Superrugby: Sharks, leer ʼn lessie uit die Jaguares se boek

Dit gebeur nie aldag dat jy in rugby goud raakboor nie.

Soms neem dit jare, soms val dit in jou skoot ‒ en wanneer dít gebeur, moet jy vinnig skep.

Soos destyds toe Kitch Christie die Goue Leeus en Springbokke afgerig het. Net drie jaar lank, maar dit was genoeg om die wiel vinnig te laat draai. Hy was op die regte tyd op die regte plek, net soos die oud-Poemashaker Mario Ledesma, wat sedert die begin van die jaar die Argentynse Jaguares in die Superreeks afrig.

Ledesma, wat 84 toetse vir die Poemas gespeel het, het 179 keer vir Clermont (Frankryk) uitgedraf, 39 keer vir Castres en het ook 41 wedstryde vir Narbonne gespeel.  Hy het ná sy uittrede in 2011 vir Stade de Francais, Montpellier, die Waratahs en die Wallabies (hy was Michael Cheika en Stephen Larkham se regterhand) sy nering geleer voordat hy ná 18 jaar in die buiteland na sy geboorteland teruggekeer het.

Sy grootste taak was om ʼn ommekeer in die denkwyse, dissipline en spelpatroon van die Jaguares (en Argentynse rugby) teweeg te bring.

Hou by jul sterkpunte, skaaf aan jul swakplekke.

Die Jaguares het in hul eerste twee seisoene net 11 van hul 30 wedstryde gewen en daar het byna nie ʼn wedstryd verbygegaan sonder ʼn geel (of selfs ʼn rooi) kaart nie.

Nou het sake drasties verander, want die Jaguares het dié seisoen reeds sewe wedstryde gewen, waarvan vier op toer in Australië en Nieu-Seeland was (die Waratahs, Rebels, Blues en Chiefs).  Verlede Saterdagaand het hulle die Bulls met 54-24 afgeslag nadat hulle vroeër in die seisoen die Lions met 49-35 geklop het.

Selfvertroue, sê Ledesma, speel ʼn baie groot rol. Wanneer spelers met selfvertroue speel, in hul eie vermoë glo, die spelpatroon omarm en dissipline handhaaf, is geen berg te hoog om te bestyg nie.

Is dit nie dalk deel van die Sharks se probleem nie?

Tuis is hulle kookwater. Hulle het immers ses van hul sewe wedstryde op Kingspark gewen. Maar weg van die huis af? Hoekom kan vaardige spelers byna enige verdedigingspatroon oopruk, maar is daar steeds ʼn huiwerigheid?

Op papier behoort die Sharks saam met die Lions die vaandeldraers van Suid-Afrikaanse rugby te wees, maar hulle vorm is dán op, dán af. Wanneer hulle die dag kook, is hulle in staat om enige span te klop, maar die dag as die krag afgeskakel is, is dit nag.

Vrydagaand in Buenos Aires teen die Jaguares kan die Sharks se seisoen omgedraai word. Verloor hulle, kan die Jaguares hulle vir ʼn plek in die uitspeelrondes uitskuif.

Wen hulle, is die saadjie vir die res van die seisoen geplant.

Die spanne ‒
Jaguares
15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matias Orlando, 12 Jeronimo de la Fuente, 11 Ramiro Moyano, 10 Nicolas Sanchez, 9 Gonzalo Bertranou, 8 Javier Ortega Desio, 7 Marcos Kremer, 6 Tomas Lezana, 5 Tomas Lavanini, 4 Guido Petti Pagadizaval, 3 Nahuel Tetaz Chaparro, 2 Agustin Creevy, 1 Santiago Garcia Botta. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Javier Manuel, 18 Santiago Medrano, 19 Matias Alemanno, 20 Juan Manuel Leguizamon, 21 Martin Landajo, 22 Bautista Ezcurra, 23 Juan Cruz Mallia.

Sharks
15 Curwin Bosch, 14 Sibusiso Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Lwazi Mvovo, 10 Robert du Preez, 9 Louis Schreuder, 8 Daniel du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Philip van der Walt, 5 Ruan Botha (kaptein), 4 Tyler Paul, 3 Thomas du Toit, 2 Akker van der Merwe, 1 Beast Mtawarira.Bank: 16 Franco Marais, 17 Juan Schoeman, 18 Ross Geldenhuys, 19 Stephan Lewies, 20 Jacques Vermeulen, 21 Cameron Wright, 22 Marius Louw, 23 Makazole Mapimpi.

Afskop: 21:40

Skeidsregter: Paul Williams (Nieu-Seeland).

Assistentskeidsregters: Damian Schneider, Jose Covasi.

TV-skeidsregter: Santiago Borsani.

In Australasië

Vroeg Vrydagoggend (09:35) in Christchurch gaan daar geen genade gegee of gevra word wanneer die keur van Nieu-Seelandse rugby, die Crusaders en Hurricanes, mekaar pak nie.

Op die spel is die eerste plek op die Superrugbypuntelys. Kyk maar gerus hoe rugby gespeel moet word.

Net daarna (11:45) pak die Rebels die Sunwolves in Melbourne. Was die Stormers werklik so swak soos in verlede Saterdag se nederlaag teen die Sunwolves, of is die afrigter, Jamie Joseph, besig om goud in Japanse rugby te ontgin?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

‘n Mens moet nie die invloed wat Graham Henry op Argentina se rugby uitgeoefen het onderskat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.