Superrugby: Sharks, Lions wen albei maar oortuig nie

Die Sharks en die Lions het Saterdagmiddag, nie heeltemal oortuigend nie, uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt vergoed vir die skande van die Stormers wat vroeër die dag  in Hongkong teen die Sunwolves verloor het.

Die Sharks het op Kingspark met 28-24 teen die uitgedunde Chiefs, sonder 20 van hul voorste spelers, gewen en op Ellispark het die Lions, ná ʼn agterstand van 21-24, nog 21 punte by hul totaal gevoeg nadat die Brumbies 20 minute voor die einde ʼn rooi kaart gekry het. Die Lions het met 42-24 gewen.

♦ Die Sharks het nie heeltemal oortuig nie. Hul pak was in beheer en hulle het besit oorheers, maar het soos so dikwels op Kingspark, waar die toestande onnodiglik te veel van die blaam daarvoor kry, feitlik 30 hanteerfoute gemaak.

Te oordeel nahierdie wedstryd sal nie een van die twee spanne hond haaraf maak as hulle tot die uitspeelrondes sou deurdring nie.

Die oorwinning het die Sharks na die sewende posisie op die gesamentlik punteleer laat opskuif, en met die Bulls se wedstryd teen die Jaguares  wat later sou volg, na die sewende plek op die gesamentlike punteleer laat opskuif

Die Sharks se agterlyn was weens die talle hanteerfoute nie ʼn faktor op die telbord  nie, maar het met hul vinnige spel die besoekers, ietwat leierloos en sonder wedstrydplan, op die agtervoet gehou.

Die benadering om agterlangs vinnig te speel, is grootliks te danke aan die spel van die Sharks se skrumskakel Louis Schreuder, wat agter sy wenskrum aan sy agterlyn vele onbenutte hardloopkanse aan die snellers gegee het.

Benewens Schreuder en die voorry wat uit Beast Mtawarira, Akker van der Merwe en Thomas du Toit bestaan het, was die Du Preez-tweeling Dan en Jean-Luc kookwater, ondanks hul voortgesette hanteringsleemtes.

Agterlangs was S’bu Nkosi en Lukhanyo Am altyd gevaarlik.

Puntemakers ‒

Sharks – Drieë: Rob du Preez, Lwazi Mvovo, Cameron Wright. Doelskoppe: Du Preez (2). Strafdoele: Du Preez (3).
Chiefs – Drieë: Tyler Paul, Charlie Ngatai, Solomon Alaimalo. Doelskoppe: Marty McKenzie (3). Strafdoel: McKenzie.

♦ Die Lions het swaar geleef en die afstuur van die Brumbies se  Rory Arnold ná ʼn gevaarlike duikslag op Elton Jantjies, en twee minute later ʼn geelkaart aan Sam Carter, het ʼn groot rol in die uitslag gespeel.

Die Lions het in die laaste 18 minute drie keer gaan druk en die 21 punte het die agterstand van 21-24 in ʼn oorwinning van 42-24. Dit was die Brumbies se vyfde opeenvolgende neerlaag terwyl die Lions na drie verloorwedstryde oorsee nou weer op die wenpad is.

Dit is wel vyf punte op die punteleer, maar Swys de Bruin-hulle sal weet die oorwinning is nie goed genoeg vir die pad vorentoe nie ‒ en veral nie as hulle die uitspeelwedstryde wil wen nie.

Daarvoor het die agterlyn te dikwels skuins oor die veld gespeel en was die hanteerwerk nie waffers nie ‒ en voorlangs sal die Lions meer gesag moet afdwing en minder omkeerbesit afstaan.

Dit was egter ʼn wedstryd waarin Swys de Bruin heelwat van sy spelers ruskans gegee het. Tog kan dit nie as te veel van ʼn verskoning dien vir ʼn span wat hom die afgelope jare daarop roem dat hulle feitlik naatloos spelers kan verander sonder om agteruit te boer nie.

Puntemakers ‒

Lions (21) 42: Drieë: Rohan Janse van Rensburg, Robbie Coetzee (2), Marnus Schoeman, Shaun Reynolds, Lourens Erasmus. Doelskoppe: Elton Jantjies (6).
Brumbies (17) 24: Drieë: Tom Banks (2), Tevita Kuridrani. Doelskoppe: Christian Lealifano (3). Strafdoel: Lealifano.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

Soos met die Stormers val die sharks terug na stampkar rugby om tyd verby te kry omrede hulle nie oor die vermoeens beskik om hardloop rugby te speel nie. Tog sit hulle met begaafde agterlynspelers? En die Leeus, jammer Swys, maar die rugby wat jy by die Bulle geleer afrig het en dit wat Ackerman met die Leeus reggekry het tot laasjaar is twee verskillende pole. Wat skokkend is om te sien is die feit dat die opwindende wen rugby wat die Leeus tot laasjaar gelewer het, binne enkele maande by die agterdeur uit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.