Superrugby: neem tog die besluit

Daar is min dinge so steurend vir ʼn rugbyspeler soos onsekere werksekerheid.

Dis hoekom daar nie veel langer meer voete gesleep moet word oor die besluit watter twee Suid-Afrikaanse spanne hulle van aanstaande jaar af in die Superrugby-wildernis sal bevind nie.

Alles dui daarop dat dit die Southern Kings en Cheetahs sal wees. Neem dus die besluit, toets dit in die hof as dit daarop sou uitloop, maar moenie die spelers langer aan ʼn lyntjie hou nie.

As dié twee spanne hul Superstatus verloor, sal daar dringend met die grootbase van die Pro12-reeks in die Noordelike Halfrond  gesels word om dalk aanstaande jaar saam met spanne van Ierland (Munster, Leinster, Connacht en Ulster), Wallis (Cardiff Blues, Newport Gwent Dragons, Ospreys en Scarlets), Skotland (Glasgow Warriors en Edinburgh) en Italië (Zebre en Benetton) mee te ding.

Dit kan ʼn reddingsboei vir die Cheetahs en die Kings wees en die bloeding voortydig keer voordat te veel van hulle spelers ander weivelde soek.

Dis hoekom die naweek se  vertonings van die Cheetahs teen die Crusaders in Bloemfontein en die Kings teen die Rebels in Port Elizabeth só belangrik is.

♦  Die Cheetahs het reeds die meeste houe verduur sedert daar sprake is dat hul status onder hulle uitgepluk gaan word. Slae in hul laaste vier wedstryde teen die Sharks (30-35), Stormers (10-53), Chiefs (27-41) en Bulls (14-20). Nog net 10 ligapunte in sewe wedstryde, 18 drieë gedruk, maar 35 afgestaan. Is dit wat die rugbybase wil hê?

Hulle speel teen die Crusaders, die enigste onoorwonne span in die reeks. Húlle speel, dink, eet en leef soos die All Blacks, druk drieë by die dosyne (44) en nog ʼn drieëfees is op die tafel, hopelik ook van die Cheetahs se kant af.

♦  Die Kings toon ʼn oplewing, seker omdat die spelers die afgelope paar seisoene reeds soveel houe verduur het. Naelskraapse nederlae, maar goeie vertonings op toer teen die Force (41-46), Reds (34-47) en ʼn oorwinning oor die Waratahs (26-24). Tien ligapunte,  27 drieë gedruk en 37 afgestaan. Wie het dit vooraf van dié beleërde franchise voorspel?

Maar hulle kom teen die Rebels te staan, wat ook uit die laaste loopgraaf vir hul Superstatus veg. Die Rebels het twee weke gelede die Brumbies geklop en verlede Saterdag met 9 elk teen die Sharks gelykop gespeel. Onopwindend, maar tog doeltreffend.

♦  Die Stormers kom Vrydagoggend teen die Highlanders in Dunedin te staan. Ses van die een en ses van die ander. Die Highlanders het skitterende agterspelers soos Ben Smith, Patrick Osborne, Waisake Naholo, Malakai Fekitoa en Aaron Smith. Die Stormers spog met ʼn wenpak (of so het ons altans ook voor verlede Saterdag se wedstryd teen die Crusaders en die vorige week teen die Lions gedink). Verdedig die Stormers weer so swak soos in die eerste helfte teen Crusaders, wag daar slae … en moenie die skuld dan op die skeidsregter pak nie.

♦  Die Lions trap in Perth op ʼn paar  duwweltjies teen die Force. Op papier is daar net een wenner, maar die Force is ook met die rug  teen die muur, veg ook om oorlewing en wil tong na die Australiese Rugbyunie uitsteek.

♦  In Buenos Aires moet die Sharks vir hul blapse teen die Rebels vergoed wanneer hulle teen die Jaguares speel.  Hulle is behoorlik die kop gewas deur hul afrigter, Robert du Preez. Sal dit die gewenste uitwerking hê?

♦  En die Bulls? Geen slae nie, want hulle het ʼn loslootjie.

♦  Van die ander Australasiese spanne speel die Chiefs tuis teen die Sunwolves, die Reds teen die Waratahs en die Brumbies teen die Blues.

