie Barrett, Julian Savea en TJ Perenara agterlangs aan die stuur, sal hardlooprugby omarm. Hulle stel nie daarin belang om pale toe korrel nie, hulle wil net drieë druk.

As vanjaar se vertonings in aanmerking geneem word, kan daar net een wenner wees: en dis nie ʼn span in blou nie.

Maar rugby bly ʼn kopspeletjie en dalk, net dalk, kan die saadjie wat met  Mitchell se aanstelling geplant is, reeds begin ontkiem.

Wat die Bulls wel moet weet, is dat daar geen kortpaaie onder Mitchell sal wees nie.

Ek het hom jare gelede as kaptein van die Waikato Chiefs en later ook as hulpafrigter van Engeland, die All Blacks en Lions leer ken: geen grys gebiede nie, hard en genadeloos, maar ʼn kenner van die spel wat alles vir sy spelers sal opoffer.

Maar behoede ook die dag wanneer jou paaie met syne kruis.

♦  Op Kingspark gaan dit ʼn groot koppestamp wees wanneer die Stormers en die Sharks mekaar pak. Wees maar verseker, nie as nie, maar wanneer Eben Etzebeth en van die Sharks mekaar groet, soos die destydse radiokommentator Gerhard Viviers dit altyd gestel het, gaan daar weer ʼn geruk en pluk wees.

Dis eintlik jammer dat die Springbokspan vir die komende reeks teen Frankryk reeds aangewys is, want ek kan nie wag vir die tweestryde tussen Etzebeth en Pieter Steph du Toit teen die jong Turke, Ruan Botha en Etienne Oosthuizen, nie.

Wat van die liplekkerstryd tussen Frans Malherbe en Beast Mtawarira? Wat van die losvoorspelerstryd? En die heel grote: Damian de Allende teen Lukhanyo Am.

♦  Die Springbokbelaaide Lions speel Sondag op Ellispark  teen die Southern Kings. Wees maar verseker, dit gaan ʼn drieëfees  wees, want die Lions  moet in elke wedstryd ʼn bonuspunt verower – net hardloop, hardloop, hardloop.

♦  En die res van die naweek?

Vroeg Saterdagoggend in Tokio kan daar nog slae op die Cheetahs wag wanneer hulle teen die  Sunwolves speel. Maar as elk ʼn geldjie moet waag, sal dit op die Cheetahs wees. Talentvolle spelers kan mos nie aanhou sukkel nie, al is daar onsekerheid oor hul toekoms.

♦  Die Highlanders kom hierna teen die Waratahs in Dunedin te staan en die een of ander tyd gaan hul geluk uitloop.

Vir diegene  wat vroeg reeds die kole wil aansteek, doen dit van 11:45 af wanneer die Rebels teen die Crusaders speel. Die keur van Nieu-Seeland teen die ploeterende Rebels … Mag ons daarvan gespaar bly.

♦  En vir die wat sukkel om Saterdagaand aan die slaap te raak, die Jaguares speel kort voor middernag teen die Brumbies: stampkarrugby wat jou verder uit die slaap sal hou.

Die naweek se bepalings –

Saterdag:

07:15: Sunwolves vs Cheetahs (Tokio)
09:35: Highlanders vs Waratahs (Dunedin)
11:45: Rebels vs Crusaders (Melbourne)
15:05: Bulls vs Hurricanes (Pretoria)
17:05: Sharks vs Stormers (Durban)
23:40: Jaguares vs Brumbies (Buenos Aires)

Sondag:

14:30: Lions vs Southern Kings (Johannesburg)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.