Superrugby: Lions moet Waratahs-stoomtrein keer

Taqele Nayiarovoro – stormram. (Foto: Facebook)

Stop die lorrie!

Dit sal die boodskap in die Lions-kleedkamer wees voordat hulle Vrydag (11:45) in Sydney in die Superrugbyreeks teen die Waratahs speel.

As die Lions dit regkry om die ‘Tahs se Fidjiaanse stormram-vleuel Taqele Nayiarovoro te stuit, sal die stryd halfpad gewonne wees.

As dit nie gebeur nie, kan die Lions se maandlange toer op ’n laagtepunt afskop.

Naiyravoro (1,95 m en 125 kg) laat ’n mens baie aan die All Black-stoomtrein Jonah Lomu herinner.

Naiyravoro het vanjaar reeds sewe drieë (die tweede meeste in die reeks) gedruk. Hy het reeds 562 meter met die bal gevorder (die derde meeste in die reeks) en volgens statistieke vorder hy elke keer minstens 13 meter met die bal voordat hy platgetrek word.

Dis geen wonder nie dat die Waratahs se afrigter, Daryl Gibson, soveel klem op die Fidjiaan lê, want Gibson het tussen 1996 en 2002, toe hy 77 keer vir die Crusaders senter gespeel het, baie met Lomu te doen gekry.

Tog het die Springbokke daarin geslaag om Lomu aan bande te lê, want hy kon in 11 toetse nie een drie teen die Bokke druk nie, terwyl hy met 37 toetsdrieeë in sy 52 ander toetse gespog het.

Dit het soms twee tot drie spelers (James Small, Japie Mulder, Hennie le Roux, Breyton Paulse, Joost van der Westhuizen of Ruben Kruger) gekos om Lomu aan bande te lê, maar dis altyd volbring.

Die Waratahs het ʼn houvas op die Lions, want hulle het hul afgelope drie wedstryde in Sydney gewen. Op Ellispark is die rugbyskoen darem aan die ander voet.

Die ʼTahs is ook op ʼn opwaartse kurwe, want hulle het hul jongste vier wedstryde gewen en ook gelykop teen die Sharks op Kingspark gespeel.

Die vlugvoetige senter Kurtley Beale sal ook goed opgepas moet word, want hy is die argitek van al die Waratahs se planne.

Ek glo egter dat Andries Coetzee, Ruan Combrick, Lionel Mapoe, Elton Jantjies en die pak voorspelers met Malcolm Marx aan die spits, genoeg skietgoed kan hê, al dink ek dalk met die hart en nie met die kop nie.

Die spanne –

Waratahs

15 Bryce Hegarty, 14 Alex Newsome, 13 Curtis Rona, 12 Kurtley Beale, 11 Taqele Naiyaravoro, 10 Bernard Foley, 9 Jake Gordon, 8 Michael Wells, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Ned Hanigan, 5 Rob Simmons, 4 Tom Staniforth, 3 Sekope Kepu, 2 Damien Fitzpatrick, 1 Tom Robertson. Bank: 16 Hugh Roach, 17 Harry Johnson-Holmes, 18 Paddy Ryan, 19 Nick Palmer, 20 Jed Holloway, 21 Will Miller, 22 Nick Phipps, 23 Lalakai Foketi.

Lions

15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Madosh Tambwe, 10 Elton Jantjies, 9 Dillon Smit, 8 Hacjivah Dayimani, 7 Franco Mostert (kaptein), 6 Kwagga Smith, 5 Marvin Orie, 4 Andries Ferreira, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Robbie Coetzee, 17 Dylan Smith, 18 Jacobie Adriaanse, 19 Lourens Erasmus, 20 Marnus Schoeman, 21 Nic Groom, 22 Rohan Janse van Rensburg, 23 Sylvian Mahuza.

Skeidsregter: Mike Fraser (Nieu-Seeland).
Assistent-skeidsregters: Damon Murphy en Graham Cooper (albei Australië).
TV-skeidsregter: George Ayoub (Australië).

♦ In Vrydag se vroeë wedstryd (09:35) spook die Highlanders op Edenpark, Auckland, sake uit met die sukkelende Blues.
Geoordeel op spelpeil, behoort die wenner ooglopend te wees, maar nie almal glo aan die tandemuis nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.