Superrugby: Nog ʼn naweek vol duwweltjies

Hoe klop jy ʼn Nieu-Seelandse rugbyspan in die Superreeks?

Jy  druk meer drieë as hulle, jy teken meer punte as hulle aan.

Vir ʼn rusbankkenner maak dit sin, maar dis darem nie só maklik nie.

Wat wel waar is, is as die Bulls, Stormers en Cheetahs dit nie die naweek teen hul Nieu-Seelandse teenstanders regkry nie (onderskeidelik teen die Crusaders, Hurricanes en Highlanders) wag daar weer slae op hulle.

Kom ons maak vinnig sommetjies: Die drie Nieu-Seelandse spanne wat die naweek met Suid-Afrika se drie kragte meet, het vanjaar saam reeds 977 punte aangeteken, 138 drieë gedruk en net 63 afgestaan. Vergelyk dit met hul drie Suid-Afrikaanse eweknieë:  686 punte aangeteken, net 67 drieë gedruk en 105 afgestaan.

Die oud-Springbokslot Hennie Bekker (ek kan nie juis onthou dat hy ʼn uitstaande verdediger met sy ellelange lyf was nie, maar só het die spel verander) het vandeesweek sy lot oor die Stormers se verdedigingspatroon bekla. Die Stormers, wat soos ʼn renperd afgesit en hul eerste ses wedstryde gewen het, het hul Nieu-Seelandse hulpafrigter, Paul Feeney, geloof vir sy bydrae. Dit was Paul Feeney voor en Paul Feeney agter.

En nou, ná drie agtereenvolgende nederlae teen die Lions,  Crusaders en Highlanders, hoekom so stil?

Die Stormers het in dié drie wedstryde 143 punte afgestaan, hulle het 21 drieë laat lek en dis hoekom Bekker slapelose nagte het.

Wat wel in die Stormers se guns kan tel wanneer hulle Vrydagoggend teen die Hurricanes speel, is dat dit in Wellington gereën het. Dis toestande waaraan die Stormers gewoond behoort te wees (al het dit vanjaar min in die Kaap gereën!).

Dit is veronderstel om ʼn gelykmaker in rugby te wees, maar hopelik het hulle die video (spanne is mos só lief om dit deesdae te doen) ontleed hoe die Hurricanes maalvleis in nat toestande van die Lions in verlede jaar se eindstryd gemaak het.

♦  Is Loftus Versfeld nog die Bulle se grootste bondgenoot?

Jare gelede, toe Thys Lourens en Naas Botha-hulle in die tweede helfte afdraande gespeel het, was dit ʼn nagmerrie-besoek vir besoekende spanne, veral wanneer die duisende toeskouers ook nog hulle deel gedoen het.

Ek onthou nog hoe die Bulls ʼn paar jaar gelede die einste Crusaders op Loftus gelooi het nadat Richard Bands Dan Carter disnis geloop het. Die Crusaders kon nie die pas volhou nie, hulle kon nie genoeg besit kry nie en hulle is onder druk gewurg.

Maar deesdae?

Al is die Crusaders sonder Sam Whitelock (geskors) en Kieran Read (gebreekte duim), glo ek dat hulle steeds genoeg skietgoed het. Die Bulls toon ʼn opwaartse kurwe en hulle speel tuis, maar as jy tot dusver net 19 drieë kon druk, hoe gaan hulle dit omswaai?

♦  Die Cheetahs se afrigter, Franco Smith, het vandeesweek opgemerk dat jy nie teen Nieu-Seelandse spanne moet agterraak nie. Hopelik hou hulle dit in gedagte wanneer hulle Vrydagaand in Bloemfontein teen die Highlanders speel, wat die Stormers verlede Saterdag verfomfaai het.

ʼn Paar weke gelede was die Cheetahs nog met 24-3 teen die Chiefs voor toe die stoom opgeraak het. Dus moet jy ook nie voorloop as jy nie die pas kan volhou nie.

Dalk verras die Cheetahs; maar wanneer kom die tandemuis?

♦  Die Lions en Sharks behoort sonder veel moeite die Rebels en Force uit te stof.  Die Aussie-spanne veg uit die laaste loopgraaf, hulle het nie diepte nie en hul spelbrekers speel oorsee. Hier en daar is daar ʼn Fidjiaan wat oor jou probeer stoomroller, maar as die Lions en Sharks die spel rek, is daar perde. Die Lions speel nog met rukke en stote, maar is steeds gerieflik in hul afdeling voor.

Dis ook makliker om die spelers se koppe reg te kry, vir die dag wanneer alles reg gaan verloop.

♦  Die Chiefs sal hul aanspraak teen die Reds verder verstewig en slae wag op die Sunwolves teen die Jaguares in Buenos Aires.

En die Waratahs teen die Blues?

Raai maar.

