Superrugby: SA drietal moet kanse leer gebruik

Die Jaguares, met hul vierde oorwinning in vier toerwedstryde, het nou klaarblyklik ook die resep aangeleer om die gereelde amper-wen in hul eerste drie seisoene van Superrugby baas te raak.

Saterdag sal dit vir die Bulls, wat Kaap toe reis om die Stormers ʼn tweede keer bloedneus te probeer gee, belangrik wees om nie amper te wen nie, maar eerder amper te verloor.

Die Bulls het verlede week met ʼn enkele punt teen die Highlanders verloor, hoewel hulle die beste span was en eintlik die kitaar geslaan het.

Maar ja, hulle hét verloor, 28-29, en die telbord is, soos die skeidsregter, altyd reg.

Groot klem word in die Kaap op die skrum gelê nadat hulle in die eerste ronde in dié faset deur die Bulls verras is. Die Bulls weet dit, en die skrums gaan ʼn yslike stryd wees.

Só ook die stryd om die losbal, in die middelveld en op die punte.

Die Jaguares is hierbo genoem. Hulle was eintlik maar net nog ʼn span wat nie volgens potensiaal presteer het nie. Nou, ná hierdie vier oorwinnings in Australasië, is hulle skielik tweede in die Suid-Afrikaanse afdeling in die uitspeelwedloop.

En skielik het die ander deelnemers se druk om ʼn uitspeelplek los te speel, sterk toegeneem. Die Bulls, Stormers en Sharks is binne vier ligapunte van mekaar.

Dit is natuurlik ʼn cliché, maar meer nog is dit die waarheid: Saterdagaand sal dit die span wees wat sy kanse gebruik het, wat sal feesvier.

Die Bulls besef hierdie waarheid des te meer ná verlede naweek se hartseer-verloor, en die Stormers het dit hopelik ook teen die Sharks geleer toe hulle in die laaste kwartier geklop is.

Saterdag se wedstryd is, amper soos in die ou dae, een waar ʼn verrassende sege soos op Loftus deur die Bulls, deur vergelding reggemaak moet word.

Die wedstryd skop 15:05 af.

♦  In Durban het die Sharks twee weke gelede, teen die einste Stormers, geleer om terug te veg. Hulle het danksy twee doele in die laaste 16 minute gewen.

Die Du Preez-span, soos hulle soms (dikwels sarkasties) genoem word, sal op die skrums konsentreer om, soos die Bulls verlede week, die fut uit die Highlanders te haal.

Iets skort by die Sharks, wat feitlik deurgaans nie heeltemal presteer soos ʼn mens verwag nie. Maar dit sal regkom. As dit Saterdag is, gaan die Highlanders klippe kou.

Soos in al drie die wedstryde waar die vier Suid-Afrikaanse spanne betrokke is, sal individuele vertonings belangrik wees met die eerste toets wat oor ʼn maand al agter die rug sal wees.

Dít, op sigself, kan vir taai rugby sorg.

Spanne –

Stormers vs Bulls, Nuweland

Stormers: 15 SP Marais, 14 Dillyn Leyds, 13 JJ Engelbrecht, 12 Damian de Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Damian Willemse, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Kobus van Dyk, 6 Siya Kolisi (kapt.), 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Chris van Zyl, 3 Wilco Louw, 2 Ramone Samuels, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Scarra Ntubeni, 17 JC Janse van Rensburg, 18 Frans Malherbe, 19 Cobus Wiese, 20 Nizaam Carr, 21 Paul de Wet, 22 Jean-Luc du Plessis, 23 Seabelo Senatla.
Bulls: 15 Warrick Gelant, 14 Johnny Kotze, 13 Jesse Kriel, 12 Burger Odendaal (kapt.), Divan Rossouw, 10 Handré Pollard, 9 André Warner, 8 Thembelani Bholi, 7 Jason Jenkins, 6 Marco van Staden, 5 Lodewyk de Jager, 4 RG Snyman, 3 Trevor Nyakane, 2 Adriaan Strauss, 1 Lizo Gqoboka. Bank: Jaco Visagie, Frans van Wyk, Conraad van Vuuren, Nic de Jager, Roelof Smit, Ivan van Zyl, Manie Libbok, Travis Ismaiel.

Afskop: 15:05

Skeidsregter: Glen Jackson (NS)
Assistentskeisregters: Egon Seconds, Rasta Rasivhenge (albei SA)
Televisieskeidsregter: Willie Vos (SA)

Sharks vs Highlanders, Kingspark

Sharks: 15 Curwin Bosch, 14 S’bu Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Makazole Mapimpi, 10 Robert du Preez, 9 Cameron Wright, 8 Daniel du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Philip van der Walt, 5 Ruan Botha (kapt.), 4 Tyler Paul, 3 Thomas du Toit, 2 Akker van der Merwe, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Franco Marais, 17 Juan Schoeman, 18 Ross Geldenhuys, 19 Stephan Lewies, 20 Jacques Vermeulen, 21 Louis Schreuder, 22 Marius Louw, 23 Lwazi Mvovo.
Highlanders: 15 Ben Smith (kapt.), 14 Waisake Naholo, 13 Rob Thompson, 12 Teihorangi Walden, 11 Patelesio Tomkinson, 10 Lima Sopoaga, 9 Aaron Smith, 8 Luke Whitelock, 7 Dillon Hunt, 6 Shannon Frizell, 5 Tom Franklin, 4 Alex Ainley, 3 Tyrel Lomax, 2 Liam Coltman, 1 Aki Seiuli. Bank: 16 Ash Dixon, 17 Daniel Lienert-Brown, 18 Kalolo Tuiloma, 19 Jackson Hemopo, 20 Elliot Dixon, 21 Kayne Hammington, 22 Josh Ioane, 23 Matt Faddes/Josh McKay.

Afskop: 17:15

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen (SA)
Assistentskeisregters: AJ Jacobs, Cwengile Jadezweni (SA)
Televisieskeidsregter: Christie du Preez (SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.