Superrugby: Sharks klop Stormers ondanks wolk van onsekerheid

Foto: Sharks/Facebook

Saterdagmiddag se aankondiging dat die Superreeks vanweë die Covid-19-virus onbepaald uitgestel is, het skokgolwe in rugbykringe in die Suidelike Halfrond veroorsaak, maar ondanks die onsekerheid oor die toekoms van die reeks, het die Sharks en Stormers op Kingspark steeds met die nodige durf, passie en ondernemingsgees gespeel, so al asof hulle nie bewus van die besluit was nie.

Die Sharks het met 24-14 gewen nadat hulle rustyd met 10-7 voor was. Die eindtelling vlei in ʼn mate die Stormers, want die Sharks het oorheers, baie verder met die bal gevorder, dit meer aangegee, en baie minder duikslae (53 teenoor 117) uitgevoer.

Dan het Curwin Bosch die toutjies met sy skopskoen getrek en was die agterste driehoek van Apheleli Fassi, Makazole Mapimpi en Sibusiso Nkosi die Stormers se ondergang.

Die Sharks het ook die stryd om die losbal oorheers, hulle het stewig in die skrums gestaan en hul lynstane sonder probleme gewen.

As die reeks sou voortgaan, is die Sharks beslis die span waarop Suid-Afrika sy hoop vestig. Maar ai, nou wag die onsekerheid.

Die kragmeting was ná net 15 sekondes reeds in die drukpot toe die Stormers-flank Johan du Toit (Pieter-Steph se jonger boetie), die Sharks se skrumskakel, Louis Schjoeder, se voete onder hom uitgelig toe hy van die afskop af vir ʼn hoë bal gespring het. Schroeder is met ʼn gholfkarretjie afgedra en Du Toit het ’n geelkaart gekry, wat maklik ʼn rooie kon wees as die wedstryd nog nie in sy babaskoene was nie. Was die skeidsregter, AJ Vos, en die TV-skeidsregter, Willie Vos, reg met hul besluit?

Schroeder, wat harsingskudding opgedoen het, is deur Sanele Nahambo vervang, wat die tweede keer vanjaar Schroeder se groot skoene volgestaan het.

Die Sharks (24 punte) het met hul oorwinning hul voorsprong op die puntelys bo die Stormers (17) tot sewe punte vergroot, maar niemand weet hoe lank en of die reeks vanjaar afgehandel sal word nie.

Nogtans moet ʼn mens die twee spanne op die skouer klop, dat hulle steeds hul bes onder moeilike omstandighede gelewer.

Sharks 24 (10): Drieë; Apheleli Fassi, Makazole Mapimpi. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch (3). Skepdoel: Bosch.

Stormers 14 (7): Drieë: Herschel Jantjies, Paul de Wet. Doelskoppe: Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MakersMark ·

Uitstekend Sharks. Julle het die province ontbloot op al hul swak plekke, skrums, verdediging, los en afbreekpunte, en posisionele spel. Mapimpi wys toe wie is die vinnigste tussen hom en Leyds (lates op die verdediging).

Frans ·

Daar was mi geen verskil tussen die oortreding waarvoor Kwagga Smith in die 2017 ‘n rooikaart ontvang het in die eindstryd teen die Crusaders en Havili inteenstelling met Louis Schreuder kon verder speel. Havili was omring deur spelers terwyl Louis Schreuder op sy eie was.

MakersMark ·

Waar is ou bokke nou om verskonings aan te bied….province ordentlik op hul yes gekry. Mooi Sharks gewys hoe ‘n groot wit haai ‘n briesie ignoreer en uiteindelik insult. Mapimpi is baas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.