Superrugby-reeks: Groter is nie altyd beter nie

Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, gooi nog wal, maar dit sal een van die beste besluite in die belang van rugby wees as die Superreeks van 2021 af weer tot 14 spanne verklein word.

Daar was die afgelope paar dae ʼn gefladder in Sanzaar se duiwehok nadat daar Maandag uit Australië berig is dat die Superrugby-reeks van 2021 af straks van 15 tot 14 spanne teruggesny sal word.

Dit verdien ʼn klop op die skouer, want dit is wat die spelers verkies, dis wat die ondersteuners wil hê, en dis wat rugby sal bevorder: krag teen krag.

Vergeet maar van die Japanse Sunwolves, of om rugby na die Amerikas uit te brei; en vergeet van die insluiting van ʼn gekombineerde span van die Suidsee-eilande, (wat wel ʼn jammerte sal wees) en van die sogenaamde konferensiestelsel (Suid-Afrika en die Jaguares van Argentinië, Australië en Nieu-Seeland).

Laat elke span teen elke span oor ʼn tydperk van 22 weke teen mekaar speel, laat die bestes tot die uitspeelrondes deurdring en basta daarmee om Australië (en selfs Suid-Afrika) tegemoet te kom. As jou spanne nie goed genoeg is nie, verdien hulle mos nie om in die uitspeelrondes betrokke te wees nie?

Maar aikôna, sê Sanzaar se uitvoerende hoof, Andy Marinos, Dinsdagoggend in ʼn verklaring uit Australië: Dit is niks minder nie as blote spekulasie en daar is oor nog niks ooreengekom nie.

♦ Die Sunwolves het tot dusver baie min waarde tot die reeks gevoeg. In 45 wedstryde kon hulle nog net ses keer wen (ʼn wenpersentasie van slegs 13,33%). Hulle het 1 012 punte aangeteken, maar 1 962 afgestaan.

Die Sunwolves het in drie seisoene reeds drie afrigters gehad en aanstaande jaar neem Tony Brown die leisels by Jamie Joseph. Boonop is daar ʼn rits spelers van Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland en die Suidsee-eilande wat die ruggraat van die span vorm.

Om van Sunwolves se tuiswedstryde boonop in Singapoer te speel, was ook ʼn mislukking, want daar is eenvoudig nie genoeg belangstelling nie.

Maar dink net daaraan hoe Sanzaar met rooi gesigte by aanstaande jaar se Wêreldbeker-tafel in Tokio sal aansit as hulle die mat onder die Japanners wil uitpluk?

Daar is ook bespiegelinge dat nóg ’n Suid-Afrikaanse span in die stof kan byt. Dit sal die logiese uitvloeisel wees as die Sharks byvoorbeeld eerder in die Noordelike Halfrond se Pro14-reeks wil speel.

Maar voordat dit gebeur, sal die huiswerk behoorlik gedoen moet word. Kyk maar net hoe sukkel die Cheetahs en Southern Kings in die Pro14-reeks.

Die oorsese spanne ding in verskeie ander reekse mee wanneer hulle Pro14-loslootjies het, en jy kan mos nie van die Cheetahs en Kings verwag om oor ʼn tydperk van sowat nege maande net in een reeks (21 wedstryde) te speel nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

T. van Schalkwyk ·

Hoe frustrerend is dit dat Sanzaar nie genoeg breinkrag tussen die lot van hulle het om net eenvoudig die Super kompetisie in twee afdelings te verdeel nie. Geen span word uitgeskop nie, en die wenner van die B-afdeling kry aan die einde van die seisoen geleentheid om teen die verloorder van die A-groep uit te speel.
Leë pawiljoene gaan egter nie sommer gou gevul word nie. Daarvoor het rugby se duisende reëls en twyfelagtige beslissings gesorg.

Frans C ·

Die nare realiteit van sport is dat mense in die algemeen nie met verloorders geassosieer
wil word nie.Amper soos in die beroemde of was dit berugte referendum to ‘Ja’ met positief en ‘nee’ met negatief geassosieer is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.