Superrugby: Lions lag alte lekker

Ross Cronjé se uitstekende dekverdediging kon hierdie drie van die Bullsvleuel Johnny Kotze nie verhoed nie. (Foto: GB Jordaan)

Dit was ʼn ongewilde besluit, maar wie geen nóú om, want die Lions het Saterdag op Loftus Versfeld die Bulle se tjank met 49-35 afgetrap en gewys dat daar ondanks die lofsange nog ʼn lang paadjie vir John Mitchell en die Bulls is wat gestap moet word.

Die Lions het verlede week besluit om laer te trek en byna geen media-onderhoude toe te staan nie.

Aikôna, is daar gesê, dis nie hoe dit gedoen moet word om die wedstryd te bemark nie. Maar dit het die aandag van die spelers afgetrek, hulle uit die kollig gehou en die span, wat reeds Dinsdag aangekondig is, kon voortgaan om te beplan en ʼn strik vir die Bulls te stel.

Die Lions het die Bulls voos gemaal en gedryf en die Bulls het nie antwoorde daarop gehad nie.

Trouens, die twee geelkaarte wat die Bulls se Nic de Jager en Conraad van Vuuren feitlik gelyk gekry het, was ʼn direkte gevolg van jonger en onervare spelers wat nie die tsoenami kon stuit nie.

Watter lesse is daar vir die Bulls te leer?

Dis uiters verblydend dat Mitchell ʼn ommekeer in hul denk- en spelpatroon tuisgebring het.

Dis verblydend om te sien hoe die vaardighede van byna al die spelers verbeter het, maar sukses gaan nie oornag gebeur nie. Rome is nie in ʼn dag gebou nie, is ons mos van ons laerskooldae af geleer.

Die Lions, onder Mitchell, het in 2011 die Curriebekerreeks gewen toe hulle met ʼn vernuwende patroon die Bokbelaaide Sharks met 42-16 in die eindstryd opgefrommel het.

Maar dit het byna vyf jaar geneem om die patroon behoorlik in Superrugby gevestig te kry.

Onthou gerus dat die Lions in 2013 in die Superkoue gegooi is en die Southern Kings in hul plek ingeskuif is. Die Lions het in 2014 deurgeskraap om weer Superrugby te speel en toe kon die afrigter, Johan Ackermann, voortgaan met sy avontuurlike spelpatroon.

♦  En die Sharks en Stormers?

Dit gaan ʼn lang seisoen vir die Sharks wees nadat hulle op Kingspark met 24-elk teen die Waratahs gelykop gespeel het.

Baie kenners het die Sharks die regmerkie as Suid-Afrika se voorste span gegee, maar hulle sal gou die doelpale moet verskuif en hul vaardighede en wedstrydplan opskerp. Kyk maar hoe vinnig sal Kingspark se paviljoene leegloop as dit nie gebeur nie.

Die Stormers, wat gesukkel het om die Jaguares op Nuweland te klop, is Saterdag met 45-28 deur die Crusaders in Christchurch gestuit. Nou is Pieter-Steph du Toit ook beseer en daar sal diep en indringend na die probleme gekyk moet word. Ek sien darem die WP-president, Thelo Wakefield, is saam met die span in Nieu-Seeland.

Dis nóú die tyd om op te tree.

♦  Die Jaguares, wat die vyfde span in die Suid-Afrikaanse groep in die Superreeks is, wys dié seisoen met nuwe afrigter en al geen teken van vooruitgang nie.

Hulle is Saterdagaand met 34-9 (vyf drieë teen geen) in Buenos Aires deur die Hurricanes afgeransel wat ná twee lang vlugte – van Nieu-Seeland na Loftus en toe na Buenos Aires – maklik gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Spelpatrone word oor ‘n paar gevorm met spelers wat in die groep bly en daarmee vertroud raak.Jantjies was onder Coetzee soos ‘n vis op grond, so het hy gespartel.

Dit is baie Suid Afrikaanse spanne se probleem.Groot naam spelers word links en regs
aangekoop maar het nog vir die Stormers of Sharks positiewe resultate gelewer.

pbotha ·

Well done leeus…jult my span n paar lesse geleer voor. Maar hou maar die Bul dop …youngsters met guts. As iemand vir Rassie persoonlik ken, vra hom ASB om vir Fav terug te bring SA toe…daai hopelose 9 van leeus gaan ons nog baie toetse kos ?Marx jou yster!!

Josua Keys ·

Ek stem nie heeltemal saam jou wat Ross aanbetref nie, Faf wel en moes nooit toegelaat gewees het om oorsee te gaan nie maar ons kon nie sy aanbod ewenaar nie, so voel ek oor Akker VD Merwe ook hy pas glad nie by die Sharks in nie en voel ek hy was die Leeus se tweede beste hakker, as ek swys is bring ek hom so gou moontlik terug, Robbie Coetzee sal baie goed by die Sharks inpas want hy speel hul tipe rugby maar by die Leeus maar net so een of twee goeie wedstryde gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.