Superrugby: Lions wys (weer) hoe dit gedoen moet word

Marnus Schoeman het weer van die bank sy ding kom doen en Marvin Orie het vanjaar in ʼn puik slot ontwikkel. (Foto: GB Jordaan)

Dit word al drie jaar oor en oor gesê, en raak sekerlik afgesaag soos ʼn langspeelplaat wat vasgehaak het, maar om ʼn Nieu-Seelandse rugbyspan te klop, moet jy hulle met hul eie spelpatroon troef.

En dít is om soos die Lions te speel, om die basiese vaardighede reg uit te voer en om meer drieë as hulle te druk.

Die Lions het nou die derde jaar na mekaar tot die halfeindstryd deurgedring en vir die derde  opeenvolgende seisoen wag ʼn moontlike eindstryd.

Kan die Stormers dit sê? Nee! En die Sharks? Nee. En die Bulls? Nee!

Dit volg nadat die Lions Saterdag op Ellispark met 40-23 oor die Jaguares gespoel het om aanstaande Saterdag, weer op Ellispark, in die halfeindronde teen die Waratahs te speel, wat die Highlanders met 30-23 in Sydney geklop het.

In die ander halfeindstryd speel die 2017-kampioen, die Crusaders, teen die Hurricanes.

Die Crusaders het die Sharks in Christchurch met 40-10 ore aangesit in ʼn wedstryd waarin daar opnuut gewys is hoe jy nié ʼn Nieu-Seelandse kan klop nie. Wanneer jou voorspelers nie oorheers nie en jy dit nie regkry om die teenstanders te boelie nie, kan jy maar daarvan vergeet om welslae te behaal.

Wanneer jy nie jou agterspelers reg benut nie, wanneer jy jou kanse verspeel, belangrike duikslae mis, die bal skeef in ʼn lynstaan gooi, strafskoppe in skrums afstaan en takties swak skop, kan jy maar daarvan vergeet om welslae te behaal. En dis waaraan die Sharks skuldig was.

Die Crusaders speel tuis teen die Hurricanes, wat die Chiefs Vrydag in Wellington met 32-31 geklop het. Geoordeel op dié seisoen se vertonings, op momentum, op ervaring om druk te hanteer en op vaardighede, behoort die Crusaders te seëvier.

Die Lions, wat die Waratahs behoort te klop, moet dan na Christchurch reis om die Crusaders te pak.

Hopelik sal die Lions se vertonings ʼn rigtingwyser vir die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, wees.

Ja, die Bokke het baie goed in die eerste twee toetse teen Engeland gevaar, juis omdat húlle dieselfde patroon as die Bokke volg.

Maar teen Nieu-Seeland? Aikôna!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
volla

Die Jaguares het nou 3 wedstryde na mekaar in SA verloor, dus geen groot prestasie deur die Lions nie. Ek dink hulle gaan sukkel teen die Waratahs en as hulle deurdring en hoogs waarskynlik teen die Crusaders speel, gaan hulle nog verder as die Sharks verloor.

Callie

Ou Wesley, al speel jy n honderd keer in semifinale, as jy hulle nie wen nie, het jy niks bereik nie. So tipies soos wat ons geraak het, al opgewonde oor ons amper dit gemaak het. Komaan manne, dis eerste of nerens. Kom by

LHS

Jy sien, dit is presies hier waar die grootste fout reeds in sport gemaak word, eerste of nerens, twak. Om met n span te speel wat dan nou bykans geen goed genoeg spelers het vir die nasionale span nie is dit mos n meer as uitsonderlik om 3 jaar na mekaar in die semi of finale te gespeel het. Wen en of rekords is n bonus. Om bo jou sogenaamde vermoe te presteer is baie meer uitsonderlik as n goeie span wat met n gemiddelde vertoning wen. Dan praat ons nie eers van die sogenaamde sterbelaaide nasionale spelers spanne wat… Lees meer »

Callie

As die Lions die beker wen sal ek my siening verander LHS. Tot dan weereens niemand onthou oor 2 jaar hulle was 3 keer in eindstryd nie. Die wenners word onthou. Harde, ware feite. Vra die Bulls. Nou nog nie vergeet van Lions se Super 10 nie. Teen wie was dit nou weer.

Dienkie

@ Ag toggie Volla jy is seker suur omdat jou span nie die hoogtes bereik wat die LIONS al bereik het nie. Op die LIONS!!!!!