Superrugby: Kiwi-spanne blink, Aussies bra dof

(Grafika: Super Rugby Pacific @SuperRugby/Twitter)

In Nieu-Seeland is rugby steeds kerngesond, maar in Australië bly dit maar oninspirerend.

Dit was die afleiding wat gemaak kon word ná die naweek se reeks wedstryde in die nuwe Pasifiese Superreeks (sonder die Suid-Afrikaanse franchises) waaraan die Fidjiaanse Drua en Moana Pasifika (ʼn gekombineerde span van Samoa, Tonga en die Cook-eilande) saam met die tien Nieu-Seelandse en Australiese spanne (vyf elk) deelneem.

In Dunedin het die Crusaders die Hurricanes, ná busritte van langer as vier uur tussen Queenstown (waar al die Nieu-Seelandse spanne saamgetrek is om Covid-19 te systap) met 42-32 geklop.

Die Chiefs het vroeër in Queenstown (waar daar nie spreiligte is nie) ʼn oorwinning van 26-16 oor die Highlanders behaal.

* In Australië het die Waratahs Vrydag in Paramatta ʼn oorwinning van 40-10 oor Fidji Drua behaal, terwyl die Reds in Brisbane die Rebels (wat deur die oud-Ikey-breier Kevin Foote, wat 43 keer vir die Blitsbokke tussen 2002 en 2004 gespeel het) afgerig word, met 23-5 geklop.

Soos ons oor die jare heen geleer het, speel die Nieu-Seelanders teen ʼn vinniger tempo, hul vaardigheidsvlakke is hoër en hulle skep baie meer kanse.

Daar word nie te veel klem op verdedigingspatrone geplaas nie en daar word nie ook nie baie druk op teenstanders geplaas nie.

Spelskeppers soos Will Jordan, Jordie Barret en Josh Ioane was kookwater, terwyl Brodie Retallick van die Chiefs die keur van die voorspelers was.

In Australië word daar, net soos in Suid-Afrika, meer klem op fasespel geplaas, terwyl rolmale ook deel van die Aussie-spanne se bloudruk is.

Van die groot uitblinkers was die Reds se losskakel, James O’Connor, wat in sy 100ste Superwedstryd gespeel het, Tate McDermott, Taniela Tupou en Harry Wilson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.