Superrugby: Reds swaai rooi doek voor Lions

Rugbyafrigters gaan uit hul pad uit om kopspeletjies met hul teenstanders te speel, om met hul koppe te smokkel.

Eddie Jones doen dit al jare lank. Soms werk dit, soms nie.

Maar wanneer jy die dag teen een van die spanne van die geharde oud-All Black-slot Brad Thorne speel, kan jy maar weet dat dit fisiek sal wees, soos dit in Saterdag se Superrugbywedstryd tussen die Reds en Lions in Brisbane sal wees.

Die Reds het die afgelope paar seisoene ʼn metamorfose ondergaan, veral vanjaar onder Thorne.

Ek onthou nog hoe die vlugvoetige Tim Horan, Jason Little, Elton Flatley, Ben Tune en ʼn jong Quade Cooper en Will Genia kringe om hul teenstanders gehardloop het.

En nou? Gaan kyk maar na hul spanlys, gelaai met Suidsee-Eilanders, wat die vuur stook, soos onlangs toe hulle die Bulls met 20-14 geklop het en die Stormers al hul dae besorg het op Nuweland.

Die Lions sal hopelik nie in die strik trap nie. Daarvoor is Malcolm Marx, Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen, Kwagga Smith, Andries Ferreira en Franco Mostert gans te ervare.

Hulle sal nie die ander wang draai nie, maar ook nie halsoorkop in losskrums indons, gevaarlike duikslae uitvoer en blindelings oortree nie.

Boonop het Elton Jantjies, Rohan Janse van Rensburg, Madosh Tambwe, Ruan Combrinck en Andries Coetzee te veel skietgoed agterlangs, of so hoop ons altans.

Die Lions sal ook heeltemal uitgerus wees nadat hulle verlede week  vlugvoosheid gefnuik het deur eers minder as twee dae voor die kragmeting met die Waratahs in Sydney aan te kom.

Die uiteinde? ʼn Oorwinning van 29-0 en ʼn bykomende sewe dae om vlugvoosheid uit hul woordeskat te haal.

Spanne –
Reds
15 Aidan Toua, 14 Filipo Daugunu, 13 Chris Feauai-Sautia, 12 Samu Kerevi (kapt.), 11 Jordan Petaia, 10 Hamish Stewart, 9 Ben Lucas, 8 Caleb Timu, 7 George Smith, 6 Angus Scott-Young, 5 Kane Douglas, 4 Izack Rodda, 3 Taniela Tupou, 2 Brandon Paenga-Amosa, 1 Jean-Pierre Smith. Bank: 16 Alex Mafi, 17 Harry Hoopert, 18 Ruan Smith, 19 Harry Hockings, 20 Adam Korczyk, 21 Moses Sorovi, 22 Duncan Paia’aua, 23 Izaia Perese.

Lions
15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Harold Vorster, 12 Rohan Janse van Rensburg, 11 Madosh Tambwe, 10 Elton Jantjies, 9 Dillon Smit, 8 Hacjivah Dayimani, 7 Francois Mostert (kapt.), 6 Kwagga Smith, 5 Marvin Orie, 4 Andries Ferreira, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Robbie Coetzee, 17 Dylan Smith, 18 Johannes Jonker, 19 Lourens Erasmus, 20 Cyle Brink, 21 Marnus Schoeman, 22 Nicholas Groom, 13 Ashlon Davids.

Skeidsregter: Angus Gardner (Australië).
Assistentskeidsregters: Nic Berry en Damon Murphy (albei Australië).
TV-skeidsregter: Damien Mitchelmore (Australië).

Afskop: 07:05.

♦ In Saterdag se ander Superwedstryde speel die reeks se onderpresteerders, die Blues, in Auckland teen die Jaguares (09:35) en die Brumbies kom in Canberra teen die Crusaders (11:45) te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die Lions lyk sonder plan en is futloos in eerste helfte en eindpoging in 2de helfte te min en te laat.Jy kan nie skrum teen ‘n swaarder agttal met ‘n agsteman wat nie sy kop in skrum druk nie,maar soos ‘n meerkat uit ‘n gat loer om ye sien wat aangaan.

Lions kry wel ‘n punt maar sal moet drasties verbeter teen NZ-spanne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.