Superrugby-halfeind: Hoe gaan jy die Crusaders keer?

Dis die hartklop van enige rugbyspan,  ʼn pak voorspelers wat oorheers.

Van laerskool af tot by ʼn suksesvolle Springbokspan … wanneer jou pak vorentoe gaan, wanneer jy die skrums, lynstane en losgemale oorheers, kan jy maar die deure van die winkel toemaak, die slag is geslaan.

Dis hoekom die Crusaders Saterdagoggend in Christchurch  die Superhalfeindstryd teen die Chiefs behoort te wen.

Sewe All Black-voorspelers in die opdrafspan, en nog twee op die bank.  Die agtste,  Jordan Taufau, sou in menige lande se toetsspan ingestap het, maar by die Crusaders het hy tot verlede jaar in die skaduwee van Richie McCaw, Kieran Read, Matt Todd, Luke en Adam Whitelock beweeg. Nou kom hy tot sy reg en is dit nie ʼn geval van as nie, maar wanneer die All Blackafrigter, Steve Hansen, hom gaan nader trek.

Kom ons tref vergelykings:  afgesien van die Chiefs se All Black-slot Brodie Retallick en dalk die flank Sam Cane, kry al die Crusaders bo hulle regmerkies: Read, Todd, Sam Whitelock, Scott Barrett, Owen Franks, Codie Taylor en Joe Moody.

Hoe gaan  Nepo Laulala, Nathan Harris, Kane Hames, Mitchell Brown (ʼn versoolde flank wat slot speel), die veteraan Liam Messam en Michael Leitch die aanslag keer?

Agterlangs  spog die Chiefs met van die begaafste spelers: Damian Mckenzie, James Lowe, Anton Lienert-Brown, Charlie Ngatai,  Aaron Cruden en Tawera Kerr-Barlow. Maar as jy die bal op die agtervoet kry, as jy nie oor die voordeellyn kan kom nie, en as die uitwerking van lang vlugte met jou kop begin smokkel, kan jy maar die handdoek ingooi.

Hoekom is die Crusaders die gunstelinge? Hulle speel tuis, hulle het algeheel tweede geëindig (en net een keer verloor toe hulle met ʼn verswakte span deur die Hurricanes geklop is) en as dit steeds reën, sal die toestande hulle ook nog beter pas.

As die Lions die Hurricanes in die ander halfeindstryd klop, moet die wenspan na Ellispark vir die eindstryd reis.

Die Crusaders sal dalk daarna uitsien, maar vir die Chiefs sal dit ʼn nagmerrie wees.

Die spanne –

Crusaders
15 David Havili, 14 Israel Dagg, 13 Jack Goodhue, 12 Ryan Crotty, 11 Seta Tamanivalu, 10 Richie Mo’unga, 9 Bryn Hall, 8 Kieran Read, 7 Matt Todd, 6 Jordan Taufua, 5 Samuel Whitelock (kapt.), 4 Scott Barrett, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Ben Funnell, 17 Wyatt Crockett, 18 Michael Ala’alatoa, 19 Luke Romano, 20 Pete Samu, 21 Mitchell Drummond, 22 Mitchell Hunt, 23 George Bridge.

Chiefs
15 Damian McKenzie, 14 Tim Nanai-Williams, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Charlie Ngatai, 11 James Lowe, 10 Aaron Cruden, 9 Tawera Kerr-Barlow, 8 Michael Leitch, 7 Sam Cane (kapt.), 6 Liam Messam, 5 Brodie Retallick, 4 Mitchell Brown, 3 Nepo Laulala, 2 Nathan Harris, 1 Kane Hames.  Bank: 16 Liam Polwart, 17 Aidan Ross, 18 Atu Moli, 19 Dominic Bird, 20 Lachlan Boshier, 21 Finlay Christie, 22 Stephen Donald, 23 Shaun Stevenson.

Afskop: 09:35 (SA tyd).
Verwagte weer: Die reën kan opklaar, maar dit sal bitter koud wees.
Skeidsregter: Glen Jackson (Nieu-Seeland).
Assistent-skeidsregters:  Angus Gardner (Australië) en Ben O’Keeffe (NS).
Televisie-skeidsregter: Glenn Newman (NS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Callie ·

Ek sit geld op eindstryd tussen Crusaders en Hurricanes. Druk gaan op Jantjies geplaas word en soos elke keer wat dit gebeur val hy uitmekaar. Dan neem hy swak besluite, skop teen iemand vas of gooi bal weg. Jammer, so graag ek leeus wil sien wen, so seker is ek van my feite

Jack Russl ·

Ek is bly jy ken die feite oor wat in die wedstryd gaan gebeur. Kan jy ons sommer die telling ook gee, aangesien jy die feite het

Nico K ·

Die Hurricanes het ‘n uitstekende span. Maar die Leeus het laasweek hul afdag gehad en sal beslis daarop verbeter. Hier kom ‘n groot wedstryd met 2 spanne wat lief is om te hardloop.

Linette ·

‘n Halfeindstryd tussen ‘n Aussie en N-Z span in die Superugby 2017 …… met ‘n N-Z skeidsregter. Raai wie gaan wen …………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.