Stormers en Nuweland loop hand aan hand

Wanneer dit pap reën moet jy skep en dis hoekom die Stormers Vrydagmiddag op Nuweland hul droë seisoen moet omkeer wanneer hulle in die Superrugbyreeks teen die Rebels speel.

Nuweland was jare lank die Stormers se grootste bondgenoot, want hulle het 12 van hul laaste 13 wedstryde daar teen oorsese spanne gewen.

Vergeet van tierlantyntjies, vergeet van droompraatjies. Breek die Rebels voor af, dryf en maal hulle flenters, plaas hulle onder druk en hou die bal voor die voorspelers, veral as die Kaap boonop soos vroeër die week weer reën kry.

Soms moet jy lelik wen, soos die afrigters altyd sê, om sukses te behaal.

Die All Blacks doen dit, so ook Noord-Transvaal in die ou dae.

Die Rebels het verlede week op Loftus Versfeld teen die Bulls teleurgestel toe hulle eerder vertragingstaktiek gebruik het om die spel stadig te maak.

Daar was 24 onderbrekings en nou het Sanzaar (die beheerliggaam) hulle in ʼn epos oor die vingers getik.

Waar die Bulls byna met elke bal probeer hardloop het, moet die Stormers se voorspelers die Rebels eers behoorlik sag maak voordat die agterlyn aan die gang kom.

Dis hoekom die Stormers se skrumskakel, Dewaldt Duvenhage, ʼn baie groot rol moet speel. Hy moet die toutjies trek en die jong losskakel Damian Willemse beskerm,. En hy moet die Rebels se voorspelers laat omdraai.

Die Rebels het aan die begin van die seisoen soos ʼn resiesperd op loop gegaan, maar is in hul laaste drie wedstryde segeloos.

Hulle toer ook sleg, want hulle het sedert verlede seisoen nog net een uit tien wedstryde weg van die huis af gewen. Hulle kon die Stormers nog net een keer (in Melbourne) klop en smag steeds na ʼn oorwinning op Nuweland.

Die groot probleem is daar nie ʼn gevestigde leierskorps is nie, veral nie met die skrumskakel Will Genia steeds beseer nie.

Hulle skop boonop swak pale toe met ʼn slaagsyfer van slegs 62% teenoor die Stormers se 84%. Hulle staan ook meer strafskoppe per wedstryde af as die Stormers, hulle verdediging is swakker en hulle verbrou ook meer duikslae.

Statistieke wen nie wedstryde nie, maar wat is dan in die Rebels se guns?

Spanne –

Stormers
15 Dillyn Leyds, 14 Craig Barry, 13 EW Viljoen, 12 Damian de Allende, 11 JJ Engelbrecht, 10 Damian Willemse, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Kobus van Dyk, 6 Siya Kolisi (kapt.), 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Chris van Zyl, 3 Wilco Louw, 2 Ramone Samuels, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Scarra Ntubeni, 17 JC Janse van Rensburg, 18 Carlu Sadie, 19 Cobus Wiese, 20 Nizaam Carr, 21 Paul de Wet, 22 Sarel Marais, 23 Seabelo Senatla.

Rebels
15 Jack Maddocks, 14 Tom English, 13 Reece Hodge, 12 Billy Meakes, 11 Marika Koroibete, 10 Jack Debreczeni, 9 Michael Ruru, 8 Amanaki Mafi, 7 Angus Cottrell, 6 Lopeti Timani, 5 Adam Coleman (kapt.), 4 Matt Philip, 3 Jermaine Ainsley, 2 Anaru Rangi, 1 Tetera Faulkner. Bank: 16 Sama Malolo, 17 Fereti Sa’aga, 18 Sam Talakai, 19 Geoff Parling, 20 Colby Fainga’a, 21 Harrison Goddard, 22 Semisi Tupou, 23 Sefa Naivalu.

Skeidsregter: Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland).
Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen, Rasta Rasivhenge (albei SA).
Televisieskeidsregter: Christie du Preez (SA).
Afskop: 15:05.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert ·

Nie eens die streeptruie lewer enige kommentaar nie. Ons BULLE is saam met julle vanmiddag.

Lol ·

Dankie Pieter. Uiteindelik positiewe kommentaar oor ‘n span suid van die Vaalrivier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.