Superrugby: is ‘n oorlog of net ‘n veldslag gewen?

Jy wen nie die Curriebeker in Mei nie.

Só het Naas Botha altyd gesê wanneer Noord-Transvaal destyds aan die begin van die seisoen nog nie heeltemal aan die verwagtinge voldoen het nie.

Botha het geweet dat die reeks ʼn marathon is, dat die pasaangeërs mettertyd sal uitsak, dat die Blou Bulle momentum sal opbou, dat hulle die stang sou vasbyt wanneer dit werklik saak maak.

Wanneer word die Superreeks gewen? Beslis nie in April nie.

Ja, die Stormers het die Chiefs verlede week met 34-26 geklop en is saam met die Crusaders die enigste onoorwonne span in die reeks. Hulle is een van die vroeë gunstelinge, die pasaangeërs.

Maar het hulle die  nodige uithouvermoë? Kan hulle Saterdag op Nuweland teen die Lions daarop voortbou en dan in Nieu-Seeland teen die Crusaders, Highlanders en Hurricanes steeds onoorwonne bly of darem ʼn paar bonuspunte insamel?

Die Superreeks is nie ʼn marathon nie, dis die Comrades van rugby en Polly Shorts lê nog voor.

Die tekens is daar. Daar is ʼn oplewing in die Kaap, die spelpeil van die meeste spelers het baie verbeter  en onder die Nieu-Seelandse aanvalsafrigter Paul Feeney (wie het al van hom gehoor voor die seisoen?) word  daar soos in Nieu-Seeland gespeel.

Maar kom ons draai eers briek aan en plaas die oorwinning oor die Chiefs in perspektief.

Die Nieu-Seelanders het verlede seisoen by die agterdeur van die uitspeelrondes ingeglip nadat hulle vierde in die Australasiese en derde in die Nieu-Seelandse afdeling geëindig het.

Hulle het toe teen die Lions (met 32-36) in Hamilton verloor, die Highlanders het hulle met 26-13 geklop en hulle het met 24-22 teen die Sharks deurgeskraap.

Ja, hul beste vertoning was in die kwarteindstryd toe hulle die Stormers met 60-21 afgeslag het. Dis hoekom die Stormers verlede Saterdag só opgesweep was, dis hoekom die humeure kort ná die afskop oorgeborrel het. Die eerste veldslag is gewen, maar nog nie die oorlog nie.

Die groot vraag is of die Lions die skok van hul afrigter, Johan Ackermann, se besluit al verwerk het dat hy aan die einde van die reeks in Gloucester in Engeland gaan afrig. Watter uitwerking sal dit op die spelers hê wanneer hulle die Stormers pak? Sal hulle onder die hulpafrigter Swys de Bruin op hul ondernemende spel kan voortbou?

♦  Wat gaan op Loftus Versfeld gebeur wanneer die Bulls met die rug teen die muur teen die Jaguares speel? Gaan die tuis-ondersteuners hulle span bly ondersteun? Gaan Nollis Marais se pleidooie om agter die span te staan, nie op dowe ore val nie?  Jare gelede het die ondersteuners dit maar gedweë aanvaar wanneer hul span nie die mas opgekom nie.

Maar daardie jare is verby. Kyk maar hoe ons landskap verander het, hoeveel Suid-Afrikaners die week opgeruk het Uniegebou toe.

Die Bulls is in die laaste loopgraaf. Net een sege, en dis nie genoeg nie, sê die ondersteuners.

Gaan die Bulls dus hardloop en hardloop, of gaan hulle by die basiese beginsels hou en so min foute as moontlik maak?

In sulke tye word helde gebore, in sulke tye kan die koppe rol.

♦  Daar wag slae op die Cheetahs en die Southern Kings wanneer hulle onderskeidelik die Chiefs (in Bloemfontein) en Reds (in Brisbane) pak. Hoe berei jy ʼn span voor as hul toekoms duister is? Hoe sweep jy hulle op as die mat onder hul uitgeruk is?

♦ En o ja, in Auckland sal die nuwe trui wat Sonny Bill Williams vir die Blues teen die Hurricanes dra, groot belangstelling uitlok. Oor sy geloofsredes is geen bankadvertensies daarop nie.

Is dit nie net ʼn storm in ʼn teekoppie nie, of moet daar meer na die spelers geluister word? 

Die naweek se bepalings – 

Vrydag: 09:35: Crusaders vs Sunwolves (Christchurch)

Saterdag: 07:05: Reds vs Southern Kings (Brisbane)
09:35: Blues vs Hurricanes (Auckland)
11:45: Rebels vs Brumbies (Melbourne)
15:05: Cheetahs vs Chiefs (Bloemfontein)
17:05: Stormers vs Lions (Kaapstad)
19:35: Bulls vs Jaguares (Pretoria)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gawie ·

Wanneer laas het die Lions die Stormers op Nuweland geklop. Het hulle al ooit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.