Naweek-bepalings –

Vrydag:
09:35: Hurricanes vs Stormers (Wellington)
19:00: Cheetahs vs Highlanders (Bloemfontein)

Saterdag:
07:00: Rebels vs Lions (Melbourne)
09:35: Chiefs vs Reds (Hamilton)
11:45: Waratahs vs Blues (Sydney)
15:05: Sharks vs Force (Durban)
17:15: Bulls vs Crusaders (Pretoria)
23:40: Jaguares vs Sunwolves (Buenos Aires)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Callie ·

Stormers, met Kolby wat die swakste verdediger in geskiedenis is gaan dit nie gou beter gaan. Siya Kolisi kry span oor slegs kwota redes.
Bulle selfde probleem as Kolbi met Alengo. Het swakste skrumskakels in superreeks met n afrigter wat in n droom wereld leef.
Cheetahs reeds negatief met wete hulle is uit Suprrugby
Lions, verneuk en speel nie kwotas soos ander spanne. Enigste rede hoekom hulle goed doen
Sa rugby is gedoem. Met transformasie syfers soos nou sal rugby doodloop. Die paviljoene wys dit reeds. Iemand moet erens wakker word. Polities korrek is om elke dag meer en meer te moet lieg om die waarheid te verdoesel

*Matthys ·

Ai ou Callie, jy se die Lions “verneuk” ?? As jy n ou suurgat is oor die Lions jou span kaf gedraf het en ook geen kennis het van die spel nie moet jy liewer stilbly.

Jack Russl ·

Ag Callie, daar is baie meer verkeerd met SA rugby as kwotas. Daar is baie wit spelers wat ook net so swak speel, net soos kwota spelers.

Ok, so die Lions verneuk met hulle kwota spelers. Het jy enige iets wat jou stelling staaf? Kwota riglyne van SARU vir SR en die hoeveelheid kwota spelers per span sover vir die jaar?

Terwyl jy daarmee besig is gaan kyk na die statistieke van die 2017 seisoen, die kwota spelers is onder die top SA spelers in die meeste van die afdelings.

Callie ·

Noem die top spelers asb. wat so hoog aangeslaan word. Wat niemand lyk my verstaan is dat dit nie net nou se kwotas is wat ons daar het nie. Dit is die laaste paar jaar sin. Die aanvaarbare vlak het totaal verlaag tot waar ons nou is..
Leeus se voorspelers oorheers, kyk wat het hulle met Stormers gedoen. Geen kwotas in pak.. Agterlyn is Janties die beste wat hul het met Mapoe en Skosaan altwee goed. Gaan kyk hoeveel keer word die 3 vervang in games. Net as Leeus gemaklik voor is.
Niemand kla oor spelers van kleur wat dit verdien nie. Kla oor standaard wat geval het. Beste wit spelers is nie eers meer in die land nie.
Hoekom is die paviljoene leeg? Help my.

Jack Russl ·

Jy het klaar ‘n paar genoem. Dan is daar nog Mapimpi, Blommetjies, Rhule, Banda, Mahuza en Ntsila. Beide Skosan, Rhule en Blommetjies het baie werk om nog te doen op verdedeging.

Spelers wat nog nie veel wedstryd tyd gekry het nie maar wat kan jy ook nog op die lys sit is Volminck, Gqoboka, Nche, Petersen (kort ook werk op verdedeging) en Bholi (verlede jaar goed gespeel, min kans die jaar).

Die paviljoene is leeg oor die standaard van rugby (SA en Aus). Niemand wil kyk as hulle weet daar is nie regtig kompetisie tussen twee spanne nie. Dit saam met SANZAAR se idiotiese SR strukture.

Ok, ek het nou jou vraag geantwoord. Kan jy nou my vrae ook antwoord

Callie ·

Van al die name wat jy noem is nie een van hulle onder die twee bestes in hul posisies in SA nie. Ek waarborg jou dalk nie onder eerste 3 in SA.
Jy se presies wat ek se oor die standaard van SA rugby. Hoekom is die standaard so laag. Die tyd wat die Bulls Super reeks gewen het, het hulle n paar spelers wat beste in wereld was gehad. Habana was een. Matfield, Bakkies Fourie du Preez. Daar was nie kwotas in daai span. Dit was ook die spelers wat die World cup gewen het.
Vandaar af met kwotas het alles agteruit gegaan. Soos jou name hierbo. Hulle is 2de beste in hul provinsiale spanne maar van hulle word bokke. Jou heel bestes afgerig deur die beste afrigter verseker jou nog nie van n wen. So waar is SA met 2de bestes
Weereens, die kwota stelsel was stadige gif. Nou is dit die einde.
Voorspelling, Bulls verloor ver teen Crusaders en Stormers nog erger in NZ.

Jack Russl ·

Ja, kwotas is sleg en ons standaarde is nie waar dit moet wees nie.

Ek wag nog vir jou inligting oor die kwota riglyne en hoe die spanne opmeet teen die riglyne, aangesien die Lions verneuk. Baseer dit op iets

Honibal ·

Pieter Kruger, jy moet beter navorsing doen voor jy skryf.

Richard Bands het Richie McCaw tydens ‘n stormlopie harpuis laat ruik.

Cater was nie naby Richard nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.