Superrugby: Kings laat SA rugbybase hopelik wakker skrik

Wat nou?

Hoe langer die  Superreeks duur, des te moeiliker gaan dit vir die Suid-Afrikaanse rugbybase word om die deur in die Southern Kings se gesig toe te klap.

Dalk is die besluit reeds geneem om hulle en die Cheetahs van hul Superrugbystatus te stroop, maar om voete te sleep, maak die probleme net erger.

Die Kings (15) het ná hul skitteroorwinning van 44-3 oor die Melbourne Rebels nou meer ligapunte as die Bulls (14), wat darem ʼn wedstryd minder gespeel het, en die Cheetahs (10).

Ja, hulle speel in ʼn ander afdeling, teen die swakker Australiese spanne, maar hulle het reeds 33 drieë teenoor die Bulls se 19 en Cheetahs se 22 gedruk.

Nog belangriker, daar is ʼn opflikkering in hul spel, hulle speel vir mekaar, ʼn hele paar nuwe diamante is ontdek en boonop woeker hulle met plaaslike talent.

♦  Vergelyk die Kings se vertoning met dié van die Cheetahs, wat met 48-21 deur die Crusaders in Bloemfontein afgeslag is.

Terwyl die Kings nie gaan lê het nie, kry ʼn mens die idee dat Cheetahs hul lot aanvaar het dat hulle aanstaande jaar nie meer Superrugby sal speel nie, want daar is ʼn algehele insinking in hul spel.

Hul verdediging is bra verdag (hulle het reeds  42 drieë deurgelaat en 328 punte afgestaan), en dit gaan nie makliker raak nie, want hulle moet nog tuis teen die Highlanders en oorsee teen die Blues en Hurricanes speel.

♦  Van die Highlanders gepraat: nadat die Crusaders die Stormers verlede week teruggebring het aarde toe, het die Highlanders hul leemtes verder oopgevlek toe hulle Vrydag die Stormers met 57-14 oorrompel het. Dit was die Stormers se derde nederlaag namekaar, nadat hulle ook teen die Lions verloor het. Die Hurricanes lê die naweek voor, en maak dit dus maar vier neerlae na mekaar.

Die les wat hieruit geleer moet word, is dat ʼn nuwe hardlooppatroon nie oornag aangeleer kan word nie. Doen maar huiswerk by die Lions en gaan kyk hoe lank gelede John Mitchell die saadjie geplant het. Johan Ackermann en Swys de Bruin het daarop voortgebou.

♦  Die Lions moes juis Saterdag in Perth swoeg om die Force met 24-15 te troef. Die bonuspunt-drie wat Elton Jantjies reg aan die einde gedruk het,  kan vorentoe nog baie beteken, want uitspeelwedstryde tuis is die boerpot.

Die Force, net soos die Kings en die Cheetahs, wag ook om afgeslag te word. Daar is baie min vaart en ondernemingsgees en hoe die oud-Wallabyhaker Phil Kearns in sy televisiekommentaar aan die einde kon dink dat hulle van hul eie doellyn af ʼn drie kon druk, laat jou oor sy insig wonder.

♦  Die Sharks het in Buenos Aires ʼn groot slag geslaan toe hulle die Jaguares met 33-25 geklop het. Daar is nou ʼn buffer tussen die Lions (37), die Sharks (28) en die Jaguares (20).

Wat ook uitgestaan het, is dat die besluit om Beast Mtawarira tuis te los, geen invloed gehad het nie, want Thomas du Toit, Lourens Adriaanse en later ook Coenie Oosthuizen het die Jaguares voorlangs gryshare gegee. Dis hoe jy hulle klop, boer in hul gesigte, duik hulle terug.

Dis ook soms nodig om rugbyspelers die koppe te was, soos die afrigter, Robert du Preez, dit ná verlede Saterdag se geploeter teen die Rebels gedoen het.

♦  Oorsee het die Chiefs hul aanspraak behou deur die Sunwolves met ʼn gelapte span met 27-20 te klop.

In Australië duur die treurmare van saai rugby voort. Die Waratahs het darem die Reds met 29-26 verslaan en die Brumbies het nog ʼn Aussie-neerlaag gely toe die Blues hulle Sondagoggend met 18-12 geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Die hele Super 18 kwalifiseringsstelsel is in ierder geval belaglik,want op hierdie stadium
kwalifiseer die Brumbies,Aussies se konferensie voorloper met 18 punte, terwyl die swakste NZ-span die Blues op 22 punte uitval

Hoekom kan daar nie ‘n streekspan van die Oostelike Provinsie en die Westelike Provinsie gevorm word nie.

Provinsialisme is besig saam met swak afrigting Suid Afrikaanse rugby te kelder.

Wessie ·

Wel, as jy spanne wil saamvoeg sal dit geografies meer sin maak om die Bulls en die Lions ‘n streekspan te maak !

Reinier ·

Dis miskien nou die tyd om verby die huidige opset te kyk en na ñ ander opset wat rugby deur die hele land sal bevoordeel. Kies een span vir die noorde, een vir die suide , een sentrale span en een in die ooste (KZN).
So sal al die streke baat deur samesmelting van krag en talent in die streke wat uitgesluit gaan word steeds behoue bly en nuwe talet ondek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.