Superrugby: Rassie, vergeet van Suid en kyk Noord

Rassie Erasmus (Foto: Munsterrugby.ie)

ʼn Mens wonder in watter hoedanigheid Rassie Erasmus Saterdag op Kingspark die Superrugbywedstryd tussen die Sharks en Stormers bygewoon het.

As dit as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van afrigting was, sou hy vanoggend opnuut besef het dat daar harde werk wag, want die gehalte van spel wat veral in ʼn saai eerste helfte gelewer is, sou beslis nie ʼn regmerkie ontvang het nie.

As dit as Springbokafrigter was voor die komende toetse teen Wallis en Engeland, sou hy Sondagoggend ook die graanvlokkies eenkant toe geskuif het in ʼn poging om van die sooibrand ontslae te raak.

Die Sharks het met 24-17 gewen, maar is steeds negende op die algehele Superpuntelys met 18 punte ná nege wedstryde. Die Stormers is 12de met net 14 punte nadat die Jaguares, wat Sondagoggend in Canberra die Brumbies met 25-20 geklop het, bo hulle ingeskuif het. Hulle speel ook in die Suid-Afrikaanse afdeling.

Die Stormers is nou laaste, ja laaste, in die Suid-Afrikaanse afdeling en net voor die Reds, Blues en Sunwolves op die algehele puntelys.

Dis baie slegte leesstof.

In die Kaap word daar sekerlik steeds nagmerries gekry oor die besluit om die deur in die afrigter John Mitchell se gesig toe te klap en dat hy nou byna wondere op Loftus Versfeld verrig.

Geen omstrede voorvalle nie, geen spelersopstand nie, net ʼn algehele klemverskuiwing in denke en spelpatroon.

Watter afrigter sal die meeste van ons nou verkies? Robbie Fleck of Mitchell?

Boonop moes die Stormers verneem het dat hul voorkeurskrumskakel, Dewaldt Duvenhage, ná die Superreeks op pad is na die Italiaanse Pro14-klub, Benetton.

Ook dat Eben Etzebeth en Bongi Mbonambi nog langer op die beseringslys sal wees.

Jinne mense, Erasmus het 15 spelers van die Sharks na sy komende Springbok-beplanningsessie (Sondag) in Umhlanga uitgenooi en 12 Stormers was in Vanderbijlpark saamgetrek.

Hoeveel van hulle het Saterdag uitgeblink? Hoeveel van hulle verdien Springbokkleure?

Daarteenoor was daar slegs 11 Bulls en 10 Lions by hul onderskeie beplanningsessies.

Dít terwyl die Lions Vrydag die Waratahs (die eerste keer nog in die Superreeks) met 29-0 verwoes het en ʼn hele paar rekords laat spat het.

Die Bulls het hul derde opeenvolgende oorwinning behaal toe hulle Saterdag op Loftus Versfeld die negatiewe Rebels met 28-10 getrap het. Die Rebels het uit hul pad gegaan om die spel stadig te maak en die Bulls so te ontsenu, maar die Ligbloues het gehardloop, gehardloop en bly hardloop.

Ja, daar was foute, maar wie gee om as die span bly wen?

Die Lions (30 punte) is nou eerste op die algehele puntelys en die Bulls (19) agtste, hoewel hulle een wedstryd minder as die ander Suid-Afrikaanse spanne gespeel het.

Dit laat al hoe meer vrae ontstaan of Erasmus en sy afrigtingspan nie meer Noord sal moet kyk nie.

♦  In die naweek se ander wedstryde het die Crusaders die Sunwolves met 33-11 geklop, die Chiefs het die Reds met 36-12 verslaan en die Highlanders was met 34-16 oor die Blues baas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kantlyn keurder ·

Behalwe vir Esterhuizen en Pieter-Stef du Toit, hoort niemand anders vanuit Durban of Kaapstad in ‘n Springbok span nie.

LHS ·

Iets bly vir my pla rondom al hierdie aanstellings wat Erasmus so stilweg bekom het. Waar en wanneer was hierdie poste geadverteer en wanneer is onderhoude gevoer? Sorry maar iets rym nie lekker nie.

