Superrugby: Lions wys (weer) hoe dit gedoen moet word

Marnus Schoeman het weer van die bank sy ding kom doen en Marvin Orie het vanjaar in ʼn puik slot ontwikkel. (Foto: GB Jordaan)

Dit word al drie jaar oor en oor gesê, en raak sekerlik afgesaag soos ʼn langspeelplaat wat vasgehaak het, maar om ʼn Nieu-Seelandse rugbyspan te klop, moet jy hulle met hul eie spelpatroon troef.

En dít is om soos die Lions te speel, om die basiese vaardighede reg uit te voer en om meer drieë as hulle te druk.

Die Lions het nou die derde jaar na mekaar tot die halfeindstryd deurgedring en vir die derde  opeenvolgende seisoen wag ʼn moontlike eindstryd.

Kan die Stormers dit sê? Nee! En die Sharks? Nee. En die Bulls? Nee!

Dit volg nadat die Lions Saterdag op Ellispark met 40-23 oor die Jaguares gespoel het om aanstaande Saterdag, weer op Ellispark, in die halfeindronde teen die Waratahs te speel, wat die Highlanders met 30-23 in Sydney geklop het.

In die ander halfeindstryd speel die 2017-kampioen, die Crusaders, teen die Hurricanes.

Die Crusaders het die Sharks in Christchurch met 40-10 ore aangesit in ʼn wedstryd waarin daar opnuut gewys is hoe jy nié ʼn Nieu-Seelandse kan klop nie. Wanneer jou voorspelers nie oorheers nie en jy dit nie regkry om die teenstanders te boelie nie, kan jy maar daarvan vergeet om welslae te behaal.

Wanneer jy nie jou agterspelers reg benut nie, wanneer jy jou kanse verspeel, belangrike duikslae mis, die bal skeef in ʼn lynstaan gooi, strafskoppe in skrums afstaan en takties swak skop, kan jy maar daarvan vergeet om welslae te behaal. En dis waaraan die Sharks skuldig was.

Die Crusaders speel tuis teen die Hurricanes, wat die Chiefs Vrydag in Wellington met 32-31 geklop het. Geoordeel op dié seisoen se vertonings, op momentum, op ervaring om druk te hanteer en op vaardighede, behoort die Crusaders te seëvier.

Die Lions, wat die Waratahs behoort te klop, moet dan na Christchurch reis om die Crusaders te pak.

Hopelik sal die Lions se vertonings ʼn rigtingwyser vir die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, wees.

Ja, die Bokke het baie goed in die eerste twee toetse teen Engeland gevaar, juis omdat húlle dieselfde patroon as die Bokke volg.

Maar teen Nieu-Seeland? Aikôna!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

volla ·

Die Jaguares het nou 3 wedstryde na mekaar in SA verloor, dus geen groot prestasie deur die Lions nie. Ek dink hulle gaan sukkel teen die Waratahs en as hulle deurdring en hoogs waarskynlik teen die Crusaders speel, gaan hulle nog verder as die Sharks verloor.

Boesman ·

Ag ou volla, wat gee jou nou die “kennis” om sulke stellings te maak, al wat ek kan aflei is dat jy ten to one n groot ondersteuner vir een vd ander streekspanne is. Al is jy, ondersteun maar ten volle die SA span wat speel.

Danie ·

Hoe dit okal sy, die Lions speel hulle derde semifinaal in drie jaar. Suur druiwe is nie lekker nie.

Wesley ·

Hahaha ja volla jy is seker n Bulle ondersteuner. Groete ou maat.

Callie ·

Ou Wesley, al speel jy n honderd keer in semifinale, as jy hulle nie wen nie, het jy niks bereik nie. So tipies soos wat ons geraak het, al opgewonde oor ons amper dit gemaak het. Komaan manne, dis eerste of nerens. Kom by

