Superrugby kry teenstander ná Force-slag in hof

Andrew Forrest – beoog nuwe rugbyreeks. (Foto: Facebook)

Die stigting van ‘n teenvoeter vir Superrugby is in Australië aangekondig nadat die Wes-Australiese Rugbyunie (WARU) sy appèl teen die Western Force se weglating uit die Sanzaar-reeks verloor het.

Die mynmagnaat Andrew Forrest het luidens berigte uit Australië Dinsdag sy voorneme bevestig om ‘n nuwe Indo- Stille Oseaan-reeks met ‘n Perth-gebaseerde en vyf ander spanne te stig.

Hy het onderneem om binne die komende paar dae meer besonderhede oor die nuwe reeks bekend te maak.

Dit volg nadat die hooggeregshof in Nieu-Suid-Wallis die WARU se appèl verwerp het.

Forrest het insgelyks laat blyk dat hy sy prokureurs opdrag gegee het om aansoek te doen om appèl teen die NSW-hofuitspraak by die Australiese hooggeregshof aan te teken.

Regter David Hammerschlag het in sy onlangse uitspraak die Australiese Rugbyunie (ARU) gelyk gegee dat die ooreenkoms tot 2010, wat laasgenoemde met WARU gehad het, verval het in die lig van die gewysigde TV-regtekontrak wat slegs vir 15 Superrugbyspanne voorsiening maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.