Superrugby: Maak albei dié Bulls Bokke

RG Snyman – uithaler-slotspel (Foto: GB Jordaan)

In die ou dae, toe daar nog nasionale proewe gespeel is, is daar gesê dat dit die moeite werd is as net een nuwe diamant ontdek word.

Dink maar terug aan Loftus Versfeld in 2002, toe twee jongelinge Brent Russell en Jean de Villiers, binne ʼn paar minute die oog gevang het van die destydse Springbokafrigter Rudolf Straeuli.

Russell is kort ná die proewe vir die Springbokspan gekies vir die toets in Junie teen Wallis en hy het voortgegaan om ʼn verdere 22 keer vir die Bokke te speel. De Villiers, wat later ook Springbokkaptein geword het, het die eerste van sy toetse aan die einde van 2002 teen Frankryk in Marseille gespeel. Hy het voortgegaan en in 109 toetse gespeel.

Die aangewese Springbokafrigter, Rassie Erasmus, was Saterdag op Loftus toe die Bulls teen die Hurricanes in die Superreeks gespeel het.

Dit was die moeite werd, want twee spelers, Lood de Jager en RG Snyman, het van die beste vertonings deur ʼn slotpaar gelewer sedert jare gelede toe Victor Matfield en Bakkies Botha die septer geswaai het.

De Jager, 25, het reeds in 36 toetse gespeel, maar Snyman, 23, is nog toetsloos.

Lood de Jager, veteraan van 36 toetse – blink vir die Bulls (Foto GB Jordaan)

Ja, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en Franco Mostert is straks voor hulle in die ry, maar as De Jager en Snyman op hul vertonings voortbou, kan hulle nie uit die Springbokspan weggelaat word nie.

Hulle was die gom van die Bulls se pak wat die Hurricanes met 21-19 verslaan het. Hulle het hul primêre take eers in die lynstane uitgevoer, hulle was die stukrag agter die stutte en hulle het soos agterspelers rondgehardloop en gehanteer.

André Warner in ‘n Hurricanes-knyptang (Foto GB Jordaan)

Dis duidelik dat die Bulls se afrigter, John Mitchell, ʼn baie groot rol in hul vernuwingskuur speel. Hulle geniet dit om te hol, die bal na links en regs uit te gee, sonder om hul belangrikste take af te skeep.

♦  Op Ellispark het die Lions die Jaguares met 47-27 uitgestof. Ja, daar was foute, oorywerigheid, hier en daar swak hantering en soms planloosheid, maar dis wat gebeur as spanne teen die Argentyne speel.

Weer het die jong vleuel Aphiwe Dyantyi uitgetroon met sy vaart, swenke en afronding. Ja, hy moet nog behoorlik getoets word, maar as hy op sy spel voortbou kan daar vergeet word van Raymond Rhule, Courtnall Skosan en Dillyn Leyds. Hier is pure goud, soos die oud-radiokommentator Gehard Viviers altyd gesê het.

♦  In Sydney het die Stormers aan die vooraf-verwagtinge voldoen deur met 27-34 teen die Waratahs te verloor. Waar was die passie en vaardighede met nege Springbokke in die opdrafspan teen ʼn span wat hele paar groentjies ingespan het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bantam ·

Vergeet van die Etsebet en Du Toit , daar is beter spelers as hulle . Etsebet is net bewus van hoe groot sy arms lyk vir die res en Du Toit lyk soos n skoolkind in n groot span. Hy het nou n dan n lopie wat na iets lyk .

Dirkie ·

Eben speel op naam, ek kan nie onthou wanneer laas was Hy werklik goed nie. En ons kommentators maak hom mnr rugby.

Nouja ·

Stem saam Terloops, Marx moet werk aan sy ingooie by die lynstaan.

Adam ·

Lood de Jager is soos sy van.
..lood in sy voete RG stem ek is n slot vir die toekoms maar om te se hy beter as Eben en Stef is bietjie voor op die wa Hulle was dit nie laasjaar nie so wat maak hulle nou superman na 1 game

SjN ·

Mooi gespeel bulle, julle maak dit weer n plesier om aanskoulike rugby te kyk, dankie en sterkte vir die jaar

Frans C ·

Die ou siekte van rugby kommentators steek weer sy kop uit in die opskrif van hierdie berig.Spelers word na een of twee goeie vertonings in die Springbokspan ingeskryf om dan weereens plat te val en hul ondersteuners bekaf na nog ‘n neerlaag te laat.

‘n Mens sal eers kan sien of ‘n speler sy man op internasionale vlak teen ‘n verskeidenheid van spelers sy man kan staan voordat hy in die Springbokspan ingeskryf word.

Vergeet dus van ophemeling van ‘wêreldgehalte’ ens na een goeie wedstryd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.