Superrugby-halfeindstryd: Crusaders het hef in die hand

Elke rugbyspan het maar ʼn voorkeurveld, en natuurlik is dit altyd die tuisveld waar die span se ondersteuners is en die span se spelers oefen.

In die ou dae was Loftus Versfeld Noord-Transvaal se groot bondgenoot. Nuweland was die Westelike Provinsie baie goedgesind, veral in die goue tagtigerjare.

Die Crusaders troon egter bo alle spanne uit wanneer hulle op hul tuisveld in uitspeelwedstryde betrokke is. Twintig keer in uitspeelwedstryde tuis gespeel, ál 20 wedstryde gewen. Elf keer teen ʼn ander Nieu-Seelandse span gespeel, ál 11 kragmetings gewen.

As jy dus in statistiek glo, sal daar net een wenner wees wanneer die Crusaders Saterdagoggend (09:35 Suid-Afrikaanse tyd) in Christchurch teen die Hurricanes in die Superrugby-halfeindstryd speel. Vergeet van die Hurricanes se wedstrydwenners soos Beauden en Jordie Barrett. Vergeet van Nehe Milner-Skudder, Julian Savea, Ngani Laumape, Ben Lam en TJ Perenara, en kyk maar net na die statistiek.

Ja, rekords is daar om verbeter te word, sê die ouens op straat, maar hoe gaan jy dit regkry teen ʼn span wie se teenstanders (onthou gerus dis die topspanne in Superrugby) in hul laaste agt uitspeelwedstryde nie meer 13 punte teen hulle kon aanteken nie?

Die Hurricanes se voorspelers is hul achilles-hiel. Daar is nie genoeg plofkrag nie en daar is op die oog af te veel leemtes.

Hoekom vaar die Crusaders só goed? Hulle is uitgeslape en speel slim, hulle wurg hul teenstanders, dwing hulle tot foute en slaan dan die kitaar.

Die Crusaders skop takties goed, skep altyd geleenthede vir ʼn spanmaat, het saam met die Lions die meeste drieë (77) gedruk, maar baie minder as die Lions afgestaan (39 teenoor 55). Hulle skrum stewig en Sam Whitelock, Kieran Read en Scott Barrett sorg vir oormaat-besit in die lynstane. Matt Todd en Jordan Tofua (die enigste nie-All Blacks in die pak) versuur die teenstanders se besit in die los.

Sjoe, dis darem vreeslik baie lofsange, maar kan jy teen sulke statistiek stry?

 Spanne ‒

Crusaders
15 David Havili, 14 Seta Tamanivalu, 13 Jack Goodhue, 12 Ryan Crotty, 11 George Bridge, 10 Richie Mo’unga, 9 Bryn Hall, 8 Kieran Read, 7 Matt Todd, 6 Jordan Taufua, 5 Sam Whitelock (kaptein), 4 Scott Barrett, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Andrew Makalio, 17 Tim Perry, 18 Michael Ala’alatoa, 19 Luke Romano, 20 Pete Samu, 21 Mitchell Drummond, 22 Mitchell Hunt, 23 Braydon Ennor.

Hurricanes
15 Nehe Milner-Skudder, 14 Julian Savea, 13 Jordie Barrett, 12 Ngani Laumape, 11 Ben Lam, 10 Beauden Barrett, 9 TJ Perenara, 8 Blade Thomson, 7 Gareth Evans, 6 Brad Shields (kaptein), 5 Sam Lousi, 4 Michael Fatialofa, 3 Jeff To’omaga-Allen, 2 Ricky Riccitelli, 1 Toby Smith. Bank: 16 James O’Reilly, 17 Chris Eves, 18 Ben May, 19 Vaea Fifita, 20 Ardie Savea/Reed Prinsep, 21 Jamie Booth, 22 Ihaia West, 23 Wes Goosen.

Afskop: 09:35
Skeidsregter: Jaco Peyper (Suid-Afrika).
Assistentskeidsregters: Mike Fraser en Ben O’Keefe (albei Nieu-Seeland).
TV-skeidsregter: Shane McDermott (NS).
Verwagte weer: Koud (tussen 5°C en 15°C) met ʼn 25%-kans op reën.
Voorspelling: Crusaders met 12 punte.

*Statistiek van Opta verky.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.