Superrugby: Reds laat die Lions bloos

Andries Coetzee, omsingel deur Reds-verdedigers (Foto: Facebook Reds AFP)

Daar is sekere dinge in rugby wat jy nie kan verduidelik nie.

Hoe is dit moontlik dat jy die een Saterdag ʼn land se beste Superrugbyspan, die Waratahs,  met 29-0 kan klop net om die volgende Saterdag met 27-22 deur een van hul swakker spanne, die Reds, geskok te word?

Dit het Saterdag in Brisbane gebeur toe die Reds die Lions getroef het nadat die tuisspan met rustyd reeds met 24-0 voor was.

Ja, dalk het die Lions die Reds onderskat; of dalk het die humiditeit en reëntjie wat in die eerste helfte uitgesak het, die Lions se wedstrydplan beduiwel. Miskien was dit die Reds se opskietverdediging wat in die eerste helfte tot die Lions se ondergang bygedra het.

Maar die Lions het tam en planloos voorgekom, baie foute begaan en swak verdedig.

Ná rustyd het die Lions besluit om na Plan B oor te skakel en om met die voorspelers te speel, net soos Noord-Transvaal in die ou dae toe die afrigter, Buurman van Zyl, dit jag onder ʼn kombers genoem het.

Die Lions het die Reds voos gedryf en gemaal, fase ná fase afgedwing en dan eers wyer geslaan. Maar die verdediging het gehou, en die horlosie het die Lions ingehaal.

Boonop het die Reds se Filipo Daugunu ʼn strafdoel ná rustyd oorgeklits om die voorsprong te rek.

Uitblinkers? Hoeveel meer lofsange kan ʼn mens aan die Lions-haker Malcolm Marx uitdeel?

Hy het twee drieë gedruk, besit omgekeer of dit stadig vir die Reds gemaak. Wanneer hy op loop gegaan het, het hy elke keer oor die voordeellyn gekom.

Dan het die plaasvervanger-flank, Marnus Schoeman, ʼn groot impak gemaak en saam met Kwagga Smith verwoesting gesaai.

Ai, as daar net nog vyf minute langer speeltyd was, kon die Lions dalk gewen het.
Maar as is verbrande hout.

Die Lions het darem ʼn bonuspunt gekry wat vorentoe van baie waarde kan wees wanneer die uitspeelwedstryde plaasvind.

Nou lê die Nieu-Seelandse toer voor, met kragmetings met die Hurricanes en Highlanders wat wag.

As die Lions soos teen die Waratahs speel, is daar niks om oor bekommerd te wees nie.

Maar as hulle soos teen die Reds speel, sal daar ook deur die Kiwi’s streepsuiker uitgedeel word.

Puntemakers –
Reds (24) 27:
Drieë: JP Smith, Caleb Timu, Brandon Paenga-Amosa, Ruan Smith. Doelskoppe: Filipo  Daugunu (2). Strafdoel: Daugunu.
Lions (0) 22: Drieë: Malcolm Marx (2), Marnus Schoeman (2). Doelskop: Elton Jantjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Lions lyk sonder Warren Whiteley redelik planloos en sal op die vertoning nie die eindwedstryd haal nie.

pbotha ·

Sonder whiteley sal dit moeilik wees om eindstryd te haal..met Jantjies op 10 sal dit onmoontlik wees. Die stomme man het hom elke keer dood geskrik as hy die bal kry????

rollie ·

Is hulle besig om ‘n voorry van Rohaaan te maak? Lanklaas so ‘n dik senter gesien. LOL

CdV ·

Jantjies het weer bewys hy is hopeloos agter ‘n verloorpak. Asseblief Rassie, hou hom ver, baie ver, weg van die Springbokgroep?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.