Superrugby: Nog ‘n droewige naweek vir SA spanne

Dit sê darem baie min van die krag en opmars van jou spanne in die Superrugbyreeks wanneer twee van jou (veronderstelde) top-spanne op dieselfde dag teen die Sunwolves en Jaguares streepsuiker kry.

Voeg daarby dat een van jou ander keurspanne sukkel om ʼn span wat gestroop is van sy huidige All Blacks (met 15 spelers boonop op die beseringslys) te verslaan.

Jou top-span was ook nie veel beter nie, want hy het nie baie oortuig nie teen Australië se derde beste span, wat in ʼn stadium met net 12 spelers moes klaarkom (een rooi kaart, een geel kaart en nog ʼn speler wat beseer was en nog nie vervang is nie), met 18 punte te klop.

Vier wedstryde gespeel, twee gewen, twee verloor, 117 punte aangeteken, 128 afgestaan.

Is daar dus nie rede vir swartgalligheid nie?

Die Stormers het ʼn droewige Saterdagoggend in Hongkong teen die Sunwolves ingelui met ʼn liederlike loesing van 26-23 teen die Sunwolves. Ai, waar is John Mitchell tog, waar is Eddie Jones, word daar nou in die Kaap gevra, want Robbie Fleck kom as afrigter nie die mas op nie. Dis nogal ironies: Dit is dieselfde ondersteuners en dieselfde Kaapse media wat slegs twee maande gelede (weer) van “vanjaar is die jaar” gepraat het.

Kom ons plaas dit in perspektief: Die Sunwolves het sedert 2016 nog net vyf van hul 41 wedstryde (ʼn wenpersentasie van slegs 12,1 persent) gewen en 35 keer verloor (ʼn verloorpersentasie van    85,36%).

Hulle het reeds 1 719 punte afgestaan. Kan ons dus enigsins positief oor die Stormers se vertoning wees, al ploeg die Japanners met ander lande se versoolde spelers wie se aandele baie styg?

♦ Die Sharks het die Chiefs op Kingspark in Durban met 28-24 geklop. Ja, dis ʼn Nieu-Seelandse span, en ja, die Sharks bly in die wedloop vir die Superreeks se uitspeelrondes. Maar steek die hande op:  wie het al voorheen gehoor van Sean Wainui, Pita Gus Sowakula, Luke Jacobson, Tyler Ardron, Angus Ta’avao, Karl Tu’inukuafe’, Samisoni Taukei’aho, Sam Prattley, Sosefo Kautai, Jesse Parete, Matt Matich, Luteru Laulala en Toni Pulu?

Vir diegene wat nie weet nie, hulle was in die Chiefs se span.

♦ Op Ellispark het die Lions die Brumbies met 42-24 geklop. Die Lions bly voor in die Suid-Afrikaanse afdeling, hulle is terug op wenpad, maar die motor kort ʼn versiening.

♦ En toe laat Saterdagaand/vroeg Sondagoggend in Buenos Aires, spoel die Jaguares met 54-24 oor die Bulls. Sewe drieë teenoor drie, vyf oorwinnings in ʼn ry vir die Argentyne.

Daar is geen kortpaadjies in rugby nie. Dit het Johan Ackermann jare geneem om die Lions se denk- en speelpatrone te verander.

Dis net verrassend dat die Argentyne dit so gou onder die knie gekry het.

♦ In die naweek se ander wedstryde het die Waratahs die Australiese verloordroogte van 40 wedstryde (722 dae) gebreek toe hulle uiteindelik weer ʼn Nieu-Seelandse span geklop het. Ja die Highlanders het met 14 spelers gespeel ná ʼn rooi kaart, maar die Waratahs was indrukwekkend in hul sege van 41-12. Die Crusaders het die Blues met 32-24 geklop en die Hurricanes het die Reds Vrydagoggend met  38-34 verslaan.

♦ Só lyk die puntestand in die Suid-Afrikaanse afdeling: Lions (36 punte ná 13 wedstryde), Jaguares (29 ná 12), Sharks (28 ná 12), Bulls (24 ná 12) en Stormers (23 ná 13).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

WillieN ·

Sien Robbie Fleck beweer Stormers het “Heat stroke” opgedoen in Hong Kong, het hy al iemand wat “heat stroke” opgedoen het gesien? Weet hy wat die simptone is? Miskien hitte uitputting maar beslis nie heat stroke nie, Mnr Fleck.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.