Superrugby: Lions selfs nie van kwarteind verseker nie

Die laaste drie naweke om ʼn posisie in die uitspeelrondes van die 2018-Superreeks los te speel, begin Vrydag ‒ en vir die Suid-Afrikaanse spanne is die vooruitsig uiters mistroostig.

Soos sake tans staan, sal net die Lions van Suid-Afrika op 20 Julie in die kwarteindronde van die reeks speel, met die enigste ander span van die Suid-Afrikaanse groep, die Jaguares, wat gerieflik voor die ander drie Suid-Afrikaanse franchise’e is.

♦ Die moontlikheid is egter ook steeds dat die Lions nie boaan die Suid-Afrikaanse afdeling gaan eindig nie en selfs die kwarteind mag misloop.

Hul lot is nou in hul eie hande. Hulle móét albei hul oorblywende wedstryde wen om seker te maak hulle vorder kwarteindstryd toe.

Die Lions het nou 40 ligapunte voor Saterdag se wedstryd teen die Sharks in Durban. Dit is net ses punte voor die Jaguares (34). Die Lions het egter ná die Sharks net een wedstryd, oor twee weke teen die Bulls op Ellispark, wat oorbly.

Bonuspunte kan in dié wedstryde baie belangrik wees. Verloor die Lions enige een van hul oorblywende twee wedstryde teen die Sharks of die Bulls, kan die Jaguares op hul beurt, deur net twee van hul oorblywende drie wedstryde teen die Stormers (tuis), die Bulls (op Loftus) of die Sharks in Durban te wen, eerste in die afdeling eindig.

Dán word dit ʼn kwessie van totale ligapunte of die Lions, en of miskien selfs (uiters onwaarskynlik, maar tog moontlik) die Bulls of die Sharks Suid-Afrika se tweede span in die uitspeelrondes sal wees. Of selfs dat geen Suid-Afrikaanse franchise in die kwarteind is nie.

♦ In die Australiese afdeling keil die Waratahs en die Rebels mekaar op. Met drie wedstryde wat vir albei oorbly, is die Waratahs (35 ligapunte) net een punt voor die Rebels.

Hulle speel Saterdag in Melbourne teen mekaar. Die naweek daarop het hulle albei wedstryde wat hulle behoort te wen wanneer die Rebels weg teen die wisselvallige Reds te staan kom en die Waratahs gasheer vir die Sunwolves is.

Die bepalende wedstryde vir die twee Aussie-voorlopers sal egter albei spanne se laaste op 14 Julie wees, wanneer die Rebels in Dunedin weg teen die Highlanders moet wen en die Waratahs die Brumbies in Sydney ontvang.

Ongeag wat hierdie naweek gebeur, lyk dit of die Ligbloues van Sydney die binnebaan het om outomaties na die uitspeelrondes te promoveer.

♦ Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt, veral as die Lions tweede ná die Jaguares in die afdeling eindig, is die vraag egter of die tweede beste span in die Australiese afdeling meer ligapunte as die tweede beste van die SA afdeling sal hê.

Dit kan die Lions se doppie klink met net die Jaguares wat dan deurdring kwarteindronde toe.

♦ Dit is natuurlik baie moontlik dat die Nieu-Seelandse afdeling vier spanne in die eindrondes sal hê. Op die huidige puntelyste gebaseer is die Crusaders, die Hurricanes, Highlanders en die Chiefs in die kwarteindrondes.

Trouens, hul vierde span, die Chiefs, het ná 13 wedstryde meer ligapunte (37) as al die nie-Nieu-Seelandse spanne behalwe die Lions (14 wedstryde, 40 punte).

Bepaling van die kwalifiseerders vir die uitspeelwedstryde ‒

Die voorste vier spanne is die drie afdelingwenners en die beste van die ander spanne gebaseer op ligapunte.

Hulle speel tuis (volgens hul ligapuntegradering) teen die volgende beste vier spanne volgens ligapunte uit al drie die afdelings van Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika.

Die kwarteindwedstryde word op 20 Julie gespeel, wat oor die daaropvolgende twee naweke deur onderskeidelik die twee halfeindstryde en die eindwedstryd op 4 Augustus gevolg word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.