Superrugby-kwarteindstryd: Is dit die regte span?

John Plumtree – was deel van die “verrassing” wat Ian McIntosh gebruik het in die 1990-eindstryd teen Noord-Transvaal (Twitter@1NewsSportNZ)

Jare gelede, toe Ian McIntosh nog die destydse Natalse rugbyspan afgerig het, het jy maar swaar daaraan gesluk wanneer hy sy span aangekondig het.

Jy het nooit geweet of Steve Atherton slot of flank sou speel wanneer X of Y “beseer” was nie. Jy kon ook maar redelik seker daarvan gewees het dat ʼn beseerde speler “wonderbaarlik” van sy besering sou herstel het wanneer hy die Saterdag fiks en flink uitgedraf het.

Dit was ook maklik vir McIntosh om sy geheime te bewaar, want selfs die plaaslike media was deel van die “Kingspark-gesin”.

Dis waar McIntosh die saadjie van onsekerheid gesaai het, en dit het baie keer die nodige dividende opgelewer, self in Curriebeker-eindwedstryde.

André Markgraaff, een van die groot denkers van die spel, was ook ʼn meester daarvan, want wanneer jy hom destyds gepols het oor Griekwas se opdrafspan, was dit soos ʼn raaisel.

“Boeta Wessels is heelagter, maar as hy nie fiks is nie, sal Robert Markram speel. Maar, Robert sukkel met griep en sal dalk ook nie kan speel niel. Jerry Nicholas kan in sy plek speel, maar hy het ʼn dyspierbesering. Gaffie (du Toit) kan darem ook heelagter speel en dan is daar ook Lourens Venter,” en so aan en so aan.

Baie ander afrigters, ook van oorsee, het dié stukkie taktiek gebruik voordat die rugbybase ingegryp het en, behalwe in uitsonderlike gevalle, afrigters nie meer toegelaat word om onnodig kopspeletjies te speel nie.

Dis hoekom dit effe vreemd was toe die Hurricanes vir Jordie Barrett, die All Blacks-heelagter, weer op senter gekies het vir Vrydag se Superrugby-halfeindstryd teen die Chiefs in Wellington. Maar dis uit noodweer oor beserings gedoen en ʼn mens maar moet aanvaar dis hoe die span sal opdraf.

Aan die ander kant, die Hurricanes se hulpafrigter is John Plumtree, wat jare lank in Durban onder Ian Mac gespeel het en daarna ook die Sharks jare lank afgerig het.

Hy is aanvanklik as flank van die Natalse opdrafspan vir die 1990-eindstryd teen Noord-Transvaal gekies, maar die latere Bokslot Steve Atherton het toe onverwags as flank opgedraf.

Die Ligbloues is deur die swaarder Natalse pak onkant betrap en toe Plumtree later opkom, het McIntosh se truuk klaar sy werk gedoen.

As die Lions Saterdag die Jaguares op Ellispark klop, speel hulle teen óf die Waratahs óf die Highlanders in die halfeindstryd op Ellispark.

Die spanne ‒

Hurricanes
Nehe Milner-Skudder, Julian Savea, Jordie Barrett, Ngani Laumape, Ben Lam, Beauden Barrett, TJ Perenara, Blade Thomson, Gareth Evans, Brad Shields/Reed Prinsep, Sam Lousi, Michael Fatialofa, Jeff To’omaga-Allen, Ricky Riccitelli, Toby Smith. Bank: James O’Reilly, Chris Eves, Ben May, Vaea Fifita, Reed Prinsep/Sam Henwood, Jamie Booth, Ihaia West, Wes Goosen/Jonah Lowe.

Chiefs
Solomon Alaimalo, Sean Wainui, Anton Lienert-Brown, Charlie Ngatai,  Shaun Stevenson, Damian McKenzie, Brad Weber, Liam Messam, Sam Cane (kaptein), Lachlan Boshier, Michael Allardice, Brodie Retallick, Angus Ta’avao, Nathan Harris, Karl Tu’inukuafe. Bank: Liam Polwart, Sam Prattley, Jeff Thwaites, Jesse Parete, Mitch Karpik, Te Toiroa Tahuriorangi, Marty McKenzie, Alex Nankivell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Die Wenner tussen die Lions en Jaguares speel teen die wenner van die Waratahs en Highlanders…

Wim van der Berg ·

Dankie vir die uitwys van die fout, Willem. Dit is reggemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.