Superrugby: Reds trap geel Bulls se tjank af

Vergeet maar van die dae dat die Australiese spanne nie hul man in die Superrugbyreeks kan staan nie.

Dit het die Reds Saterdag in Brisbane gewys toe hulle Mamelodi Sundowns, ag ek bedoel die Bulls, met 20-14 getroef het.

Dit was die eerste keer sedert 2014 dat die Reds twee opeenvolgende oorwinnings  behaal het. Ná ‘n onstuimige 2017 waarin die Force hul Superstatus verloor het en Australiese rugby byna op sy knieë gedwing is, het die Aussies uit die as opgestaan en waai daar ‘n vars briesie. Dit is veral teweeg gebring deur die Rebels se afrigter (die Suid-Afrikaner Dave Wessels wat die Force afgerig het) en die hardekwas oud-All Black Brad Thorn, wat die Reds brei.

Die voorspelers staan hul man baie beter in die vaste fasette en daar is agterspelers wat die lyn kan breek. Dan is die verdediging ook opgeskerp.

En die Bulls?

Soos die afrigter, John Mitchell, tereg opmerk, sal dit ʼn hele paar seisoene neem om die wiel in Pretoria te herontdek en ʼn eiesoortige patroon te vestig. Jy kan die spelers se vaardighede in oefeninge verbeter, jy kan hul denkwyse verander deur hulle aan te moedig om met die bal te hardloop, maar jy kan nie besluite namens hulle op die veld neem nie.

Jy kan hulle nie beter laat skrum nie (ai, nadat die Lions die Bulls met hul rolmale verwoes het, het die Bulls se skrum nou ook in trurat oorgegaan). Mitchell kan die spelers nie keer om besit af te staan nie, hy kan niks daaraan doen as hulle 15 strafskoppe afstaan nie.

Maar dis hoekom hy aangestel is, om sake reg te stel.

Dalk moet ‘n mens nie te veel in die nederlaag lees nie, die Bulle het nog nooit goed oorsee teen die Reds gevaar nie. Hulle kon nog net een van hul laaste 12 wedstryde (die laaste keer was in 2004) in Brisbane wen … en dit lyk nie of dit gou sal verander nie.

Daar wag harde werk op Mitchell, veral voor die volgende twee kragmetings met die Chiefs en Crusaders. Jy kan dit straks nie binne twee weke regstel nie, maar die spelers sal gou moet inkoop, soos Handré Pollard teen die Reds, anders gaan daar baie blou Maandae op Loftus wees.

Puntemakers: Reds (10) 20: Drieë: Aiden Toua, Caleb Timu. Doelskoppe: James Tuttle (2). Strafdoele: Tuttle, Jono Lance.
Bulls (14) 14: Drieë:  André Warner, Warrick Gelant. Doelskoppe: Handré Pollard (2).

♦ In Wellington het die Hurricanes die Crusaders met 29-19 geklop en verlede keer se kampioen van ‘n bonuspunt weerhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Ek vra – is dit nie dalk nodig dat die onderste SA span in die Super xv ‘n relgasie wedstryd moet speel vir hulle plek volgende jaar.
Laasjaar het die Bulls op ‘n ou reputasie in die Super reeks gebly hoewel hulle vêr agter die Cheetas (en selfs die Kings op die “logs” was)

KIEWIET ·

Ek stem saam die Bulls word nog al die jare bevoordeel al is hulle die swakste span. Hulle bewys dit nou weer in die Super 15 reeks. Die Cheethas moes gebly het en die Bulls moes gegly het.

Alwyna ·

Jy praat deur jou nek. Bulle is die enigste SA span wat die beker al 3 KEER KON WEN!!!

Peet ·

Dis die belaglikste truie waarin die Bulle nog ooit gespeel het! Wie de hel het so-iets uitgedink en wie het dit goedgekeur?!

Wollie ·

Johan en Kiewiet kan jy sien weet nie veel van rugby nie en nog minder van die Log. Ek stem die Bulls het swaar gekry en ons almal weet hoekon Embrose Papier in die span is. Hy het geen idee wat om op die veld te doen nie on nog minder weet hy wat om met die bal te doen. Warick Galant het sy swakste wedsryd gehad.

Nico K ·

Ek moet darem vir Alwyna sê julle kan darem nou nie vir die volgende 50 jaar roem dat die Bulle so wonderlik is want hulle het (eens op ‘n tyd in die geskiedenis) 3 keer die Superreeks gewen nie.

VLOKKIE ·

hulle raak deurmekaar met geel truie! is dit vriend of vyand?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.