Wesley ·

Die kamtige beste spelers is volgens die klomp op supersport ook in die suide, met lieriese kommentaar oor die wondere van willemse, pstd, rob du preez en sy broers, ens. Maar speel die bulle en leeus is dit maar min kans gegee vir hul. Ja daar is altyd plek vir verbetering, maar gelukkig is dit net verbeter en nie n drastiese verskywing van spelers se spelpeil nodig nie. Kyk noord rassie, daai spelers is nou op hul beste, te veel son en see lyk my maak jou pap op die kus…

PLP ·

Stem saam met jou. Gauteng spelers is altyd maar min in oefengroepe. As dit die dag by wedstryd speel kom is dit maar soos elke keer die Bulls en Lions wat moet red. In die verlede en huidiglik seker ook, is dit die harder spelers van die noorde wat beter presteer.
Ons kan dit duidelik sien in die skrumwerk van die Noorde spanne. Rassie sal moet mooi kies en nie kwotas inbring nie – en met kwotas bedoel ek – 8 Stormer spelers, 5 Shark spelers 4 Lion spelers 2 Bulls spelers ens. Kies die manne wat dit rerig verdien. En kies Suid Afrikaans, die spelers wat oorsee speel kan ons niks ekstra bied nie

Stephen Namibia ·

Hoop Rassie het vir Kwagga raakgesien hierdie naweek. Yster soos gewoonlik. Maar te wit

PLP ·

Eerste ding wat ek doen as ek aanestel sou wees as Springbok afrigter is om n perskonferensie te hou en te se dat geen speler wat oorsee speel vir die Springbokspan gekies sal word nie.
Het ons nie op eie bodem 23 goeie spelers nie. Hoekom moet daar nou 2 de rangse spelers gekies word wat gewoonlik die helfde van die span volmaak. Die ouens oorsee speel nie dieselfde tipe rugby daar as hier nie. Moet nie n speler kies wat in Engeland speel net omdat hy die toestande daar ken nie. Gaan die Springbokke dan soos die engelse speel, nee hulle speel hulle eie tipe rugby, so daai speler wat in Engeland speel beteken niks vir die span nie. Daar word altyd gese ons kies so en so vir sy international ondervinding, bolls man. Al die Super spanne se spellers het internationale ondervinding. Hulle speel elke jaar in Australia, New Zeeland, Argentinia ens. Kies plaaslike spelers, vir hulle is dit dalk nog n trots om vir die Springbokke te speel

Josua Keys ·

Voorspelers: Van Rooyen, Marks, Dreyer, Slotte: Mostert en vlanke: Marnus Schoeman, Peter SteF Du toit. Agtste man: Kwagga smit( As Warren nog beseer is) Skrumskakel: Dillion Smit , Agterlyn: Jantjies, Vorster, Mapho, Aphiwe Dajanti (Linker vleuel) en Madosh Twambe (Regter vleuel) , Ruan Combrink Heelagter : Reserves: Kitshof, Andries Coetzee, Akker VD Merwe, Dan Du Preez, Robert Du Preez,
Bring enige ander span en bewys my verkeerd, gekies op skiels, vorm en beskikbaarheid net nie seker van Warren en Aphiwe Dajanti nie maar alby vleuls het die jaar al vir die leeus uitgedraf en ‘n paar driee gedruk, alby verdedig ook goed, ek voel net dat Akker nooit die lions moes verlaat het nie want daar het hy tot sy reg gekom en dink ek soos Dillon Smit op skrumskakel meer toegelaat word om hul eie spel te speel gaan daar nog groot deure vir hulle oop gaan. Ek is net bly Swys sien Dillon se talent raak maar moet hom ook geleentheid gee om sy normale spel te speel, hy raak eentonig as hy volgens opdrag speel, hy kan gappings maak om die skrum soos FaF maar is so ingestel op “opdrag Rugby” wat hy wel goed uitvoer maar hou sy normale talent vas, dit is huidiglik die problem by die leeus en daarom sukkel hulle om aan die gang te kom, die spelpartoon te voorspelbaar en ontbreek aan die verrassings element Faf was uitstekend daarmee. Die bokke gaan dit nodig kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.