Superrugby-halfeindstryd: Waratahs sal veral voorlangs sukkel

Die reëls en benadering van spanne, hul strategieë en vaardigheid, het deur die jare verander, maar dié waarheid geld steeds in vandag se rugby: Jy moet eenvoudig voorlangs jou man kan staan.

Dít is waar die Waratahs Saterdag (15:05) op Ellispark in vanjaar se tweede halfeindwedstryd van die Superrugby-reeks teen die Lions tekort sal skiet.

Die Lions het tot dusver vanjaar die beste van die 15 spanne in die lynstane gevaar en was goed in die skrums. Laat ʼn mens ook nie vergeet dat die Waratahs sonder hul kaptein Michael Hooper, een van die wêreld se voorste baljagter, is nie.

Hier moet die rol van ʼn “spesialis” met omkeerbesit by die afbeekpunte (soos Malcom Marx, wat ná sy besering die wêreld aan die brand speel en hierdie faset oorheers) ook nie gering geskat word nie. Die Waratahs sal Hooper se afwesigheid veral hier voel.

Boonop word die rol van ʼn goeie kaptein gestaaf deur die skielike hoër vlak waarop die Lions speel sedert Warren Whiteley se terugkeer as leier. Die Waratahs het ʼn instaan-kaptein in Bernard Foley.

Die Waratahs kom met ʼn goeie rekord in hul laaste kwart van die Superreeks in Suid-Afrika aan. Hulle het ʼn goeie agterlyn vol driedrukkers en het van al 15 spanne in die reeks in die laaste vier wedstryde met hul 22 drieë die derde beste gevaar.

Hul spelers het ook meer suksesvolle breekslae as die Lions gemaak wat egter eerder met samespel as individuele briljantheid aanval.

Faktore wat die besoekers kan kniehalter, is dat hulle veel harder as die Lions moes spook om tot die halfeind deur te dring en teen die einde kwaai moes walgooi om die Highlanders te klop.

Dit is ook seker steeds by die Waratahs in die agterkop dat hulle vroeër die seisoen op hul tuisveld met 0-29 teen die Lions verloor het en die vorige twee seisoene ook teen die Lions pak gekry het: verlede jaar met 36-55 en in 2015 met 22-27.

Hulle het ook in 2009 laas op Ellispark gewen.

Die vlug na Suid-Afrika en die lugdruk bly ʼn gesamentlike faktor en bondgenoot van die Lions.

Die Waratahs sal voor bontstaan, dáároor is daar min twyfel. Hoewel hulle in die heelagter Israel Folau en die senter Kurtley Beale van die heel voorste driedrukkers en baldraers in die reeks het, kan die Lions in dié opsig ook tong uitsteek met hul twee uitstekende vleuels, die blitsige Aphiwe Dyantyi en Ruan Combrinck.

Sal die besoekers hierdie twee voortdurend wyd kan keer nadat hulle hard om besit moes spook? ʼn Mens wonder.

Spanne

Lions: 15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrink, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Warren Whiteley (kaptein), 7 Lourens Erasmus, 6 Kwagga Smith, 5 Franco Mostert, 4 Marvin Orie, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Corné Fourie, 17 Dylan Smith, 18 Johannes Jonker, 19 Hacjivah Dayimani, 20 Marnus Schoeman, 21 Dillon Smit, 22 Courtnall Skosan, 23 Howard Mnisi.

Waratahs: 15 Israel Folau, 14 Alex Newsome, 13 Curtis Rona, 12 Kurtley Beale, 11 Taqele Naiyaravoro, 10 Bernard Foley (kaptein), 9 Nick Phipps, 8 Michael Wells, 7 Will Miller, 6 Ned Hanigan, 5 Rob Simmons, 4 Jed Holloway, 3 Sekope Kepu, 2 Tolu Latu, 1 Tom Robertson.
Bank: 16 Damien Fitzpatrick, 17 Harry Johnson-Holmes, 18 Paddy Ryan, 19 Tom Staniforth, 20 Brad Wilkin, 21 Jake Gordon, 22 Bryce Hegarty, 23 Cam Clark.

Afskop: 15:05
Skeidsregter: Glen Jackson (Nieu-Seeland)
Assistentskeidsregters: Marius van der Westhuizen en Rasta Rasivhenge (albei Suid-Afrika)
TV-skeidsregter: Marius Jonker (Suid-Afrika)
Verwagte weer Saterdag: Sonskyn, temperatuur tussen 6°C en 21°C
Voorspelling: Lions wen met 13 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.