Superrugby: Sharks laat die bal val

Bestendigheid, of eerder ʼn gebrek daaraan, is steeds ʼn remskoen vir die Suid-Afrikaanse spanne in die Superrugbyreeks.

ʼn Mens sou verwag het dat die kas vol Springbokkleure wat die afrigter, Rassie Erasmus, vir die toetse teen Wallis en Engeland uitgedeel het, dalk tot groter bestendigheid sou bydra en dat die spelers sou aangeleer het om druk beter te verwerk, maar nou besef jy ʼn mens kan nie binne ʼn maand wondere verwag nie.

Hoe verduidelik jy dit dat die Stormers die Sharks, wat 11 Springbokke in die opdrafspan gehad het, Saterdag met 27-16 op Nuweland kon klop? Ja, die Stormers het vanjaar selde volgens hul volle potensiaal gespeel en hulle wou Nuweland vir oulaas groet, maar hoekom nou eers?

Die paadjie na die kwarteindronde was geplavei vir die Sharks nadat die onvoorspelbare maar avontuurlustige Bulls vroeër op Loftus Versfeld die Jaguares met 43-34 uitgestof het.

Maar die Sharks kon nie eens ʼn bonuspunt verower nie. As hulle in hul laaste wedstryd in die opstelronde teen die Jaguares op Kingspark wen om die uitspeelrondes haal, is dit dus nou Christchurch toe vir hulle kwarteindstryd teen die Crusaders.

Hoe staan sake nou op die algehele puntelys vir die agt uitspeelplekke?  (Onthou dat die drie afdelingwenners  bo spanne met meer punte geplaas word).
1. Crusaders (58), 2. Waratahs (44), 3. Lions (41), 4, Hurricanes (50), 5, Chiefs (45), 6. Highlanders (40), 7, Jaguares (38), 8. Rebels (35), 9. Sharks (32).

As die Sharks dus die naweek die Jaguares klop en die Rebels verloor teen die Highlanders, is Robert du Preez-hulle se koppe deur, want die boonste sewe spanne is reeds seker van hul kwarteindronde-plekke. (Daar is ook nog die moontlikheid dat die Brumbies kan inglip as die Rebels en die Sharks verloor, en natuurlik is  ʼn skommeling moontlik van wie teen wie in die kwarteindronde sal speel.)

Die naweek se hoogtepunte was die vier drieë wat Ngani Laumape vir die Hurricanes teen die Blues gedruk het toe hulle met 42-24 gewen het. Die Hurricanes is seker van die vierde posisie op die puntelys en sal tuis speel teen die span speel wat vyfde eindig, wat na alle waarskynlik die Chiefs sal wees. Maar daarna is tuisveldvoordeel daarmee heen, want hulle sal dan weg in die halfeindstryd en moontlike eindstryd moet speel teen spanne wat minder ligapunte as hulle het.

Belaglik!

Die Waratahs het met hul wegholsege van 77-25 oor die Sunwolves bo die Lions ingeskuif en kan nou tweede bly, aangesien hulle die Brumbies pak en die Lions teen die Bulls speel.

Die Reds het die Rebels die naweek met  37-23 geklop, die Chiefs het die Brumbies met 24-19 verslaan en die Crusaders was met 45-22 teen die Highlanders baas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.