Die naweek se bepalings:

Vrydag:
09:35
: Highlanders vs Stormers (Dunedin)

Saterdag:
09:35:
Chiefs vs Sunwolves (Hamilton)
11:35: Reds vs Waratahs (Brisbane)
13:55: Force vs Lions (Perth)
17:15: Cheetahs vs Crusaders (Bloemfontein)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Moet ‘n mens nie dalk terugkeer na die ou indeling,voor die ontstaan van so baie Unies.
So was Noord Transvaal,Wes Transvaal en Oos Transvaal en sy wegbreekunie Suid – Oos Transvaal almal deel van van Transvaal.

Noord Transvaal het bv in 1938 weggebreek. Die hoofrede was dat van sy spelers redelik stief behandel is by spankeuses.Wes Transvaal is in 1920 gestig,en Oos Transvaal in 1947.In 1969 stig Suid -Oostransvaal van die unie af en staan bekend as die Poemas.

Daar is ongetwyfeld soveel talent in die unies dat met die regte benadering en sonder Provinsiale brille die streek ‘n span kan oplewer wat met die beste in die kompetisie behoort te kan meeding en dit te wen.

Trouens daar is soveel talent dat spelers wat nie die uitsoekgroep kan haal nie met vrug aan ander Unies gekontrakteer kan word.Sal graag wil hoor wat ander lesers daarvan dink,of gaan provinsiale voorkeure weereens so’n gedagte kelder.

Kader ·

As hulle wel toegelaat word in ‘n Europese reeks sal hulle al hul wedstryde daar moet speel. Daai ouens gaan definitief nie die trippie hiernatoe maak nie. So die ouens kan maar net sowel vir ‘n Europese klub gaan speel.

Frans C ·

Dit lyk nie of iemand gaan reageer op my kommentaar nie.Die huidige toedrag van sake is vir my onbevredigend.Die huidige Super 18 spanne plaaslik word gebou om sterk provinsiale spanne aangevul deur spelers uit die sg ‘feeder unions’.

Die die probleem is dat spelers van die kleiner Unies wat goed vaar dikwels deur die groter Unies gekontrakteer word en dan permanent daar bly.Wat dan ‘n wins vir die een is word ‘n verlies vir die ander.

Met ‘n sentrale streeksspan behoort die span nie aan enige Unie nie,maar aan alle bonde van
die streek. Spelers keer dus na afloop van die kompetisie terug na hul bonde.Dit gaan nie kontraktering uitskakel nie,maar tenminste kry een groot unie nie ‘n voordeel oor die ander nie soos tans die geval is.

Soortgelyke streeksspanne kan oor die land gestig word.

Nico K ·

Frans, die probleem met jou voorstel is dat ‘n klein spnnetjie kry geen geld nie. En hou minder geld hy kry hoe minder kan hy sy spelers betaal. Ek is ‘n Cheetah ondersteunder en erken dat die Cheetahs nie op die lang duur met die ander 4 grotes kan kompeteer nie. Maar die gevolg is dat die oomblik as hulle uit die super 12 reeks is beteken dit onmiddellik ‘n einde aan groot borgskappe, dus laer salarisse vir hul spelers, wat na ander spanne toe gaan. Dit is ‘n kringloop. En ongelukkig is daar baie ondersteuners van die Cheetahs landwyd. (Onderstueners van spanne soos Valke, Griekwas, Boland het almal ook ‘n groot span vir wie hulle ondersteun.) So dit is jammer dat die Cheetahs moet gaan. Dit los my sonder ‘n span vir wie ek kan ondersteun in die superreeks.

Nico K ·

Frans, my kommentaar het ek op jou eerste inset geskryf. Jou 2de inset was nog nie geplaas toe ek geskryf het nie. In teorie steun ek jou idee, maar in praktyk is die vraag met wie gaan die borg sy kontrak sluit. Sekerlik met die grootste unie. Ek het dit gesien in die begindae van die super 12 toe OP ‘n voedesrpan vir die Haaie was, en die Pumas ‘n voeder span vir die Bulle. Die goeie spelers wat van daardie unies getrek was, het volgende seisoen voltyds vir die groter span gespeel. Die groter span het die geld en gee hom ‘n groter kontrak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.