LHS ·

Jy sien, dit is presies hier waar die grootste fout reeds in sport gemaak word, eerste of nerens, twak. Om met n span te speel wat dan nou bykans geen goed genoeg spelers het vir die nasionale span nie is dit mos n meer as uitsonderlik om 3 jaar na mekaar in die semi of finale te gespeel het. Wen en of rekords is n bonus. Om bo jou sogenaamde vermoe te presteer is baie meer uitsonderlik as n goeie span wat met n gemiddelde vertoning wen. Dan praat ons nie eers van die sogenaamde sterbelaaide nasionale spelers spanne wat gladnie kan presteer nie. Dit ou wolla en careltjie is pateties verby. Hoog tyd dat mense soos Erasmus wakker word en begin kyk na rugbyspelers, ware spelers met hart en passie en ophou skouperde kies vir die bokspan. Meer as die helfte van die Leeuspan hoort in die begin 15 tal van die bokke, indien nie, verklaar dan die uiters swak vertonings van veral die bulle en stormers in die super reeks met al hulle fantastiese nasionale spelers. Gaan kies n pak voorspelers uit al die ander provinsies en ek sal wed die Leeu pak sal hulle totaal oordonder, veral die vaste 5.

Callie ·

As die Lions die beker wen sal ek my siening verander LHS. Tot dan weereens niemand onthou oor 2 jaar hulle was 3 keer in eindstryd nie. Die wenners word onthou. Harde, ware feite. Vra die Bulls. Nou nog nie vergeet van Lions se Super 10 nie. Teen wie was dit nou weer.

Anoniem ·

@ Ag toggie Volla jy is seker suur omdat jou span nie die hoogtes bereik wat die LIONS al bereik het nie. Op die LIONS!!!!!

Spark Plug ·

Die probleem is…die leeus word weer opgeheumel nog voor hulle die final gespeel het. Dalk moet die leeus eers wen voor die kas afgestof word en die bekke gerek word. Ons weet hoe hulle die vorige jare uitmekaar geval het in die finals.

Frans C ·

Die feit dat slegs die Lions sover kon vorder wys hoe swak Suid Afrikaanse rugby werklik is.
As ‘n mens dus die Lions afkraak omdat hul nie die beker kan wen nie,dan moet jy onthou
dat die span wat jy ondersteun nog swakker as die Lions is,wat jy so lekker afkraak, en dus streng gesproke glad nie genoem moet word in die geselskap van goeie spanne.

Neels ·

Ag ja die arme bulle se ondersteuners . Verlede jaar was hulle verskoning dat die LIONS nie teen Nieu Zeeland se spanne gespeel het nie , dis hoekom hulle toe kastig deurgedring het . Hierdie jaar weet hulle nie wat om te se nie , nes in 2016 , nou praat hulle maar twak. Aanvaar nou maar dat die bulle laaste is , en probeer maar weer volgende jaar met julle jong span , want dit lyk vir my hulle bly jonk.

Gerhard ·

Ek is n Bul maar ondersteun enige SA span.Die Leeus het puik span en kan dit doen.Hulle moet net hulle verdediging reg kry,dit kort aandag.Sterkte.

Jack Russl ·

Lekker om ander spanne af te druk as jou span dit nie so ver kan maak nie. Sal eerder die ander span van jou land slegsê eerder om jou ondersteuning agter hom te sit

Henry ·

Soos Gerhard is ek ook ‘n Bul – eintlik ‘n Bloubul.
Die Bulle het oor donkie jare my soveel plesier verskaf, dat ek nooit ooit iets anders wil, of kan wees nie.
Netso weet ek dat my span, soos alle ander spanne ook deur maer jare strompel, wat weer aan die res en hul ondersteuners geleentheid bied om nuwe en onbekende hoogtes te bereik. Selfs die arme Visvoete kry so nou en dan ‘n los gelukkie.
Die ou vyand aan die verkeerde kant van die Jukskei die Leeus, soos hulle tans heet, maak ons harte intussen bly. Ons het darem een ou spannetjie wat oor die afgelope paar jare goeie rugby speel, terwyl die res van ons van een seisoen na die ander voort ploeter. Weliswaar behaal die Leeus nie soveel sukses as wat my Bulle span oor ‘n hele aantal jare behaal het nie. Maar darem…
Eendag sal die Bulle weer die Superrugby titel wen, soos ons dit reeds 3 keer vantevore gedoen het en dan kan almal weer van vooraf teem en ween dat die skytsregters aan die Bulle se kant is.
:-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.